Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Loftus Marais: ‘Amazing Race’ klink effe na wit mense se ophemeling

Geagte Showmax

Ek skryf omdat ek verhéúg is dat julle Leon Schuster se rolprente van jul platform verwyder het. Sy blackface is vieslik rassisties en daarom ook ’n misdaad, heel moontlik teen die mensdom. Schuster is ’n monster. Vir die sieleheil van die nasie moet hy vervolg word, dink ek.

In elk geval, noudat julle uit die moeras van Suid-Afrikaanse agterlikheid gerys het as ’n baken van moraliteit, het ek ’n paar voorstelle, liefste Showmax.

Ek sien op jul platform is ook die reeks Will & Grace, waarin ’n heteroseksuele akteur (ene Eric McCormack) die rol van ’n homoseksuele man vertolk. Die appropriasie maak my apoplekties. Ek vind dit so aanstootlik ek sidder van die psigiese skade. Verwyder dit dadelik. Dankie.

Ek sien ook julle het The Amazing Race op jul lys. Ek is bang kykers gaan dink die titel verwys na wit mense. Dit klink dalk effens oorsensitief, maar ’n mens moet altyd veilig wees en beskermend optree – presies soos met jul brawe heldedaad teen die afgryslike Schuster.

My bestudering van jul inhoud het slegs begin. Ek skryf binnekort weer...

Julle bied ook die Fast & Furious-flieks aan jul kykers. Dink julle nie daardie rolprente bevorder roekelose motorbestuur nie? Ek dink so. Haal dit af. Anders gaan julle moontlik bloed aan jul hande hê.

Al drie The Hobbit-rolprente is ook beskikbaar. My mond het oopgehang vir die ou troop van die “dwerg” in hierdie flieks. Goeiste. Ken julle nie die diskriminerende geskiedenis van dié stukkie “fantasie” nie? Hoe moet mense van klein gestalte voel wanneer die stereotipe van die koddige “dwerg” vir banale humor ingespan word? Verwyder dit dadelik.

As iemand wat gesteld is op sedes en waardes van alle soorte is ek ook diep ontsenu toe ek opmerk julle het ’n ding getiteld In Conversation: Joost van der Westhuizen op jul platform. Hy was ’n owerspelige, kokaïen-snuiwende, prostituut-besoekende leuenaar met gate in sy onderbroek.

En julle vereer hom? Skande. Verwyder.

Julle het ook dosyne en dosyne wit prinsesse in jul kinderprogramme.

Ek is nie net ontstig oor die oorverteenwoordiging van dié velkleur nie, maar briesend oor die politiek – monargistiese propaganda vir kleuters in ons demokratiese tye? Onaanvaarbaar.

My bestudering van jul inhoud het slegs begin. Ek skryf binnekort weer en is seker julle sal gehoor gee aan my versoeke; jul oombliklike agteroorbuiging in die Schuster-geval vul my met hoop in hierdie verband.

Alles van die beste.

Meer oor:  Loftus Marais  |  Showmax  |  Bekrek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.