Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lig jou hoed vir landdros Foso

Howe in Suid-Afrika hoor daagliks talle aansoeke om borgtog aan. Dit is veronderstel om alledaags en sonder enige drama te wees.

Dit kan egter nie gesê word van die borgtogaansoek in Coligny deur twee wit mans, wat ’n swart tiener, Matlhomola Mosweu, na bewering in dié Noordwes-dorpie vermoor het – wat tot groot onrus gelei en in rassespanning tussen die dorp se wit en swart inwoners ontaard het.

Honderde mense was Maandag buite die hof om teen die aansoek om borgtog te protesteer. Dit is na my mening ’n vorm van intimidasie van die hof. Dié soort optrede raak toenemend deel van hofprosesse. Landdroste en regters moet versigtig wees om nie te swig voor dié openbare druk nie.

Dit is waarom hierdie aansoek om borgtog in Coligny so belangrik is.

Nadat landdros Magaola Foso borgtog aan die twee beskuldigdes toegestaan het, het dit tot verdere geweldpleging gelei.

Foso het bevind dat die hof nie Pieter Doorewaard en Phillip Schutte se reg op vryheid kan ontsê bloot op grond van openbare druk nie. Die beskuldigdes, het hy gesê, is ook geregtig op hul vryheid en is onderworpe aan die korrekte toepassing van die reg ongeag hoe die publiek daaroor voel.

Met dié bevinding het hy die oppergesag van die reg bevestig en betekenis gegee aan die konsep in die Grondwet wat bepaal dat almal gelyk is voor die reg – selfs beskuldigdes voor die hof.

Ons moet almal dankbaar wees vir Foso se hantering van die saak.

Nie elke misdadige voorval waarby wit en swart betrokke is, is rasgedrewe nie. Dis maklik om te sien hoe ons, gegewe ons geskiedenis, tot só ’n slotsom kan kom. In die hitte van die oomblik kry emosies dikwels die oorhand en lei tot onbesonne optredes.

Foso het in sy uitspraak gesê dit is baie moontlik dat die geweld wat Coligny ná die tiener se dood geruk het, niks daarmee te doen het nie, maar wel met swak dienslewering. In Noordwes, waar swak dienslewering die norm is, is dit ’n sterk moontlikheid.

Uitsprake soos dié van Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, dat die tiener se dood “in die hande van Afrikaners” is, help nie in so ’n plofbare situasie nie. Mahumapelo is korrek wat betref die herkoms van die beskuldigdes, maar dit is nie die punt nie. Die verwysing na “Afrikaners” was bedoel om ’n hele gemeenskap vir die vermeende optrede van twee in hul midde verantwoordelik te hou. Dit kan vertolk word as opstokery.

Ons moet almal dankbaar wees vir Foso se hantering van die saak. Hy het gedoen wat van hom as ’n amptenaar van die reg verwag word.

Die howe is ons redding om grondwetlike fatsoenlikheid te verseker. Dit is toenemend ’n kwessie wat van minder belang vir politici is.

Die grootste sondaar in hierdie verband sit in die kantoor van die hoogste politieke gesag: pres. Jacob Zuma.

Zuma se blatante vertrapping van die Grondwet stuur ’n sein na sy kamerade in hoë posisies van gesag – en ook na die onderste deel van die samelewing in die strate van plekke soos Coligny – dat dit reg is om die howe te intimideer en dat, indien jy na die premier van Noordwes luister, Afrikaners ’n sagte teiken vir wettelose vergelding is.

Dis tyd dat Suid-Afrikaners besef ons is ’n regstaat en die howe is ons enigste beskerming teen die totale ineenstorting van die demokratiese orde. Ons howe – van die konstitu­sionele hof tot die landdroshof – is ewe belangrik om die integriteit van die grondwetlike bestel te verseker.

Haal dus jou hoed af vir landdros Foso, ’n regsman van eer en integriteit, wat sy werk vreesloos doen en só die land sterker maak – in ’n tyd wanneer ons dit die nodigste het.

Meer oor:  Howe  |  Borgtog  |  Borgaansoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.