Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Liewe Panyaza, welgedaan, ek's aan jou kant!'

Hy is haar held en wat hy by Hoërskool Overvaal regkry, is niks minder as legendaries nie, skryf Marida Fitzpatrick in ’n ope brief aan Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys. Foto: Felix Dlangamandla

Liewe Panyaza

Jy ken my nie, maar ek is ’n groot aanhanger van jou werk. Eers wil ek jou gelukwens met wat jy by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging reggekry het. Dit was meesterlik, Panyaza, min mense gaan jou dit kan nadoen. ’n Dorp brand, mense bestook mekaar met klippe en petrolbomme, kinders word aan geweld blootgestel en almal dink dis die handewerk van Afrikaanse rassiste.

Soos hulle in jou gunstelingtaal sê (dis ook my gunsteling, btw): Well bloody done!

As enigiemand anders die LUR vir onderwys was, sou daardie persoon in die moeilikheid gewees het, Panyaza, maar nie jy nie, nie jy nie. Pleks daarvan dat mense vra: “Maar hoekom het die Gautengse departement van onderwys nie genoeg skole gebou nie?” vra mense nou: “Hoekom wil hierdie Afrikaanse rassiste nie swart kinders in hul skole hê nie?”

As skoolbou ’n vak was, sou jy 24% gekry het.

En weet jy wat is werklik geniaal hiervan? Daar bestaan nie eens regtig iets soos ’n wit Afrikaanse skool nie! Om die waarheid te sê, die meeste Afrikaanse skole is juis nié “wit” skole nie. Ek en jy weet dit, Panyaza, maar nie die gemiddelde Suid-Afrikaner nie. En nou is hulle, danksy jou meestertegnieke, oortuig daarvan dat daar derduisende leliewit Afrikaanse skole is wat weier om hul hekke vir swart kinders oop te maak. Ek lê hier soos ek lag, Panyaza! Hoe het jy daai ene reggekry? Jy’s ’n legende!

Betogers dans langs brandende voorwerpe buite die Hoërskool Overvaal in Vereeniging. Foto: Felix Dlangamandla

Maar ai, ek sien nou daar is mense wat lelik is met jou. Jy moet jou nie aan hulle steur nie, hoor? Blok hulle net uit.

Die irriterendstes is dié wat aanhou met “die Grondwet” en “elke kind se basiese reg op moedertaalonderrig”. Oh phuleaze, ek rol my oë so hard, dit is só 1994! En almal wat so aangaan oor enkelmedium- Afrikaanse skole wat net ’n skamele 5% van al die skole in die land uitmaak? Dit is 5% te veel, Panyaza, dis wat ek sê! So what as Afrikaans 13% van Suid-Afrikaners se eerste taal is, who cares? Bring daai 5% af na 0%! Roei Afrikaanse skole uit!

Jou vyande noem jou ’n “ideologiese heethoof” en sê jy misbruik skole soos die Hoërskool Overvaal om ’n politieke en ideologiese stryd te voer. Mense sê dis jóú skuld dat die arme kinders moet toekyk hoe die strate om hul skool brand. Maar dis nie jou skuld nie, Panyaza. Dis Afrikaans se skuld. As daardie skool net nie Afrikaans was nie en as Afrikaanse kinders net nie bestaan het nie, dan het dit nie gebeur nie.

Hulle kla omdat die betogers skree “skiet hulle”. Wel booohooo! Ons sal hul #whitetears drink, nè, Panyaza?

Ek weet ook jy kry nou baie kritiek omdat jy nie die laaste tien jaar genoeg skole gebou het nie. Jy moes glo iets soos 350 nuwe skole gebou het en het toe net by 85 uitgekom. As skoolbou dus ’n vak was, sou jy 24% gekry het. Wahaaaaaaa! Dis net ’n grappie, my vriend, moenie kwaad word vir my nie. Onthou, ek is aan jou kant. Niemand weet in elk geval hoe moeilik dit is om ’n skool te bou nie! Veral nie as jy 75 000 Twitter- followers het nie. Ek meen, om vir soveel mense te twiet is basies ’n voltydse job. En dan is daar nog mediakonferensies en lintknipseremonies. Hulle verwag te veel van jou, Panyaza, regtig, hulle buit jou uit.

Die vlak van ondankbaarheid verbyster my. Want ek sien dis nie net die Afrikaanse ouers wat woedend is vir jou nie. ’n Mamma van ’n township wat haarself “one gatvol mama” noem, het in ’n ope brief aan jou geskryf sy verstaan nie waarom opvoeding in 2018 steeds ’n voorreg vir ’n swart kind moet wees nie. Pleks daarvan dat jy die skole in die townships regmaak en swart kinders die kans gee om in hul moedertaal te leer, baklei jy om die township se kinders in skole in te dwing wat baie ver is van hul huise, skryf sy. Sy is gatvol daarvoor dat jy haar kinders as “pionne in jou speletjies” gebruik, skryf sy. “ ’n Ongeletterde burgery dien jou doelwitte baie goed.” Sjoe Panyaza, ek weet nie waar kom die mense daaraan nie.

En dan is daar die lastige regters en howe ook. Ek hoor regter Bill Prinsloo het nou beslis dis nonsens dat Overvaal moet plek maak vir die 55 Engelse kinders terwyl daar twee Engelse skole in die omgewing is wat inderdaad plek het vir die kinders. Ek is jammer oor hierdie terugslag, Panyaza, ek voel vir jou. Maar onthou net, jy’s nie alleen nie. Jou groot leier, pres. Jacob Zuma, is konstant in die moeilikheid by die regters, en verloor hy slaap daaroor? Nee. So hoekom moet jy?

Marida Fitzpatrick

Maar Panyaza, moenie bekommer nie, jy het baie ondersteuners ook. Ek sien jou fans betoog nou kliphard daar by Overvaal en steek bande en goed in die strate aan die brand. Nou is die ouers en kinders verskriklik ontsteld. Hulle kla omdat die betogers skree “skiet hulle”. Wel booohooo! Ons sal hul #whitetears drink, nè, Panyaza?

Jy, aan die ander kant, jou lewe is wérklik in gevaar, lees ek. Ek is net bly jy is nie daar by Overvaal nie. Bly jy en jou lyfwag asseblief weg daar. Laat die proletariaat dit onder hulself uitbaklei.

Basies wil ek net sê: Ek is aan jou kant, Panyaza. Moenie dat die regters of die howe of die lawwe ou Grondwet jou onderkry nie. Daar was anyway ’n spul Afrikaners wat daaraan help skryf het, so sê jy net vir hulle almal: “Whatever major losers!” In jou pragtige Engels.

Of, soos ons altyd met atletiek gesing het: “Vere, vere, ons voel vere, die ander gaan te kere, maar ons voel vere!”

Ek voel saam met jou vere, Panyaza. Ek voel vere vir Afrikaans en ek voel vere vir moedertaalonderrig. Watse twak is dit dat Suid-Afrika se kinders in hul moedertaal moet leer? Waar kom hulle daaraan? Nee, kom ons laat al ons kinders deur die bank swak Engels in swak skole leer. Afrikatale is vir die voëls. En wanneer daar nie meer ’n enkele Afrikaanse, Zoeloe-, Sotho- of enige skool in 'n Afrikataal oor is nie, bel my, dan gaan drink ons ’n bier om dit te vier, en daarmee saam sommer ’n hele beker vol #SouthAfricanTears.

Mooiste groete

Marida

* Fitzpatrick is Netwerk24 se Stemme-redakteur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.