Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Luister net hoe kwetter boeke met mekaar

Kan boeke met mekaar praat?

Ek weet, en hoewel vriende gevra het dat ek ophou uitwei oor my groot trek oor ’n klein afstand, het ’n wonderbaarlike ding gebeur: Ek verbeel my ek hoor snags ’n kwaai gerumoer uit die boekrakke.

Dit kom só: Die bokse boeke is vir die trek spesifiek gemerk: Poësie, ABO, Bio’s, ensovoorts. Die uitpakkers ken nie Afrikaans nie, maar het volgens grootte, kleur en dikte boeke in rakke gepak. Nou staan Triomf langs The Affair.

Waaroor sou Marlene van Niekerk en Lee Child met mekaar in lewende lywe gesels? Of wat sê yskoue Jack Reacher vir yskasbedonnerde Lambert?

Of ’n Karel Schoeman beland langs die visterman Piet Beyers se Waaraan ek dink as ek terugdink. Sal Schoeman oor visvang gesels? Of sal Beyers oor Die uur van die engel worstel?

Nathan Trantraal se Wit issie ’n colour nie, staan langs My Friends the Baboons; The Complete Peanuts beland langs Broedertwis.

Hiert! Nelson Mandela se Long Walk to Freedom is langs The Super-Afrikaners. Die Broederbond en ANC in gesprek?

Mense en hul boeke is boeiend: ’n Vriendin wat pleit vir haar geliefde, geërfde voosgevatte en losbeblaaide Kook en Geniet (al kook sy uit die nuwe uitgawe). En die vriend wie se oom wou weet of Leo Tolstoy se War and Peace iets oor die Boereoorlog “vertel”. En, is die Broers Karamazof Jode?

Die neef wat nie gou genoeg sy Kama Sutra kon wegsteek voor die oom se inspeksie nie, maar die oom se enigste kommentaar was bloot “Wat vir ’n taal is hierdie boek?” (gelukkig nie oopgemaak nie).

’n Oujongnooi (ek weet nie hoekom dit relevant is nie, maar dis so aan my vertel) het ’n Karl Kielblock-versameling opgebou – die nasaat sit nou met die boeke en voel te arrig om daarvan ontslae te raak.

Die neef wat nie gou genoeg sy Kama Sutra kon wegsteek voor die oom se inspeksie nie, maar die oom se enigste kommentaar was bloot “Wat vir ’n taal is hierdie boek?”

Charlie Watts, daardie wilde tromspeler van The Rolling Stones, het een van die grootste en omvattendste versamelings Agatha Christie-publikasies. Oprah Winfrey se boekery is glo een van die grootste private versamelings (sy ontvang of word verwittig van elke boek wat gepubliseer word).

Lank gelede het ek gehoor dat ons eie Jannie Mouton ’n boekery van elke gepubliseerde Afrikaanse titel opbou. En dis bekend dat Raymond Sadomsky, wat hom in Stellenbosch tot sy onlangse dood gevestig het, se vader die grootste versameling Engelse poësie versamel het.

Toe ’n nutsman my vra of The History of the Ancient World iets oor Suid-Afrika in het, het ek die boek aangebied. Hy is ’n leser, het hy vertel, tussen werke – iets wat deesdae maar skaars is.

Ek wou voorstel dat hy die boek aan Julius Malema aanstuur, maar het my bedink.

Raai, tussen al die kwetterende titels is daar toe nie ’n klein Rooi Boekie van Mao Tse-Tung (deesdae mos Mao Zedong) se sêgoed nie. Hoe lekker sou dit nie langs Die Afrikaners sit nie.

Meer oor:  Menings  |  Trek  |  Boeke  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.