Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lood se praatjies: Die Niehaus-vermistes

Die Niehaus-vermistes

Die opskrif verwys na die “duisende ondersteuners” wat die stomme Carl Niehaus Saterdag op die O.R. Tambo-lughawe verwag het. Dit nou om Jacob Zuma terug te verwelkom ná sy “mediese behandeling” in die sosialistiese paradys van Kuba. Uiteindelik het daar na alle skattings sowat 350 aanhangers opgedaag. Die eertydse Zuma-golf is duidelik aan die taan. Die “massas”, soos sosialistiese politici graag na die publiek verwys, het net nie meer lus vir hom nie. Jy kan hulle ook net so lank om die bos lei. Hulle begin algaande besef dat miljarde wat opsygesit is vir dienslewering aan hulle, op uitnodiging van die einste Zuma deur die Guptas gesteel is. Jy lees die getye dalk net verkeerd, Carl.

Yunus Carrim, voormalige kommunikasieminister, se getuienis voor die Zondo-kommissie oor beweerde pogings deur MultiChoice om die uitsaaibedryf te kaap, was maar flou en vaag. Al wat aandag getrek het, was sy belydenis dat hy ’n vloekwoord teenoor Koos Bekker, Naspers-voorsitter, gebruik het. Pleks die kommissie net daar en dan sy mond met seep uitgewas het.

Persone van die week

RAAKVATTER:Punte vir David Makhura, Gautengse premier, wat maan oor watergebruik. Maar as hy al die stukkende pype laat regmaak, sal die gemete gebruik per persoon gou van 300F tot 200F val.

NAT VADOEK: Korrektiewe dienste en die paroolraad wat die kindermoordenaar Moyhdine Pangarker vrygelaat het om nou van die moord van Tazne van Wyk (8) aangekla te word. Wie is die paroolraadslede?

BITTERBEK: Dudu Myeni. In die hof-aansoek dat sy tot misdadige direkteur verklaar word, kla sy dat die kruisverhoor haar “uitput”. Selfs haar liefie, JZ, se mediese besoeke aan Kuba klink geloofwaardiger.

Hekelrym oor Jacob Zuma

Dié uitgeslape ou kalant, al lank in onse droewe land. Ken van vastrap en systap, van manteldraai tot hanekraai.

Trek die regter hom dan eindelik vas, speel hy weer siek en red sy bas. Ons hoop maar dis sy laaste laai, en dat sy kaiings weldra braai.

Ons sien hom bitter graag pronk, in sy oranje pakkie in die tronk!

Dit is al weer Helena Goosen van Olympus in Pretoria-Oos met wat sy noem haar “hekelrym”. Dit verdien weer vir haar ’n koffiebeker. (lood@beeld.com)


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.