Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Los óns Springbokke uit
Die Springbokvleuel Makazole Mapimpi in verlede week se Wêreldbekerwedstryd teen Italië.Foto: getty images

Rugby en die Springbokke, soos die meeste dinge in hierdie vervloekte land van ons, het ’n omstrede en gekompliseerde geskiedenis en nalatenskap.

Die Britte het rugby hierheen gebring as deel van die Britse Ryk se poging om die plaaslike bevolking te verengels en die evangelie van Europese beskawing te versprei.

Sport en taal was die kragtigste wapens om dié wat vyandig was teenoor die projek van onderwerping te onderdruk en te assimileer.

Die Boere het rugby hul vakgebied gemaak nadat hulle verslaan is in die Anglo-Boereoorlog. Hulle het sport gesien as ’n manier om hul koloniseerders terug te kry, om die Britte, wat die onbestrede regeerders van wit Suid-Afrika was, fisiek te oorheers.

Gedurende die opkoms en uiteindelike oorheersing van Afrikanernasionalisme het rugby simbolies geword van Afrikanermoed.

Die Springbokke – almal wit – het die sport in die eerste helfte van die vorige eeu oorheers en eers in 1956 sy eerste toets teen die All Blacks in Nieu-Seeland verloor.

Die Springbokke – almal wit – het die sport in die eerste helfte van die vorige eeu oorheers en eers in 1956 sy eerste toetsreeks teen die All Blacks in Nieu-Seeland verloor. Teen daardie tyd was die Nasionale Party al vir agt jaar aan bewind en die apartheidsbeleid se wortels reeds diep.

Gelyklopend met die Springbokke en die amptelike en georganiseerde rugby was daar ook ’n hele ander wêreld waarin swart en bruin rugby net so gewild en net so groot was soos wit rugby.

In die Oos-Kaap, waar sendingskole die onderwyslandskap oorheers het, het rugby onder swart spelers floreer, en generasies jongmense het grootgeword met ’n ovaal- eerder as met ’n ronde varkblaas. In die Wes-Kaap is bruin mense, wat ook eenkant toe geskuif is, gedwing om hul eie spanne, kulture en legendes te vestig.

Toe rugby in 1992 verenig is, met wit, swart en bruin unies wat een administratiewe liggaam gevorm het, het dit tot jare van onenigheid en politieke omstredenheid gelei.

Dit het tyd geneem vir rugby, wat oorheers is deur die ou skool, Ou Testament en ou Afrikaners, om by nuwe werklikhede aan te pas. Omstrede gebeure, soos toe Andre Markgraaff die k-woord gebruik het terwyl hy Bok-afrigter was, het rugby ontsettende skade aangerig.

Maar die realiteite van die rugby van 2019 is ligjare verwyder van die vroeë dae van die 1990’s en die eerste dekade van hierdie eeu.

Die kultuur in en om die span het verander en die Springbokke, gegewe die beperkings van die voerstelsel, is bes moontlik die mees getransformeerde en universeel aanvaarde span van enige nasionale span in die land. Rassie Erasmus, die afrigter, is ook diep bewus van die verwikkeldheid van die samelewing, die geskiedenis van die sport en die Springbokke, asook die broosheid van rasdinamika.

Hy het die beteuterde Bokke die afgelope twee jaar in wenners verander, met ’n aantal swart spelers propvol talent, spiere en houding.

Hy het die beteuterde Bokke die afgelope twee jaar in wenners verander, met ’n aantal swart spelers propvol talent, spiere en houding wat hulself as gereelde spelers in die span gevestig het. Hy het die kapteinskap aan Siya Kolisi toevertrou, wat in die voetspore volg van ambassadeurs soos John Smit en Francois Pienaar, wat verstaan het dat die kapteinskap van die nasionale rugbyspan nie net daaroor gaan om lynstaanbesluite te neem nie, maar ook om die geskiedenis, die samelewing, gevestigde belange en toekomsverwagtinge te oorbrug.

Die verontwaardiging oor die vleuel Makazole Mapimpi wat oënskynlik deur ’n groep wit spelers weggewys word ná verlede week se oorwinning teen Italië is gegewe die pad wat die sport gestap het bitter hartseer. Die span, die sport en die spelers is aangeval deur te sê hulle is rassisties teenoor ’n swart speler, selfs nadat Mapimpi die konteks van die gebeure verduidelik het.

Konteks, spandinamika, spankultuur, die sport se tradisies . . . niks kon dié wat die span en sport wóú aanval, oortuig nie. Mapimpi is selfs deur die sogenaamde gedagte-polisie op sosiale media vertel wat om te dink.

Rugby is ’n sport waarin bande gesmee word onder sub-groepe van spelers wat dié wat dit nooit gespeel het nie, wat nooit saam met hul beste vriende ellendig gevoel het nadat hulle ’n wedstryd verloor het nie, en nooit saam gebloei het nie, nooit sal verstaan nie. Die voorry-klub lag vir die bangerige agterspelers, die slotte deel klappe uit na die losskakel, en die skrumskakel en die losvoorspelers het hul donker weë, terwyl die vleuels lekker in hul skoon broeke kan bokspring.

Hierdie span is Rassie en Siya se span. Hulle is moderne, professionele Suid-Afrikaanse sportmanne. Hulle weet waaroor dit gaan en verstaan hulle plek in die samelewing.

Mapimpi is nie weggejaag omdat hy swart is nie. Hy is weggejaag omdat hy nie deel is van die plaasvervangersgroep – die “Bomb Squad” – nie. Nes Lood de Jager kort voor hom weggejaag is.

Die Springbokspan, of hulle nou die Wêreldbeker wen of nie, het gewys wat ’n groep Suid-Afrikaners kan vermag wanneer swart en wit en bruin saamwerk. Dit kan hoop bring en trots kweek. Dit is ’n span waarin die helde Makazole, Herschel en Frans genoem word. Presies nes dit moet wees.

Hierdie artikel het oorspronklik in Engels op News24 verskyn.

  • Du Toit is assistent-redakteur van diepte-nuus by News24.
Meer oor:  Pieter Du Toit  |  Springbokke  |  Afrikaners  |  Rugby  |  Geskiedenis  |  Bokke  |  Sport  |  Tradisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.