Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Loftus Marais: Rooi Barette weet alte goed kapitalisme se vrugte is soet

Ek verwag allerhande verskriklike uitsprake op die EFF se Twitter-rekening. Wat ek egter nie verwag het nie, is dié uitspraak die afgelope week: “It’s spring and we have the perfect golfers for you – EFF ON-LINE STORE”, bo ’n foto van ’n paartjie in helderwit gholfhempies, EFF-embleme oor die hart.

Leser, dit sal jou dalk verbly om te hoor dat daar afslag op die anti-kapitalistiese party se gholfhempies die afgelope week was. Dit was net R279,50. Dit het vinnig uitverkoop.

Ek wil nie regtig tekere gaan oor die skreiende teenstrydigheid in dit als nie, dat die sosialistiese waardes van die EFF uitgedruk word op so ’n kapitalistiese manier nie; ons almal weet die “stryd van die werker” is al lankal ’n produk wat aan die massas terugverkoop word. Maar ek wil jou tog aanraai om die EFF se aanlyn klerewinkel te besoek. Dit gee perspektief.

Die rooi baret (R100) is natuurlik die gewildste. Die model wat dit dra se vuis is in die lug, ’n gloeiende kyk in die oë (o, ’n soort postrevolusionêre, postkoïtale tevredenheid) en hy sit-staan op ’n rooi kroegstoel (lui aktivisme in die houding).

Dis veral die poses van die modelle wat opval. ’n Liggaamstaal geleer uit klerekatalogusse en parfuum-advertensies. Daar’s niks minder revolusionêr as dié houdings nie. Dis die fisieke taal van die vryemark. ’n Hand se vingers ingekrul teen die wang. ’n Kop agteroor gegooi, groot glimlag. ’n Wydsbeen gestaan, rug na die kamera, arms gevou, hiphop-loer oor die skouer. ’n Vrou se bene kuis gekruis, vingers gestrek oor die knie.

Haat kan deesdae ook soos ’n gehandelsmerkte T-hemp aangetrek word.

As jy dink ’n gholfhempie is die mees middelklas-produk wat die EFF verkoop, is jy verkeerd. Daar is ’n onweerstaanbare das (R80) wat nogal in ’n raadsaal aandag sal trek. Daar is ook boot sneakers (R1 500).

Klik ook op die terms and conditions wat altyd onderaan webtuistes soos hierdie skuil, want dan raak die huigelary éérs heerlik. In regsarcana en korporatiewe jargon word dinge soos lisensiëring, betaalmetodes, aanspreeklikheid, kopiereg en die terugsendingsbeleid uiteengesit. Daar is dit: Die bronkode van ons wêreld, en die EFF weet dit, en funksioneer daarbinne.

Maar wees bewus, die produkte wat die EFF hul klante bied, strek verder as kledingstukke. Haat kan deesdae ook soos ’n gehandelsmerkte T-hemp aangetrek word. Geweld ook. Hulle is aansienlik goedkoper. En ongelukkig is daar vir daai soort produkte nie ’n returns policy nie.

Meer oor:  Loftus Marais  |  Eff  |  Bekrek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.