Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Los amptenare se pensioen uit!
Judith February

Waar die waarheid oor die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) lê, kan ’n mens maar net raai.

Die finansminister, Malusi Gigaba, en sy adjunk, Sifiso Buthelezi, het verlede week saam met Dan Matjila, uitvoerende hoof van die OBK, ’n verenigde front voorgehou en gesê OBK-geld sal nié vir reddingsboeie vir die SAUK en ander mislukte staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) gebruik word nie.

Dít nadat Matjila aan die media gesê het dat Gigaba en Buthelezi “die kluis se sleutel” soek.

Julius Malema, EFF-leier, het ook twiets uitgestuur oor planne om glo van Matjila ontslae te raak en met iemand anders te vervang.

Matjila beweer sy kommentaar is misverstaan.

Maar kan Gigaba se uitsprake geglo word? Om die situasie te verstaan moet teruggegaan word na die afdanking van Pravin Gordhan en Mcebisi Jonas, onderskeidelik voormalige minister en adjunkminister van finansies.

Geen steekhoudende rede is nog vir hul afdanking verskaf nie, behalwe dat hulle ’n skans teen die kaping van SBO’s was. Hulle was onwillig om nóg openbare geld te gebruik om korrupte en wanbestuurde SBO’s soos Eskom en die SAL te red voordat die korporatiewe bestuur verbeter en korrupte bestuurders afgedank word.

Hul opvolgers is Gigaba, wat deur sy verbintenis met die Guptas gekompromitteer is, en Buthelezi, wat in ’n tyd van ongebreidelde wanbestuur en korrupsie by Prasa die voorsitter was.

As adjunkminister is Buthelezi die voorsitter van die OBK, wat R1 900 miljard in die staatspensioenfonds bestuur.

Dit lyk of Gigaba druk uitoefen op Matjila vir ’n lening van miljarde om die SAL te red

Dit lyk of Gigaba druk uitoefen op Matjila vir ’n lening van miljarde om die SAL te red. Op die koop toe wil hy die staat se belang in Telkom aan die OBK verkoop.

Die OBK is ongetwyfeld die volgende frontlinie wat plundering betref. Ons hoef nie meer te twyfel hoekom Gordhan en Jonas afgedank is nie.

Oor die afgelope jare het hierdie tipe storie meestal geëindig met die afdanking van die een wat die plunderaars probeer keer en die aanstelling van ’n korrupte, gekompromitteerde individu.

Selfs meer ontstellend is dat ons énigsins oor die ondenkbare moontlikheid van ’n OBK-strooptog bespiegel. Dit is ysingwekkend, selfs in die Zuma-jare waar enigiets moontlik lyk.

Die implikasies is verreikend vir miljoene gewone werkers. Polisielede, onderwysers en alle staatsamptenare moet strate toe as ’n waarskuwing aan Zuma en sy trawante dat nie met hul pensioene gedobbel kan word nie.

Gigaba en Buthelezi handel onverantwoordelik met staatsamptenare se toekoms. Daar is ’n vertrouensverbond tussen die staat en sy werknemers dat hulle aan die einde van hul diensjare wel die geld sal kry wat hulle in hul pensioenfondse inbetaal het. Daardie vertroue is van deurslaggewende belang vir hul geborgenheid.

Dat Zuma en sy bende sodanige plundering enigsins oorweeg, toon ons het nou ’n nuwe vlak van dringendheid rakende mobilisering teen staatskaping bereik. Ons kan nie tot Desember vir ’n wonderwerk by die ANC-konferensie wag nie – dit gaan nie gebeur nie.

Cosatu het verlede week ’n beroep vir “die moeder van alle stakings” teen staatskaping gedoen.

Daar sal veel meer aktivisme oor sektore heen moet wees om die endemiese plundering stop te sit. Dit is nóú die tyd om die ekonomie tot stilstand te dwing en te protesteer soos die burgers van Suid-Korea en Brasilië, wat ’n president tot ’n val gebring het.

Die boodskap moet duidelik wees: Moenie aan staatsamptenare se pen­sioengeld raak nie.

Meer oor:  Judith February  |  Politiek  |  Obk  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.