Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lig is geloop in sokkies op ’n Sunbeam-stoep

By Prins Albertweg, anderkant Beaufort-Wes, draai ek van die N1 af. Oor die treinspoor, links op ’n grondpad. Stasie toe.

Dis al sterk skemer. Ek ry steeds deur die land, van stasie na stasie. Die donker moet my tog net nie hier vind nie. Hier spook dit glo.

Dana Snyman

Die stasiegebou is nóg ’n monument vir wanbestuur en vandalisme. Die dakplate makeer. Die deure is kosyn en al uit die mure gebreek. Ek hou stil en klim uit.

In die ry stasiehuise, skuins agter die stasiegebou, brand die ligte al. Oom Naas Jonker het gesê hulle huis was die tweede huis van die punt af, verbeel ek my.

Ek haal my selfoon uit my sak en gaan na die klankopnemer waar ek my gesprek met oom Naas opgeneem het. Druk die knoppie. “Die tweede laaste huis was ons huis,” kom oom Naas se stem oor my foon se luidsprekertjie. “In die laaste huis het Christie de Koker gebly. Dit was in 1960 rond.” Oom Naas het toe as ’n stoorman hier gewerk.

Met oom Naas se stem oor my foon stap ek na die stasie toe. “Ons het die stoepe so mooi gepoleer, weet jy. Met hierdie rooi politoer. Sunbeam. Jy het jou skoene uitgetrek en op jou sokkies geloop, bang jy laat spore agter.”

Jy sien niks nie. Jy hoor dit net: woep-woep-woep. Jy wil hardloop, maar jy’s lam.

Oorkant die treinspoor is ’n hotel, maar dit staan toe. “Die hoteleienaar was ’n bitter sterke man. Jan. Jan Olivier,” kom oom Naas se stem. “En oom Jan Kat, ek weet nie wat sy van was nie, het altyd die possakke en goed van Prins Albert af gebring met sy lorrietjie. Dit was ’n netjiese stasietjie; en besig, hoor. Besig. Party dae tot 50 treine.”

Op die N1 dreun die soveelste vragmotor verby. Nêrens is ’n mens nie. Almal kyk seker televisie. Hier het treine gefluit en kon jy ’n driegangmaal in die hotel eet. Hier het oom Naas ook ’n spook gesien.

“Dié nag, hier eenuur se kant, wag ek vir ’n trein van Beaufort af. Ek alleen. Geen ander sterfling naby nie. In die donker. By die waentjie met die roomkanne en possakke en goed wat ek op die trein moet laai. Ek staan nog so, toe kom hierdie lawaai, hierdie gerammel aan. Jy sien niks nie. Jy hoor dit net: woep-woep-woep. Jy wil hardloop, maar jy’s lam. Woep-woep-woep, kom die ding verby. Jô. Jô. Die volgende oggend vertel ek vir oom Ben Ackermann, die stasiemeester, daarvan. Toe sê oom Ben die ding kom gereeld hier verby. Hier’s glo ’n kind doodgery.”

Iewers blaf ’n hond. By die tweede laaste huis, oom Naas se huis, brand nie ’n lig nie, want daar is nie meer ’n huis nie. Lyk of die huis afgebrand het.

Oom Naas is al oorlede. Ek het die gesprek met hom kort voor sy dood by sy huis op Vredenburg opgeneem. Oom Ben Ackermann, die stasiemeester, is ook al weg. Ook oom Christie de Koker, wat in die laaste huis gewoon het.

Weg oorkant toe terwyl die werkinge van hul hande vergaan. Stof tot stof.

Ek gaan klim terug in die bakkie. Dit is nou donker. Ek moet wegkom hier.

(Word vervolg.)

Meer oor:  Dana Snyman.  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.