Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Loftus Marais: Kultus van die kind broei reeds ‘woke’ se monsters uit

Sewe-uur in die oggend. Ek’s op O.R. Tambo. Tassie in een hand, ID in die ander. Die persoon agter die toonbank sê sorry, jou vlug is gekanselleer, jy’s nie in kennis gestel nie, want die reisagent het ’n fout gemaak.

Ek moet vir vryskutwerk vínnig in die Kaap kom. Krisis. Ek bel die reisagent. Sy antwoord. Nee, sy sal nou-nou help, ek moet net rustig wees, sy moet eers haar dogter regmaak en by die skool gaan aflaai, sy sal daarná terugbel, daar’s ’n spesiale byeenkoms in die skoolsaal, dis baie belangrik vir haar dogtertjie.

Nou, leser, ek’s nie ’n gevoellose mens nie, maar regtigwaar, wanneer het dit normaal geword om in ’n werkkonteks sommer “ouerskap” te pleit?

Laat ek verduidelik. Ek vertel dié verhaaltjie oor wat onlangs met my gebeur het, want dis tekenend van iets wat ek meer en meer teëkom.

Kindertjies wat die wêreld begin regeer. Kindertjies so kosbaar en spesiaal hulle is in beheer van hul ouers.

As my ma of pa ’n werkkrisis gehad het toe ék op laerskool was, sou hulle nie vir ’n sekonde my besondere laerskoolse belange-agenda oorweeg het nie, wees verseker. En as ek ’n bohaai daaroor opgeskop het, sou ek ’n pak slae gekry het, maar eers nadat hulle mooi vir my verduidelik het dat hul werk belangrik is, dit sit kos op die tafel, klere aan my bas.

Oukei, ek het wel ’n bietjie simpatie met die reisagent. Eerstens, sy werk onder moeilike omstandighede – haar werk word deur die internet vernietig, nes die drukmedia en goeie, narratiewe pornografie. Tragies. Tweedens, dis seker nie maklik om vroegoggend ’n neurotiese, gestrande queen te hulp te staan nie.

Watter wêreld lê vir almal voor wanneer die bedorwe brokkies grootword?

Maar komaan: Hoe het ouerskap ’n eindelose proses van paai, tevrede stel en aanmoediging geword? Ek sien dit oral. Opgepiepte monstertjies kry hul sin. Hoekom is ouers so bang om hul kinders teen te gaan?

Watter wêreld lê vir almal voor wanneer die bedorwe brokkies grootword? Ons sien reeds die antwoord op dié vraag in die woke-politiek en die selfbeheptheid op sosiale media: Jong mense is monsteragtig in hul selfvoldaanheid, maar terselfdertyd ook erg weerloos, en dan histeries as dinge verkeerd loop.

Die reisagent het wel later teruggebel, maar op die ou end het ek wragtig self vinnig ’n kaartjie gekoop om in die Kaap te kom.

Vermoedelik het die kind ’n onbeskryflik fantastiese skoolbyeenkoms gehad.

Meer oor:  Loftus Marais  |  Bekrek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.