Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Loftus Marais: Dis jammer ons word vanjaar dié skouspel ontneem

Ek lees in die koerante dat baie skole matriekafskeide “onbepaald uitgestel” of gekanselleer het weens die Covid-19-inperkings.

Dis jammer. Ons is iets ontneem, hoor. Ek’s ernstig. Die matriekafskeidfoto as kultuurverskynsel is een van die dierbaarste goeters. Min dinge laat mens só “haai-jirre-foeitog” voel. Dis vertederend.

Elke jaar sien ons hulle. Die frille en die sequins. Die liters grimering en haarprodukte. Aknee en pocket squares. Die seuns met die ongemak in hulle houding soos hulle poseer, baadjie kamma-nonchalant oor die skouer gegooi. Die een goth chick onversetlik in haar donkerpers en swart. Die geleende of gehuurde slapkar in die agtergrond. Of hulle staan in die voorstedelike tuin, duskant die voëlbad onder die boom. Hoe lank is daar gedink oor daai skoene? En die naels?

Hoeveel kleindorpse gay haarkappers en klere-ontwerpers word vanjaar dié karnaval ontsê waarin hulle hul kampste skeppings die wêreld kon instuur? Ai, my mofhartjie krimp.

Matriekafskeidfoto’s het so ’n totaal ander lading as die “bruid van die jaar”- en “mooiste baba”-foto’s wat mens ongelukkig steeds in sekere media-hoekies teëkom. (Terloops, wat is dit met die Afrikaner en kitsch hooftooisels vir hulle babas? Strikke, lapblomme, kontrepsies – die kind soos ’n bleddie Krismisboom versier, ogies verskrik. En oor die betekenis van die oorvloed vlies- en waasmateriaal in Afrikanertrourokke wil ek nie hier uitwei nie.)

Die matriekafskeidfoto is anders, want mens kan nog die kinders hulle swak smaak vergewe. Hulle is nog op onstewige bene, lomp in die middel van dié absurde oudisie vir die grootmenswêreld.

Of dalk is ek naïef. Dalk sien ek in die matrieks die tipe skoliere wat glad nie meer bestaan nie. Dis miskien nié ’n onbeholpe ougat-ritueel nie – die kinders van vandag is eerder materialistiese f*kk*rtjies, vals tot in hul siele, en danksy Instagram en TikTok en godweet watter ander platforms is hul ganse lewens fotogeleenthede, elke dag ’n soetlike matriekafskeid?

Nee, ek hoop dis nie waar nie.

Baie sal ook sê daar bestaan ’n politiek van die matriekafskeid. Klas (rykes se tentoonstelling). Geslag (heteronormatiewe paring). Kulturele hegemonie (die na-aap van die Amerikaanse prom). Maar ek rol my oë vir sulke kritiese perspektiewe en gonswoorde. Ek hou van rituele. Daar het so min van hulle oorgebly.

En dié ene is ’n skrikwekkend heerlike mengsel van jeug en oordaad en kwesbaarheid en beginne en eindes. Dis regtig jammer daar gaan vanjaar minder sulke foto’s wees.

Meer oor:  Loftus Marais  |  Bekrek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.