Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Linkse beleid sal net húlle baat

Dit word algemeen aanvaar dat die wêreld ná Covid-19 nie weer dieselfde sal wees as voor die pandemie nie. Een sektor wat beslis dramaties anders gaan wees, is die ekonomie. Covid-19 het ons geleer dat die ou, gevestigde idees uitgedien is – dit is tyd vir nuwe idees en vars denke.

Hier in Suid-Afrika het dit ons opnuut bewus gemaak van die hardnekkige ekonomiese breuklyne in ons samelewing – armoede en ongelykheid. Ons word byna daagliks daaraan herinner dat die demokrasie net sommige bevoordeel het, terwyl die meerderheid van ons landgenote agterweë gelaat is.

Die eerste politieke skote in die geveg om die hart en siel van die ekonomie is reeds afgevuur, en die vroeë tekens is onrusbarend. Die debatte wat in die ANC gevoer word, loop glo langs die bekende regs-links-ideologiese lyne van die Koue Oorlog: Karl Marx, vader van die kommunisme en sentrale beheer, versus Adam Smith, vader van die kapitalisme en vrye markte.

Wat niemand sê of wil toegee nie, is dat nie een van dié twee denkrigtings werklik blywende antwoorde vir die lot van die mensdom opgelewer het nie.

Gebrekkige leierskap is ook wêreldwyd deel van die probleem, en dit is ook deur Covid-19 blootgelê.

Gebrekkige leierskap is ook wêreldwyd deel van die probleem, en dit is ook deur Covid-19 blootgelê.

In Amerika verkies pres. Donald Trump, die sogenaamde “leier van die vrye wêreld”, oënskynlik om verhoudinge op te blaas eerder as om gesonde en deurdagte leierskap te bied.

In China, die wêreld se tweede supermoondheid, is pres. Xi Jinping ’n outokratiese leier wat ingestel is op die verskansing van die oppergesag van die Chinese Kommunistiese Party en die ondemokratiese verdrukking van die bevolking. Nóg Trump nóg Xi is voorbeelde van goeie leierskap.

In Suid-Afrika is ons geneig om terug te val op die verlede en inspirasie te soek uit die voorbeeld wat oudpres. Nelson Mandela gestel het – nie noodwendig ’n slegte idee nie.

Die probleem is dat Mandela se nalatenskap nie heeltemal waardeer word nie. Trouens, in sommige kringe van die ANC word hy daarvan beskuldig dat hy nie genoeg gedoen het om swart mense van die juk van apartheid en ekonomiese ontneming te bevry nie. Mandela, so word gesê, het hom oormatig gesteur aan die lot van wit mense.

Dié gekerm gaan oor die verdeling van rykdom ná apartheid. Daar is steeds sentimente dat die vermeende rykdom van wit mense genasionaliseer moet word. Die werklikheid is dat só ’n geharde linkse ekonomiese beleid nog nêrens werklik gewerk het nie.

In lande waar dit toegepas is, het die armes net armer geword, en die klein elite en die met politieke bande ryker. Gesentraliseerde ekonomieë werk net politieke korrupsie en selfverryking in die hand. Die vrye mark is nie perfek nie; inteendeel, die gevolge daarvan kan soms net so skadelik wees

Die impak van Covid-19 is al met die impak van die wêreldoorloë vergelyk, en dié vergelykings het wel meriete.

Ná afloop van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog het wêreldleiers byeengekom om ’n gesamentlike weg vorentoe te beplan. Iets soortgelyk sal waarskynlik ook post-Covid-19 nodig wees.

Die destydse samekoms van leiers het gelei tot die stigting van eers die Volkebond en later die Verenigde Nasies (VN). Laasgenoemde gaan gebuk onder die ongelyke invloed van die groot moondhede met permanente setels in die VN se veiligheidsraad.

Pres. Cyril Ramaphosa moet waaksaam wees dat hy nie deur die linksgesindes in sy party oorweldig word in die stryd om die ekonomiese rigting vir die land te bepaal ná Covid-19 nie. ’n Ekonomie onder volle staatsbeheer sal in niemand behalwe aspirerende staatskapers en korruptes se belang wees nie.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Pandemie  |  Regering  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.