Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Liewe here hoor hierdie kerk dan nie’

‘Ek skryf omdat ek woedend is,” is ’n reël uit Antjie Krog se “visioen van ’n lessenaar” (uit Otters in bronslaai) en sy volg dit op met “visioen van ’n kerk” waarin dié reël verskyn: “liewe here hoor hierdie kerk dan nie”.

Ek skryf hier met soortgelyke woede na aanleiding van die NG Kerk se omkeerbesluit oor gays by ’n buitengewone sinode. En ek voel daaroor soos die sportskrywer Louis de Villiers voel oor die Springbokke se skoknederlaag teen Italië. Onder die opskrif “Mama bleddie mia!” kasty hy in Sondag se Rapport die fiasko, die ­affêre, die grenslose rigtingloosheid.

En hy voeg by die fiktiewe Titus 10:10-graffiti van die 1990’s toe alles in ons land donker was: “God weet, só kan dit nie aangaan nie.”

Ek het mos gesê ek is woedend. Oor hoe die kerk waarvoor ek lief is en waarin ek nie ’n buitestander wil wees nie, oor baie jare oor die gay-saak en baie ander dinge voete sleep.

En so gereeld met “biddende hernude luister na God se stem”; met allerlei voetwerk oor regsbeginsels en prosedures; en deur beweerde “verwarring by die broers” (en nou ook ’n handjievol susters) versuim om waarlik ’n omarmende kerk van geborgenheid in hierdie wêreld te wees.

Soos ek dit lank gelede as besoeker by die NGK se algemene sinode in 1982 in Pretoria beleef het. Toe was daar oor ’n bepaalde saak ook “verwarring by die broers” wat gemaak het dat ’n vroeëre besluit omgekeer is.

Toe het ek, met woede en sekerlik ook venyn, daar in die sinodesaal, ’n vers (“Prosedure”) geskryf (hier effens aangepas):

“Die Sinode was in sitting / toe iemand hierdie nota bring: / Hier buite wag ’n man / wat sê hy kom van Nasaret. / Hy vra of hy / ook ’n spreekbeurt het.

“O God is Jesus hier / skrik / vra / die Breë Moderatuur . . . / Broers kom ons volg die reël: /Die Regskommissie sal besluit / oor die man wat buite staan / se lidmaatskap en geldigheid.”

Nou weer is ek tegelyk woedend, onthuts, bedroef en verslae oor die brief wat ds. Dirkie van der Spuy, ondervoorsitter van die NGK se algemene sinode, aan sy gemeente (Moreletapark) oor die omkeerbesluit geskryf het:

“Dit was weer vir my wonderlik om te sien hoe die Here self kom oorneem het en ’n ­wonderwerk in Sy kerk kom doen het . . . en Moreletapark se besluit gebruik het om ’n ­keerpunt te bring.”

Dit is die onkritiese jubeling, selfdienende ­applous, die vaste sekerheid en roekelose toe­eiening van God in dié brief wat die verstand
te bowe gaan – die mensewoorde wat so selftevrede en al biddend God se Woord en wil geword het.

Daar is dus nie verbasing oor die reaksie van dr. James Kirkpatrick van die NG gemeente Stellastraat, Pretoria, oor die omkeerbesluit nie: “Ek was nog nooit so moeg en ontnugter ná ’n wandeling deur die Woord nie.”

“liewe here hoor hierdie kerk dan nie”

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Kerk  |  Godsdiens  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.