Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lood se praatjies: Abdala(kadabra) vir SA?

Abdala(kadabra) vir SA?

Kuba kry die laaste paar dae heelwat publisiteit vir aansprake op ’n 92%-doeltreffendheidskoers teen Covid-19 van sy Abdala-entstof. Talle kamerade, soos die vakbondman Zwelinzima Vavi (foto), en kamma-kamerade, soos Julius Malema, is erg ontstoke dat die owerhede hier ter plaatse voorkeur gee aan Westerse entstowwe. En dat hulle sloer met die goedkeuring van Abdala, China se Sinopharm-entstof en Rusland se Sputnik V. Selfs in die Weste word Kuba se mikrobiologiese vermoë geloof. Sal dit dan nie ironies wees as dit ons redding is nie? Met al ons beleggings in hul mensehandel-aktiwiteite is ons sekerlik hoog op die voorkeurlys. Hopelik tree plaaslike proef-kamerade solank na vore.

Toesluittyd is groot toets

Hoe langer kameraad Ace Magashule, geskorste verdagte-generaal van die All National Corruptives (ANC), uit die prentjie is, hoe meer maak pres. CR allerlei uitsprake­. Nou wil hy die boewe uit die ANC dryf en mense op grond van bekwaamheid as kandidate werf. Skote, CR, skote, maar jou groot toets kom as dit toesluittyd vir JZ, asook die einste Ace en kie, is.

Persone van die week

RAAKVATTER: Rhyno Lombaard, private speurder wat die vermeende swendelaar George Vorster, in sy troubroek en -hemp, maar nog kaalvoet, vasgetrek het – ná twee jaar. Maak hom polisiespeurhoof!

NAT VADOEK: Piet Rampedi, redakteur van die Pretoria News. Ook Independent Media en sy gereelde voorbladskrywer, Iqbal Survé. Die tienling-sage beweeg mens om Nat Vadoek in Groot Gat te verander.

BITTERBEK: Alle Blou Bul-ondersteuners. Om te kyk hoe jou span die een bal ná die ander bloot vir die energieke Benetton skop, was erg. Dit kom nou van gaan bootry pleks van oefen en beplan in Italië.

Owerheid loop goed deur

Lynette Kriek van die Wes-Rand het onlangs deur die Oos-Kaap getoer en dié “kostelike slagspreuk” (haar woorde) by ’n tuisnywerheid gesien: “Ons krag lê in ons koeke en terte.” Duidelik verwys hulle nie na ons regering nie, meen sy.

Inderdaad, want waarom het staatsamptenare almal wekkers (gestel vir 16:15)? Sodat hulle nie oortyd slaap nie, laat weet Nico van Rooyen van Pretoria.

Lynnette en Nico, jul bekers is op pad, lepel en al. Daar is nog baie om te wen. Hoe? Stuur jou bydraes na lood@beeld.com. Dis ongelukkig nie per tender beskikbaar nie.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.