Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Linguiste en wedders bekyk tenniskrete
Prof. Gerhard van Huyssteen

Jaarliks, soos klokslag, kry ek teen die middel van Julie tennisdepressie: Roland Garros en Wimbledon is verby. Ja, ja, die Amerikaanse Ope lê voor, maar wees maar eerlik, dis ’n bietjie kroektennis wat hulle daar en in die Australiese Ope speel. Net soos wat eendagkrieket en sewesrugby nie régtig krieket en rugby is nie, so is hardebaantennis ook drie keer niks vir die aficionado.

Terwyl ek snoesig onder my duvet voor die TV lê en slurp aan my ma se boontjiesop (veel beter as al daai aarbeie), is ek wel steeds besig om te werk. ’n Man moet sy brood in die sweet van sy aangesig verdien. In die jongste uitgawe van die gerenommeerde vaktydskrif Animal Behaviour publiseer drie navorsers van die Universiteit van Sussex (Brittanje) hul navorsingsresultate oor die befaamde steunkrete in tennis. (Jy weet, tennis grunts, soos daai “aa-ieeeeee” wat deur Monica Seles in tennis ingevoer is.)

Hoe hoër die steunkreet, hoe groter die waarskynlikheid dat ’n speler die wedstryd gaan verloor.
Die navorsingspan se primêre belangstelling is in die ooreenkomste en verskille tussen dieregeluide en mense se nieverbale uitinge (vokaliserings deur lag, huil, gil, kreun ensovoorts). Die basiese uitgangspunt is dat sulke nieverbale uitinge baie ouer en meer basaal is as gesproke taal, en dat navorsing daaroor ons insig kan gee in die ontwikkeling van onder meer taal­funksies en taalsisteme.

Hul data is 367 steunkrete van sewe mans en sewe vroue uit die top-30 spelers van die wêreld. Aangesien die akoestiese grondtoon (F0) korreleer met stembandtrillings tydens produksie én toonhoogte tydens persepsie, gebruik hulle die F0-inligting om bepaalde afleidings te maak.

Hul belangrikste bevindings:

  • Die toonhoogte (F0) van die steunkrete korreleer met die geslag van spelers, maar nie met ouderdom en liggaamsgrootte nie. Jy kan dus nié uit ’n speler se steunkreet aflei hoe oud of hoe gespierd hy of sy is nie.
  • Die F0 van afslane is hoër as dié van onderskeidelik voorhand- en rughandhoue.
  • Die F0 verhoog na mate die wedstryd verloop. Hoe later, hoe kwater . . .
  • En les bes, hoe hoër die steunkreet, hoe groter die waarskynlikheid dat ’n speler die wedstryd gaan verloor!

Die interessantste deel van laasgenoemde bevinding is dat daar nie ’n statisties beduidende verskil is tussen die verloordersteunkreettoonhoogte aan die begin of aan die einde van ’n wedstryd nie. Dis asof fisiologiese en psigologiese faktore reeds vroeg in (of selfs voor) die wedstryd gemanifesteer word. Ons kan dus sommer gou in ’n wedstryd voorspel wie gaan wen.

Maar, hokaai, voordat jy roekeloos geld gaan begin wed op tenniswedstryde: Die wetenskaplike proses moet eers sy loop neem.

Boonop moet ons versigtig wees om te veralgemeen: Meer data van individuele spelers moet ingesamel word om te kyk wat die patroon oor verskeie wedstryde heen is.

Hoe dan ook, ek steun Martina Navratilova (kampioen der kampioen!), wat gesê het: “The grunting has reached an un­acceptable level. It is cheating, pure and simple. It is time for something to be done.”

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Woordwisseling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.