Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Luister na méér stemme
Prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die regering se adviesraad oor Covid-19.Foto: verskaf

Die koronavirus en die meegaande inperking het ons in ’n donker tyd gedompel – en alle aanduidings is dat ’n selfs donkerder tyd voorlê.

Dit is dus belangrik om te vra: Na wie luister die leiers wanneer hulle besluite moet neem – wie is die stemme in hierdie donker tyd?

Die goeie nuus is dat wetenskap­likes, anders as in baie ander lande, ’n belangrike rol in Suid-Afrika speel. Prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die regering se adviesraad oor Covid-19, se aanbieding verlede Maandagaand was insiggewend, oortuigend en verantwoordelik. So ook die paneellede wat saamgesels het.

Maar die virus en die teenreaksie vereis meer as net een soort kennis.

Veral as ’n mens die gevolge van die inperking begin bereken, moet die epidemiologiese vooruitskattings geweeg word teen ander vooruitskattings, soos die invloed op armoede en hongersnood, en die moontlikheid van maatskaplike onrus. Hierdie resultate moet weer inspeel op die epidemioloë se modelle.

Mense wat in groepe plunder en betoog, verhoog die waarskynlikheid dat die siekte vinniger versprei. Ons grootste uitdaging is nie meer biologie nie, dis gedrag.

In die epidemiologiese modelle wat die ronde doen, word aannames gebaseer op slegs virologiese eienskappe.

Daarom sou ek graag wou sien dat ons leiers meer met gedragswetenskaplikes gesels. In die epidemiologiese modelle wat die ronde doen, word aannames gebaseer op slegs virologiese eienskappe.

Byvoorbeeld, ’n algemene aanname tans is dat een persoon die virus na drie ander versprei. Maar hierdie syfer word oor lande en bevolkingsgroepe heen herhaal en neem geensins die geweldige gedragsverskille tussen mense in ag nie.

Om een ligsinnige voorbeeld te gee: Nigeriërs is die mense met die grootste WhatsApp-groepe – daar is gemiddeld meer as 50 mense in elke Nigeriese WhatsApp-groep. Daarenteen ken ek skaars 50 mense!

Kortliks, die aard van sosiale interaksies verskil geweldig oor groepe heen – nie net in hoeveel kontak mense het nie, maar in die soort netwerke wat hulle vorm.

Hier kan wiskundiges geskoold in netwerk-analise ons baie help. Kan ons nie aan innoverende beleid dink wat mense se tussenliggingsentraliteit verminder sonder om hul vryhede veel in te perk nie?

Die werk wat epidemioloë doen, is uiters belangrik en hul insette is noodsaaklik. Maar dit kan nie die enigste insette wees nie.

Daar is ’n legio vakdissiplines wat waardevolle insette kan en moet lewer om pandemieprobleme die hoof te bied – ekonome met hul makro-modelle, filosowe met hul verstaan van etiek, wiskundiges met netwerk-analises, datawetenskap­likes met masjienleer, historici met hul lesse uit die verlede, en ingenieurs wat ons help om nuwe tegnologieë te ontwikkel

Hierdie kennis gaan nodig wees omdat ons binnekort ’n tyd betree waar ons komplekse keuses gaan moet maak, keuses wat ons voor gruwelike alternatiewe gaan plaas.

As ons na net een vakdissipline luister, gaan ons verkeerde besluite neem.

As ons na net een vakdissipline luister, gaan ons verkeerde besluite neem. Hoekom? Die gedragsekonoom Dan Ariely verduidelik dit só in ’n 2010-artikel in die Harvard Business Review: “Mense pas hul gedrag aan op grond van die maatstawwe waarteen hulle gemeet word. As jy iets meet, gaan die persoon eenvoudig alles anders los en fokus op daardie een maatstaf. Wat jy meet, is wat jy kry. Punt.”

Die aantal Covid-19-gevalle en sterftes word daagliks gemeet en aangemeld. Dit is waarteen ons leiers, veral pres. Cyril Ramaphosa, dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en Karim tans gemeet word.

Wat ons nie meet nie, is die hoeveelheid sterfgevalle weens hongersnood of maatskaplike onrus.

As Ariely reg is, beteken dit ons leiers sal (onbewustelik) bevooroordeeld wees in hul keuses. Hulle sal die aantal sterfgevalle so laag as moontlik wil hou en die ander (ongemete) sterfgevalle minder swaar weeg. Dié keuse het natuurlik ook verdelingsgevolge, met ryker mense wat meer geneig sal wees om weens Covid-19 as van hongersnood te sterf.

Ek weet die president en sy span ministers is bewus van die nodigheid om uiteenlopende stemme te hoor en dat hulle reeds met ’n verskeidenheid kenners gesels. Gisteraand se aankondigings oor ekonomiese ondersteuning getuig hiervan. Maar dit sal goed wees as hierdie stemme ook met die res van Suid-Afrika gedeel word.

Tans sien ons net Karim met sy epidemiologiese model en meet die staat se reaksie teen die aantal Covid-19-sterftes – net die een kant van ’n veelvoudige probleem.

  • Fourie is medeprofessor in ekonomie en geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch. Sy navorsing en ander skryfwerk is beskikbaar by johanfourie.com.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.