Verdagte lei grensplan
Skaars is 2021 uit die wegspringblokke of die ANC ontplooi een van sy misdaadverdagtes, adv. Bongani Bongo (foto), om probleme by die land se grensposte te gaan oplos. Bongo, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake, is reeds vir twee afsonderlike sake in hegtenis geneem – een in die Wes-Kaap en een in Mpumalanga. Uiteraard weier die Jacob Zuma-dissipel volstrek om uit sy amp te tree. Intussen moet sy komitee, met homself as voorsitter, sake by Beitbrug en Lebombo gaan beredder.
Dit terwyl die ANC wroeg oor reëls vir skorsing, skorsings ignoreer of dit ophef. En sukkel om plek te kry vir die kwessie op hul “besige” sakelys.
Arnie dalk Biden se man
Arnold Schwarzenegger, voormalige politikus en aksieheld op die silwerdoek, het ook sy afkeer uitgespreek van die moles in die Amerikaans kongres. Dit laat ’n mens wonder of dit Joe Biden se plan is om vir Arnie, Sylvester Stallone, Chuck Norris en ander aksiehelde nader te roep om die invallers te gaan uitsorteer. Soos Biden is hulle ongelukkig al effe lank in die tand . . .
Persone van die week
RAAKVATTER: Jimmy Stonehouse, Puma-afriger. Ja, dit was die Blou Bulle se C-span, dit is die vrotste Curriebeker-reeks in jare en Covid-19 ontwrig alles, maar ’n 44-14-oorwinning bly groot en wen bly wen.
NAT VADOEK: Bheki Cele: “Ek’s ’n dapper muis. Kyk hoe stap ek op die strand. En daar’s niks waarvoor ek skrik nie. Behalwe miskien vir ’n oorvol taxi of bushalte of ’n middestadplein vol maskerlose mense.”
BITTERBEK: Visepres. Mike Pence van Amerika. Die stomme lojalis wat nou afgejak en verneder is. Hy is wel moedig om nie onwettig op te tree nie, maar is tog weifelend om oor te neem.
Veemiddel: Kry ook brief
Dit bly ’n stryd met lesers om bydraes op betaamlike vlak te hou. Nou is dit Kobus Terblanche van Middelburg wat dwarstrek. Hy reken die veemiddel ivermektien, wat sommige dokters glo skelm voorskryf teen Covid-19, gaan sekerlik gepaard met ’n doktersbrief. Want as ’n mens vee so kyk, gaan diegene die brief benodig om aanhoudend kamer te verlaat. Kobus kry net-net sy beker. Stuur bydraes na lood@beeld.com.
’n Troosbeker gaan aan Hans Ittmann van Equestria. Jammer, Hans, Lood se 2021-voorneme is om nie enige Amerikaanse eentermynpresidente te noem nie.