Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Liewe Marleen, dalk kan ek een ander mens red
Charles Smith

Liewe Marleen

Noudat ons jou môre finaal gaan groet, kan ek sê wat ek moes gesê het toe jy met ons was: Ek is só jammer ek het jou gefaal.

Ek het Vrydag verby die klipkerk in Kroonstad gery waar ons 21 jaar gelede getroud is. En ’n stralende bruid van destyds onthou. Min wetende jy sou Vrydag ’n paar uur later eensaam sterf.

Nadat Mia Sondag met die slegte nuus gebel het, met pa Jorrie en ma Santjie by haar, het baie dinge ingetuimel en lood geword.

Ek het Maandag ná ’n lang reis in Kroonstad ingery met die son wat bloedrooi sak. Die volmaan het groot oor jou geliefde tuisdorp opgekom en oor die mielielande en veld geskyn.

Ek is dankbaar jy kon Dinsdag, op jou verjaardag, tyd saam met die kinders deurbring. Jy het quiches en wortelkoekies gebring, vertel Mia. Veral is ek bly Alwyn kon oor skool en krieket gesels. Hy sou seker van sy lammers op Zeekoegat vertel het, waarheen ons sou ry.

Ons almal wat vir jou lief was, was besig om die laslap-kombers van jou laaste dae te maak.

Maar jy kon self nie iets eet nie.

Ons almal wat vir jou lief was, was besig om die laslap-kombers van jou laaste dae te maak.

Jy wou so graag in Amerika ’n kwilt hê, soos die een wat Mia by jou gekry het. Hy trek plek-plek los, maar sy klou aan hom. Mia het Vrydagaand met jou gesels. Sy sê jy het goed geklink. Jy wou ’n nuwe visresep probeer. Dalk het jy, want daar was ’n gebreekte bord in die kombuis.

Almal vertel van die gesprekke met jou op jou verjaardag. Dit het nie goed gegaan nie. Maar jy het gepraat. Dit is die belangrikste.

Ek besef nou, met die herbou van ’n skrikwek­kende laaste paar jaar, watter invloed die aanval op ouma Raaitjie van Vredefort op jou gehad het. Dit was traumaties. En haar dood later net so erg. Dit saam met ’n sluimerende nageboorte-depressie en die verlies aan jou onafhanklikheid in Amerika (jou werk by Landbouweekblad was so belangrik soos jou geloof) het dalk die bipolêre gemoedstoestand laat inskop. Toe ons later hulp kry, was dit amper te laat.

Nou sit ons verdwaas. Maar ons onthou die Marleen van die eerste 40 jaar. Die wonderlike ma, uitsonderlike joernalis, goeie kok en iemand wat alles vir almal sou doen.

Jou dood is pynlik. Ons was mense wat niks vir jou kon doen nie. Almal het probeer. Ek is kwaad vir myself, maar ook vir ’n sielkunde-bedryf wat jou gefaal het, natuurlik ook omdat jy net te slim was vir goeie raad en hulp.

Dit is hoekom ek die Marleen Smith-projek op sosiale media begin om veral vroue wat met depressie, bipolêre gemoedstoestand, angs en alkoholisme worstel, te help. As hulle in daardie donker hoek vasgekeer is waar jy Vrydagaand was toe jy geval het en dalk besig was om te verkluim, moet een nommer, een mens, ’n gedagte, die kreet wees wat kan help.

Liewe Marleen, ek kon jou nie red nie. Maar dalk red ek een vrou. Jou lewe en tragiese dood sal só nie vergeefs wees nie.

Meer oor:  Charles Smith  |  Dood  |  Alkoholisme  |  Depressie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.