Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Literêre vonds oor Visrivier

Terwyl Heinrich Matthee deur sy oorlede pa se dokumente gegaan het, het hy ’n besonderse stuk skryfwerk van wyle Hennie Aucamp ontdek.

In die 1970’s het lede van die Universiteit Stellenbosch (US) se Berg-en-Toerklub (BTK) periodiek in die Vis­rivier-skeur-vallei in Namibië of in die Sederberge gaan stap. Die toerleier van die groepe van mans en vroue was meermale prof. C.A. (Tjaain) Smith van die departement rekeningkunde.

My pa, Johan Matthee, was een van Smith se kollegas en ’n BTK-lid. Hulle het toevallig albei ook ’n rol gespeel om die posisie van Afrikaans in ekonomiese en bestuurswetenskappe te verbeter. My pa is in Julie 2018 oorlede.

Onlangs het ek deur sy dokumente gegaan en onder meer ’n getikte nuusbrief van die BTK gevind. Dit is ongedateer en vergeel. Die eerste deel, getiteld “Visrivier Canyons” is ’n humoristiese oorsig deur ene Kabouter oor ’n week lange staptog in die skeurvallei.

’n Kokerboom, kenmerkend van dié landskap.Foto: ISTOCK

Smith, my pa en etlike ander stappers het aan hierdie tog deelgeneem. Hennie Aucamp was destyds ’n dosent aan Maties. Hy het dieselfde staptog meegemaak en verskyn ook op die enkele groepsfoto’s wat ek tussen my pa se dokumente gevind het.

‘Positief onbehoorlik’

Die betrokke staptog het luidens die nuusbrief op ’n Saterdagoggend begin. “En sowaar toe ons almal besteweld en berugsak ses­uur Saterdagoggend by die bus kom, het ons nie oorgeloop van selfvertroue nie, en ons selfvertroue is nog verder geknak deur die feit dat die B.T.K. se karakter so verander – ons is sowaar net vyftien minute laat hier weg . . .”

Die subopskrif van die stuk is die skrywer Eitemal se woorde, hier ironies gebruik: “Ons gaan saam die donker toekoms in, om as een te sneuwel of oorwin.”

“Hier anderkant Moorreesburg het almal begin ontwaak en rondkyk. Die Noordweste het darem die raarste plekname. Hennie Aucamp is toe sommer van mening dat die naam van die dorpie Gamoep ‘positief onbehoorlik’ is. In Garies het ons gestop en Lood het net steen en been gekla, want hy kon omtrent nie oor die straat kom so baie verkeer was daar nie.”

In die eerste skryfstuk word dan verder beskryf hoe die stappers wegtrek by Ai-Ais en hoe hulle later ná “operasie afsak” met jelliebene onder in die skeurvallei begin stap. Daar was “absoluut asemrowende drakekranse en sand en gladde rotse en waters waarin die kranse weerspieël word”. Die stappers het met swaar rugsakke en soms met steune en kreune deur die natuur ge­stap. Die kos op die vure van sommiges was halfrou, ander se behendigheid en ervaring het gewys.

Die grond waarop hulle in slaapsakke moes slaap, was soms sagte sand. Soms het hulle egter “maar benerig en skeleterig geslaap op die harde grond”.

Een dag was daar ’n lang trek deur ’n stuk woestyn, op ander dae staptogte langs die kranse naby en oor die Visrivier. Eenkeer het die stappers ná ’n harde dag se stap op een kampplek in swart modderbaddens met kokende swaelwater gebad.

Bo en onder: Foto’s van die Universiteit van Stellenbosch se Berg-en-Toerklub se stap deur die Visrivier-skeurvallei.

Tydens die stappery en om die kampvuur saans is Afrikaanse en Duitse liedere gesing. Die stuk beskryf ook poetse en baie gelag, sterrekyk en spookagtige eensaamheid. Die staptog het byna ’n week later weer in Ai-Ais geëindig.

Vir lees en weer lees

Die tweede deel van die nuusbrief bestaan uit die skryfstuk wat onder Aucamp se naam gepubliseer is onder die titel: “Klippe en sand: Enkele herinnerings aan die Visrivierafgronde”.

Daarin beskryf hy die rotse en die hemel, die verskeidenheid plante en diere, die sand en die Visrivier. Na die skeurvallei verwys hy as “die geweldige bars in die aarde”.

Sy Afrikaans weerklink in die ruimtes en raak aan ons menswees.

Heinrich Matthee

Dit lyk asof “Klippe en sand” nog nie tot dusver gepubliseer is nie.

Die digter Johann de Lange, die eksekuteur van Aucamp se literêre erfenis, het toestemming verskaf dat dit eenmalig op LitNet gepubliseer word.

Die ou BTK-nuusbrief sal aan die US geskenk word.

’n Versameling van Aucamp se briewe word reeds in die universiteitsbiblioteek bewaar.

Wie die lewe en die ruwe natuur waardeer, sal “Sand en klippe” meer as een keer lees.

  • Besoek www.litnet.co.za om Aucamp se volledige teks te lees.
  • Dr. Matthee woon in Nederland en is ’n politieke ontleder vir bedrywe in die Midde-Ooste.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.