Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Links én regs ontnugter, soek na vernuwing

Ek en my man het onlangs New York – en Amerika – vir die eerste keer besoek. Die stad is al jare op ons wenslysie. Toe ek dus genooi word om aan ’n konferensie daar deel te neem, het ek die geleentheid aangegryp en het ek my verblyf ietwat verleng sodat ek meer van die stad kon sien.

Lindie Koorts

In ag genome die wisselkoers het ons dit nie eens oorweeg om in Manhattan tuis te gaan nie – dit was net te duur. So spoor ons ’n kamer op Staten Island op met die plan om daagliks die gratis veerboot te gebruik om Manhattan te bereik.

Dié besluit het gesorg vir ’n ontnugterende blik op die glinsterende stad.

Die buurt waar ons tuisgegaan het, is arm. Op straat was daar haweloses en leë winkels met gebreekte ruite. Op die veerboot sien ons mense wat duidelik hard werk, maar nogtans swaarkry: Hulle lyk moeg en verslons.

Die kompartemente van New York se moltreine word telkens deur bedelaars toegespreek – elk wel ter tale, maar gehawend.

Vir ’n Johannesburger moet so iets hoegenaamd nie skokkend wees nie – maar armoede is altyd onthutsend, ook in die rykste stad van die rykste land ter wêreld. Ander ryk lande, soos Brittanje en Nederland, wat ek meer dikwels besoek, se mense lyk nie so moedeloos nie.

Plakkate basuin dit uit: New York het pas ’n minimum loon van $15 per uur afgekondig. Dit word as ’n groot prestasie voorgehou, maar die plek is dúúr. Die bestaansloon in New York vir ’n volwassene sonder enige afhanklikes is $17. Vir ’n volwassene met een kind is dit $32 en dan styg dit verder na gelang van die getal afhanklikes.

Hierdie is ’n hárde plek, is ons blywende indruk. Hoe maak die werkersklas, wat die wiele laat draai, ’n bestaan?

Ná my besoek kyk ek na twee dokumentêre oor die Amerikaanse politiek: Michael Moore se Fahrenheit 11/9 en Rachel Lears se Knock Down the House. Moore se dokumentêre moet altyd met meer as net ’n knippie sout geneem word, maar hy is die meester van die vars invalshoek. Lears se werk, daarenteen, voldoen meer aan die eise van die konvensionele dokumentêre rolprent.

En as ek dink hoe ek voor die afgelope verkiesing mistroostig rondgetas het op soek na ’n politieke party met wie ek myself hoegenaamd kon vereenselwig, het ek nogal simpatie met die Amerikaners.

Albei lig wel die grondverskuiwing op voetsoolvlak aan die linkerkant van die Amerikaanse politiek uit.

Die verkiesing van die dinamiese jong Demokraat Alexandria Ocasio-Cortez is die bekendste aanduiding daarvan: Die linkses is net so sat vir die politieke elite en gevestigde geld wat die toutjies in Washington trek.

Mense kry swaar en in die bestaande stelsel voel hulle magteloos.

Waar daar aan die een kant van die spektrum na ’n buitestander soos Donald Trump gedraai is, word daar nou aan die ander kant van die spektrum op ’n georganiseerde wyse gesoek na voetsoolvlak-kandidate: talentvolle gemeenskapsleiers wat nie tradisionele politici is nie om die gevestigde elite in die Demokratiese Party te ontsetel.

Ofskoon die regses keel opsit oor die opkoms van die “sosialiste” en wederom, is dit vir my duidelik dat Trump én Ocasio-Cortez manifestasies is van dieselfde ontnugtering: Die bestaande demokratiese stelsel is gebroke en albei kante van die spek- trum reageer daarop deur na buitestanders te draai.

As historikus maak dit my ietwat senuagtig: Die laaste keer wat die wêreld, ontnugterd met die demokrasie, na buitestanders gedraai het, het dit op die Tweede Wêreldoorlog uitgeloop. Dit kan uiters ontwrigtend wees, maar daar is ook die geleentheid vir vernuwing.

En as ek dink hoe ek voor die afgelope verkiesing mistroostig rondgetas het op soek na ’n politieke party met wie ek myself hoegenaamd kon vereenselwig, het ek nogal simpatie met die Amerikaners.

  • Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.
Meer oor:  Suid-Afrika  |  Amerika  |  New York  |  Verkiesing 2019  |  Verkiesings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.