Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Loop lig vir dié vier anti-enters
Jan-Jan Joubert
Jan-Jan Joubert

In Saterdag se uitgawe van The New York Times was daar ’n wonderlike artikel oor die inentingsituasie in die VSA, ’n rukkie terug, voordat mense wakker geskrik het.

“Met siekte en dood oral om hulle het sommige Amerikaners verklaar hulle sal nooit ingeënt word nie en het hulle woedend uitgevaar teen die regering se pogings om hulle te dwing. Groepe wat teen inenting gekant was, het vreeslike stories oor newe-effekte en korrupte dokters versprei. Sommige deelstate se amptenare het pogings om inentings verpligtend te maak gekortwiek, en mense het inentingsertifikate vervals om die wet te omseil.

“Die tyd was 1898 tot 1903 en die siekte was pokke. Indertydse nuusberigte en verslae van gesondheidsowerhede beskryf skares wat opmarse na skole hou om aan te dring op toegang vir hul kinders wat nie ingeënt is nie en sommige wat selfs hul bo-arms met suur brand om dit te laat lyk asof hulle ingeënt is.”

So begin die joernalis Maggie Astor se berig oor die geskiedenis van inentings in Amerika. Dit wys jou, die anti-enters met hul samesweringsteorieë is ’n tydlose, herhalende en taamlik periferale verskynsel met stories en vrese wat so ernstig en liggeraak eietyds uitgespreek word, maar wat met die jare in die laai van absurditeit ’n bêreplekkie vind. En dan net met die volgende pandemie afgestof word.

Suid-Afrika se anti-enters is ’n raserige en uiteenlopende spulletjie. Daar is die breedweg gesproke religieuse fundamentaliste, die sameswering-teoretici, die twyfelaars en die woordgoëlaars.

Suid-Afrika se anti-enters is ’n raserige en uiteenlopende spulletjie. Daar is die breedweg gesproke religieuse fundamentaliste, die sameswering-teoretici, die twyfelaars en die woordgoëlaars.

Oor die religieuse fundamentaliste swyg ’n mens eerder, want in die samevloei van kennis en vertroue wat geloof as definisie het, kies hulle om kennis heeltemal links te laat lê, asof die mediese wetenskap nie ’n Godsgawe is nie.

Die samesweringsteoretici sorg vir ligte vermaak – net jammer dis so dodelik om vir hul grappie te val. Dis nou die span wat glo in ruimtewesens en vreemde liggaamsdele (ekstra oor, mikroskyfie en so). Oor hulle, dié grappie: “Die mense wat besorg is dat die entstof hul breinkrag en genetika gaan verander, moet dit dalk maar sien as ’n geleentheid.”

Die twyfelaars is diegene onder die anti-enters wat wel ’n punt beet het. Hulle voer korrek genoeg aan dat ons nie weet watter effek die entstof oor ’n paar jaar op ons gaan hê nie. Dis noodwendig so, want Covid-19 is nuut. Ons weet darem wat die gevolge nou is – van diegene wat tans in die VSA aan die virus sterf is 99,5% nie ingeënt nie. So, miskien is daar min twyfel oor wat om te doen. En straks het die twyfelaars die verkeerde punt beet.

Laastens, die woordgoëlaars. Vir hulle moet ’n mens dophou. Dis mense wat gevestigde konsepte “herverbeel” en dan gevestigde begrippe doelbewus nuut/misleidend/verkeerd aanwend om die duidelike betekenis te vertroebel. Hulle gebruik “vryheid” en “regte” baie selektief om die gedeelde welsyn te ondermyn deur die groeiende aandrang op verpligte inenting of inentingspaspoorte teen te staan. Dit lyk soms na huigel.

Ek skaar my by mense soos die sakeman Piet Mouton in hul frustrasie met anti-enters en by mense soos dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die SA Mediese Vereniging, in hul aandrang op inentingspaspoorte om die onverantwoordelikes se regte binne die grondwetlike raamwerk “redelik en verdedigbaar” in te kort in die openbare belang en in belang van openbare gesondheid.

Indien grondwetlik en moontlik kan mettertyd oorbeweeg word na verpligte inenting sodat ons ekonomie kan regkom. Dit was 120 jaar gelede in die VSA nodig, en dit raak nou hier nodig.

  • Joubert is ’n skrywer en politieke kommentator.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.