SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Menings
Lood se praatjies Die regses se jongste ongelooflike teorie

Die regses se jongste ongelooflike teorie:

Uit die aard van Lood se rubriek kom vreemde dinge soms oor die lessenaar. Daaruit blyk dit dat die amper outydse regses nog springlewendig en met ons is – glo dit of nie. Hulle het op ’n tyd mos gefloreer op samesweringsteorieë waarvan sommige per pos op kassetbande uit die suidelike state van die VSA hier aangekom het. Moontlik het hulle ook al internet of ander metodes om dit te kry – of dit word heel waarskynlik meestal op Vrydagaande se “bring- ’n-brandewynbottel-en-braai” uitgedink. Die jongste teorie uit daardie kringe gaan juis oor die probleme rondom pres. Jacob Zuma. Dit gaan glo nie oor die goeie teen die slegte of selfverrykers teen die regstaat nie – dit is een groot Amerikaanse komplot. Die Yanks is glo vies oor die regering se noue bande met China en Rusland en wil Zuma daarom uitkry en ’n meer Westersgesinde president in sy plek laat aanstel. Nou het ons alles gehoor.

Pravin en Cyril offer op

Pravin Gordhan, minister van finansies, word al ’n geruime tyd opgemerk in die ekonomiese klas van binnelandse vlugte. Hoewel adj.pres. Cyril Ramaphosa die gebruik van stralers vir homself het, is hy ook al in die ekonomiese klas gesien. Een van die private stralers het juis onlangs tegniese probleme gegee en hy moes per pad reis. Gaan dit vir hom dalk eerder oor veiligheid as besparing?

RAAKVATTER:Ahmed Kathrada – met hoogste lof. Dit vir sy brief aan pres. Jacob Zuma. Daarin vra die Robbeneilander van die ANC dat die president bedank. Wie moet nog vra voordat hy hoor?

NAT VADOEK: Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC. Hy is beslis nie in die Jacob Zuma-kamp nie. Maar dit is pynlik om te aanskou hoe hy die ANC halfhartig om Zuma probeer “konsolideer”.

Nonne en die kamerpot

Gister se styging in die brandstofprys laat ’n mens dink aan die twee nonne wat met hul motor sonder petrol op die platteland gaan staan het. Dit was gelukkig naby ’n plaashek en die hulpvaardige boer gee toe petrol. Ongelukkig het hy net ’n kamerpot as houer gehad. Die nonne gaan gooi die voggies toe in die tenk. Op daardie oomblik ry ’n boer en sy vrou verby en die boer merk op: “Dis nou wat ek geloof noem dáárdie!”

Die nonne besorg Willem Verster van Zeerust dié week se Beeld Speletjiesboek. Stuur gerus bydraes aan lood@beeld.com; hier is nog stapels speletjiesboeke wat eienaars kort.

Meer oor:  Lood Se Praatjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.