Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lood se praatjies: Wie is die partykapers in die DA?

Wie is die partykapers in die DA? Interessant

Die politieke hoogdrama in die DA laat draaiboeke van Amerikaanse politieke TV-reekse, soos House of Cards en The West Wing, soos vulletjies lyk. Hoewel ’n draaiboek oor die DA-affêre nader aan dié van Dallassal eindig. Die groot vraag is natuurlik wie die partykapers in die DA is: Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), waar Helen Zille enkele weke uitgehang het voor haar nuwe rol? Of die ou manne, soos Tony Leon en Ryan Coetzee, wat moes help kyk wat in die verkiesing skeefgeloop het? Die duidelik georkestreerde medialekkasies oor Mmusi Maimane se Steinhoff-motor en meer het ’n mens nogal laat wonder. Hoe ook al, die DA in sy huidige vorm is duidelik uitgespeel en kan ook nie meer teruggaan na die dae van die uitgetredenes nie. Ons wag en kyk waarop alles uitloop.

Gevolge van die elmboog

Indien openbare figure minder die elmboog lig, het hulle dalk minder probleme. Rugbyspelers kry ’n rooikaart, maar politici oorleef dit meermale. Deur dit in ’n grap te doen, het Jaco Peyper wel sy deelname as skeidsregter by die Wêreldbeker tot ’n einde gebring. “Belaglik,” sê sir Clive Woodward, voormalige Engelse afrigter, tot steun van Peyper. “Gun hom ’n bietjie pret.” Lood wil nie met ’n sir staan en stry nie.

Persone van die week

RAAKVATTER: Rassie Erasmus. Hy het sy nuwe span tot in die halfeindstryd van die Wêreldbeker gevat. Die omstrede lugskoppe is duidelik bloot ’n truuk om almal se aandag af te trek. Wen bly wen.

NAT VADOEK: Die DA. Al die leiers, rolspelers, faksies, openbare verteenwoordigers – die hele spul. Dit vir die manier waarop hulle diegene wat ’n stem aan hulle toevertrou het, eenvoudig minag.

Cyril se Brutus onthul

Byname in die politiek is werklik onnodig, maar nou laat Lood Theo Roelofsz van Marble Hall maar begaan. Volgens hom het Amerika vir Donald Duck en Mickey Mouse (Donald Trump en Mike Pence). Die Engelse het Bojo the Clown (Boris Johnson). Suid-Afrika het Godzilla­ (Helen Zille), Oros Man (Collen Maine) en Mini Obama (Mmusi Maimane). Hy sê dieselfde dag wat Cyril oorsee geld vra, steek Eskom hom in die rug. Dus Cyril Caesar wat vra: “Et tu, Eisjkom?”

Lood het die Cyril-ene ’n bietjie aangepas, maar Theo se koffiebeker en koffie is op pad. Stuur gerus spitsvondige bydraes na lood@beeld.com.

Meer oor:  Lood Se Praatjies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.