Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lood se praatjies: Eskom 'vee' in weelde

Dit lyk asof daar by Eskom ’n behoefte was om verskeie oppervlakke in weelde te vee. Want teen R238 000 per besem moes dit omtrent met goudbedekte handvatsels kom. En vir ’n ander vee is die toiletpapier teen R28 vir ’n enkellaag-rol sekerlik van fluweel.

Maar, skryf Solly Tshitangano (foto­), Eskom se verkrygingshoof, dis alles wit mense se skuld. Hy het in ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa gekla senior wit amptenare van Eskom gebruik die kleur van hul vel om hom te ondermyn. En oeps, daar word hy toe met al die gelaaide pryse betrap en is hy geskors. Hopelik word die verrykingsketting van korrupte verskaffers ook uiteindelik oopgevlek. Hetsy wit, swart of ANC.

Entstofdebakel oopgevlek

Met ’n gil skrik ek uit my slaap –

gedroom AstraZeneca is gekaap!

Daar ver in Indië

het ou kalante die entstofmark betree.

Wie laaste lag is dalk nie Skoppensboer,

Nee, dis Atul, Ajay en hul broer.

Reg geraai, dis steeds Nerine Botha van Witrivier.

Persone van die week

RAAKVATTER: Prof. Itumeleng Mosala, sekretaris van die Zondo-kommissie. Hy meen ’n strafhof sou JZ vir vier jaar laat toesluit het eerder as die twee jaar wat by die konstitusionele hof gevra word. Sê hom!

NAT VADOEK: Alweer Zweli Mkhize. Sy departement onderhandel nou ook met die Russe, Chinese en Kubane vir entstowwe. Wel, dan kan die elite van kamerade, wat hulself so voor in die tou wou druk, dit kry.

BITTERBEK: Matshela Koko, voormalige Eskom-hoof. “Verander die prosedure, moenie my verdoem nie,” is sy krokodiltraan-verweer. Hy het nie eens geweet van wie kom e-pos met opdragte nie. Regtigwaar?

Zumpie af van die balie

Goeptie, Goeptie walie, Zumpie speel op die balie,

Zondie, Zondie en Zumpie val op sy alie.

Dis Chris Kotze van Garsfontein wat duidelik ’n bie­tjie by die eertydse Wielie Waliegaan leen het. Hy kry uiteraard sy beker. Ja, daar ontstaan nou ’n vermoede dat Nerine ’n koffiewinkel met Lood-bekers in Witrivier wil oopmaak. Maar die hekelrym was darem ingesluit by ’n vorige inskrywing. Nog lesers het belowe . . .

Stuur bydraes (hekelryme en ander brokkies) na lood@beeld.com en kom in aanmerking vir ’n beker. Lesers vra vir hoeveel kan hulle ene bestel. Nee! Skryf in!


Meer oor:  Lood Se Praatjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.