Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lig dan ’n glas op Kaapse wyn op Erfenisdag
Emile Joubert

As die waarheid wel in wyn lê, soos wat die Latynse spreuk In vino veritas beweer, dan is dit nou maar so dat wyn dalk een van die Afrikaanse taal se grootste ambassadeurs en voorste vaandeldraers is.

Onlangs het die wêreld – van wyn en ander tekens van beskawing – gegons oor twee name uit Suid-Afrika, al twee so Afrikaans jy kan die aardsheid van Afrika se stof, bossieveld en klip tussen jou tande proe soos die etikette op die bottel gelees word. Porseleinberg en Skurfberg, daar is van julle notisie geneem.

Toe die Britse wynmeester en internasionale kritikus Tim Atkin onlangs sy verslag oor Suid-Afrikaanse wyne die wêreld instuur, het twee wyne heel boaan sy lys gesit. Nie net gesit nie, geskitter, toe hy aan elke wyn die haas onmoontlike erkenning van 100 uit 100 punte gegee het.

En soos dit met sulke skielike roem gaan, het die lyne van oor die aarde heen gegons na die makers van die Porseleinberg Syrah 2018 en Skurfberg Chenin Blanc 2019 in die hoop om ’n kis of wat van hierdie nuwe uitskiet-wyne te kry. Net een ander Kaapse wyn kon vantevore 100 punte uit Atkin se befaamde pen wurg, en dit was Kanonkop, wie se Paul Sauer 2015 hierdie erkenning in 2018 behaal het.

Dit is opmerklik dat die land se drie beroemdste wyne, wat danksy digitale kommunikasiegolwe ook internasionale bekendheid verwerf het, Afrikaans in murg en been is.

Goeie wyn is, soos Ernest Hemingway geskryf het, “die mees beskaafde ding op aarde”.

Goeie wyn is, soos Ernest Hemingway geskryf het, “die mees beskaafde ding op aarde”. Diegene wat hiermee eens is, sal die kulturele relevansie van en onlosmaaklike verbintenis tussen Afrikaans-wees en wyn besef, en omhels.

Dis wyn wat in 2020 bewys dat hy, sedert die eerste Kaapse druiwe in 1659 gepars is, nie toegelaat het dat iets of iemand sy identiteit wegneem nie. Koloniste het gekom en gegaan. Heerskappy en revolusie het mekaar afgewissel. Oorheersers het met kulturele hensoppers op die voorste sitplek gevry. Meer is gebreek as gebou.

Die geskiedenis is verwring en herskryf, omgekeer. Maar in 361 jaar het die Kaapse wynkultuur getrou gebly aan sy wortels, gewillig verbind aan wie en wat dit is.

Die huidige drie uitskieters – Porseleinberg, Skurfberg en Kanonkop – is maar net drie voorbeelde van die Afrikaanse weefsel wat onherroepbaar is in Suid-Afrika se posisie as internasionaal bekende wynland. Dink maar aan Hemel-en-Aarde Vallei. Rust en Vrede. Meerlust. Slanghoek. Breedekloof. De Grendel Amandelboord. En meer, baie meer.

Vier maande se wynverbod tydens die tyd van inperking het verwoesting gesaai in die plaaslike wynbedryf, en nou word gegrap hoe dit elke mens se plig is om die bedryf “uit die moeilikheid uit te drink”. Dit mag dus op hierdie Erfenisdag meer as ooit gepas wees om wel ’n glas te lig op Kaapse wyn. Nie net omdat dit van die beste ter wêreld is nie, maar omdat die algehele bydrae daarvan nog altyd gesorg het dat die glas halfvol is, eerder as halfleeg.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Wyn  |  Erfenisdag  |  Wyndrink  |  Kaapse Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.