Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lina Spies: Chris, Randall en die dans van die woord
Lina Spies

Aan die einde van sy uitstekende artikel oor Chris Barnard sê Frederik de Jager dat “in lewe en dood” skrywers “op die hande gedra moet word”.

Dit is vir my ’n opdrag om Chris te onthou, want sy gawe van vriendskap wat in al die huldigings geloof is, het ek ook in ’n klein maat as kosbaar ervaar. Randall Wicomb was vir my eweneens ’n vriend. Die wonder van vriendskap is ongeëwenaard verwoord deur die Griekse wysgeer, Epikurus, en lui in ’n Nederlandse vertaling: “De vriendschap danst rond de wereld en roept ons allen op tot ontwaken en onszelf gelukkig te prijzen.”*

Ek het nie behoort tot Chris se intieme Sestiger-vriendekring nie, maar onuitgesproke wedersydse waardering het ons gebind. Ons is ook van dieselfde jaar en het ons vyftigste verjaardae êrens gedurende 1989 op uitnodiging by die Afrikaanse Letterkundige Museum gevier. Dit was terselfdertyd ook die viering van Dolf van Niekerk, ’n hartsvriend van Chris, se sestigste verjaardag. Hoe heerlik het ons nie tot laat in die hotel saam met Stephen en Elizabeth le Roux en Antjie Krog gekuier nie.

Die dood kom selde indien ooit op die “regte tyd” en Breyten weet dit, daarom kan hy skerts oor die ontydigheid van Chris en Randall om ons oor “Krismis en Nuwejaar” te verlaat. Ek wil op my beurt vra watter vreemde tydigheid was dit dat ek op Chris se sterfdag voor my boekrak gestaan en besluit het om in die nuwe jaar sy werk te herlees? En toe ek hoor van sy dood, onthou ek hoe hy met Woordfees 2013 albei my hande styf vasgehou en lank en diep in my oë gekyk het. Dit was ’n oomblik om nooit te vergeet nie. Het hy aan my te kenne gegee dat vriendskap ’n staande vesting teen die slopende mag van die tyd is?

My betrokkenheid by Randall se laaste CD, Êrens Is Jy, het begin deurdat ek vir hom kon vasstel dat die digter van “Die Donkerstroom” A.G. Visser is. Dit het gelei tot ’n aand waarin ons saam deur die begeleidende boekie vir dié CD gewerk het. Dis toe dat ek onder die indruk van sy kompromislose respek vir die woord gekom het. Daarom kon ek as liefhebber van die kunslied, wat na min Afrikaanse lirieke kan luister en gru van sogenaamde Afrikaanse musiek (swak tekste op swak musiek), vir sy liedere in my hart plek maak.

Die letterkunde van Afrikaans, soos van elke taal, gee singewende krag aan sy sprekers, selfs as hulle net weet van hul groot digters en skrywers. Maar lesers sluit met hulle vriendskap, meesal sonder om hulle persoonlik te ken. As ons Afrikaans degradeer tot ’n lokale spreektaaltjie sal geen skrywer of digter so ’n vals tweedehandse instrument wil bespeel nie. Die dans om die wêreld sal ophou en daar sal geen rede wees om onsself gelukkig te prys nie.

* Kees Verheul, Dans om de Wereld: Fragmenten over Joseph Brodsky, 1997, Amsterdam: Querido.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.