Vervolg ook die ANC
Lood het ’n spesmaas hier kom nog heelwat onthullings oor diefstal van miljoene rande deur lede van die die All Corruptive Comrades (ANC). Vuisvoos Suid-Afrikaners word uit twee fronte getref. Eers is dit onthullings uit die onlangse verlede – soos nou weer oor die R54 miljoen sakgeldjie wat die spioene na bewering in maandelikse paaiemente vir Jacob Zuma oorbetaal het. En intussen blyk dit die Covid-19-diefstal woed voort – Panyaza Lesufi gooi wal oor meer as R400 miljoen in sy departement. Nou wil ’n vriend by Lood weet, is dit nie tyd dat die ANC as misdaadorganisasie ondersoek en vervolg word nie? Inderdaad, CR het mos self gesê hy is beskuldigde nommer een.
SA nou betraande land
Wie onthou nog F.A. Venter se reeks boeke Geknelde land, Offerland, Gelofteland en Bedoelde land? Lood glo ons kan nog die wa deur die drif trek; tog dryf die byna daaglikse onthullings van nog diefstal deur die All Corruptive Comrades (ANC) ’n mens om nog ’n titel voor te stel. Wat van “Betraande land”? Ligpunt is, die kamerade is besig om hulself te vernietig.
Persone van die week
RAAKVATTER: Sydney Mufamadi. Hy deel dit met al die spioene en ander wat (ongelukkig nou eers) onthul hoe JZ en sy ANC die land se intelligensiedienste glo b
NAT VADOEK: Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, vir haar poging om te keer dat Loyiso Jafta, waarnemende direkteur-generaal van staatsveiligheid, voor die Zondo-kommissie getuig.
BITTERBEK: Arthur Fraser, voormalige spioenbaas in die JZ-staatskapingsbewind, is erg omgekrap. Hy en sy gesin is nou glo ’n teiken ná getuienis voor die kommissie. Lood het wel simpatie met sy gesin.
Toets of entstof effektief is
Lood begin werklik bekommerd raak oor die uitwerking van die pandemie, die inperking en regeringskorrupsie op die psige van ons volk.
Kyk nou byvoorbeeld die toets wat Joan van Ellewee van Vanderbijlpark voorstel om te bepaal of die entstowwe wel doeltreffend is: “As die ANC-kamerade van die entstof steel, weet ons dis die moeite werd. Geen stelery, geen goeie entstof.”
Joan, jy kort ’n sterk koffietjie. En as jy boonop nog ietsie sterkers in voorraad het, gooi by. Lood gee die beker. Stuur bydraes na lood@beeld.com.