Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Luister is die kern van ’n soliede gesprek
Annemarie van der Walt

Om op te soek na wees na die kuns van gesprekvoering is my halfjaarvoorneme. Ek wil ’n speurder word na die gesels tussen mense waar boeiende, lukrake onderwerpe onverwags soos ’n ystervarkpen op ’n sypaadjie opduik.

Dit sal ’n trapsuutjie-soektog verg, weet ek. Want dit kan enige tyd en op ’n onverwagse plek gebeur en dan moet ’n mens jou pose kan hou en ongesiens tot binne hoorafstand skuifel. Miskien is ek dan so gelukkig om af te luister hoe lyk pouoogmotte se papies of iets – sommer so in die supermarkgangetjie tussen die tandepasta en oorpluisies.

Dit sal ’n bonus wees, want die eintlike gesprekke ontstaan mos om ’n etenstafel. En nou, met die lang wintersaande, is die hongerte na ’n langsame en leersame gesprek voorop, een wat gestand sal doen aan Mark Twain se woorde (my vertaling): “Laat ons ’n spesiale poging aanwend om nie met mekaar te kommunikeer nie, sodat ons ’n gesprek kan voer.”

Dis dié bolangse kommunikasie waarop ek tans ietwat teë is, die alledaagse lospratery besaai met geykte one-liners en opgewarmde openbare opinie pleks van ’n gesonde en deurdagte eiesinnigheid. Veral my eie.

Daarom sal ek ’n wintersbredie brou, die kaggelvuur laat brand, die tafel dek en goeie wyn skink wanneer die dogters binnekort huis toe kom.

En veral ook die aandrang: “Luister na mý.” Sodat ek gaan soek na Tamina, ’n terloopse karakter in Milan Kundera se The Book of Laughter and Forgetting wat in ’n koffiewinkel werk waarheen mense graag gaan omdat sy ’n goeie luisteraar is: “The phrase ‘It’s absolutely the same with me, I . . .’ seems to be an approving echo, a way of continuing the other’s thought, but that is an illusion [ . . .] Because all of man’s life among his kind is nothing other than a battle to seize the ear of others. The whole secret of Tamina’s popularity is that she has no desire to talk about herself. She submits to the forces occupying her ear, never saying: ‘It’s absolutely the same with me, I . . .’ ”

Daarom sal ek ’n wintersbredie brou, die kaggelvuur laat brand, die tafel dek en goeie wyn skink wanneer die dogters binnekort huis toe kom. Ek sal hul woorde hóór en nie hul sinne kortknip nie, ek sal my weerhou van ma-lesse, en meegee aan ’n gesprek soos Evelyn Waugh beskryf: “Conversation should be like juggling; up go the balls and plates, up and over, in and out, good solid objects that glitter in the footlights . . .”

Daar sal stiltes wees, tye wanneer ons bloot na die vlamme staar asof dit die antwoord op alles is voordat een van ons opnuut ’n gedagte opper, elkeen ’n draad daarvan optel sodat dit met skering en inslag tot ’n gesprek geweef word. En ek sal terugdink aan ’n dag jare gelede toe ek kon saamkuier met PG du Plessis en Chris Barnard en verwonderd was oor die behendigheid van hul gesprekvoering. Dae lank was ek onder die ban van die kuns daarvan.

Ek sal my glas lig tot die Heelal waar hulle nou, so glo ek, die jare lange gesprekke voortsit. En sou die dogters vra waarom die gebaar, sal ek antwoord: “Ek luister.”

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Luister
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.