Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
LUISTER: Waldimar Pelser: Beelde: Die ANC kén van aftakel

Pres. Cyril Ramaphosa wil hê simbole van die beskamende apartheidsverlede moet weggesteek word, want sy regering wil kwansuis ’n nierassige samelewing bou waarin almal se waardigheid herstel word. Die herstel van swart Suid-Afrikaners se waardigheid, voeg die president by, vereis voorts nie net dat beelde bestorm word nie, maar ook dat armoede, ongelykheid en onderontwikkeling getakel en mettertyd afgetakel word.

Met die uitsondering van armoede, wat vererger, takel die ANC graag dit af wat reeds staan. Hulle sukkel egter om enigiets tot stand te bring waarrondom Suid-Afrikaners kan hoop om te verenig.

Aftakel is maklik. Om daarenteen verbeeldingryk en gedissiplineerd nuwe instellings of strukture of simbole op te rig in die naam van hoër strewes – waaronder die edele strewes na gedeelde welvaart en groter insluiting – is moeiliker.

Om ’n beeld van Paul Kruger of Jan van Riebeeck in ballingskap te plaas in ’n tipe Boerassic Park (met apologie aan jou, Evita Bezuidenhout) kan met die toestaan van ’n paar tenders gereël word, al kos dit miljoene en al kla die Afrikaners hóé. Dis maklik.

Die skuif van beelde is nie eie aan Suid-Afrika nie; ’n erfenislandskap is nie in klip gegiet nie. Daar is selfs kultuuraktiviste wat glo die “ou dae” se beelde sal veiliger in ’n beeldepark wees, al weet ons hoe die regering se prestasiegeskiedenis met instandhouding lyk.

Ewe maklik is om een stel simbole wat opgerig is deur en dus waardevol is vir een groep bloot met ’n ander stel “volkseie” simbole te vervang omdat geskiedenis mos deur die wenners geskryf word.

Dit is moeiliker, maar moontlik, om te kies teen bloot afbreek en vervang en eerder iets te herverbeel wat werklik inklusief is.

Turkye bied in dié verband ’n voorbeeld – en ’n waarskuwing.

Dit is maklik om ou simbole af te breek, maar moeiliker om nuwe simbole te vestig waarop alle Suid-Afrikaners trots kan wees.

Die Hagia Sofia is in 537 n.C. in Konstantinopel gebou as ’n Bisantynse katedraal, en in 1453 ná die verowering van Konstantinopel deur Mehmet II omskep in ’n moskee – pragtige minarette op die uithoeke van die ou basilika gestapel – en in 1935 deur Mustafa Kemal Atatürk, vader van sekulêre Turkye, omskep in ’n museum. Dit het moderne Istanbul se mees gevierde landmerk geword.

Danksy die herinterpretasie van die kerk-wat-moskee-geword-het, kon elke inwoner en besoeker in die manjifieke struktuur iets van hul eie erfenis raaksien. Dit was ’n verbeeldingryke, sekulêre daad wat ongedaan gemaak is deur Recep Tayyip Erdogan, Turkye se sterkman-president, wat die Hagia Sofia op 10 Julie weer omskep het in ’n moskee.

Dit was maklik.

Ramaphosa kies met sy benadering tot beelde die maklike uitweg, net soos wat sy regering sedert 1994 die maklike uitweg oor taalerfenis kies: Donderdag het hy wéér oor die waarde van moedertale gekoer terwyl sy regering elke poging sedert 1994 verydel om inheemse tale naas Engels hoorbaar te maak.

Hy praat maklik oor die uitwissing van “armoede” terwyl sy regering miljarde wanbestee of steel, “ongelykheid” terwyl die rykes se SAL ten koste van die werkersklas se taxi’s gesubsidieer word en die armstes die swaarste deur die staat se drakoniese Covid-19-inperking getref word, en “onderontwikkeling” terwyl ANC-dienslewering ineenstort.

Want dis maklik om te praat.

Dis maklik om die name van Oos-Londen of King William’s Town te verander, soos wat nou beplan word, en dit is selfs ’n geldige manier om die aanbreek van ’n nuwe orde te verklaar. Maar jy herstel nie die waardigheid van die mense van Oos-Londen met ’n nuwe naam terwyl strate nie geteer word en die water nie drinkbaar is nie. Die herstel van waardigheid vereis gedissiplineerde fiskale bestuur, onderrig wat vir jong mense ’n aandeel in die toekoms gee, en buurte waar misdadigers nie die septer swaai nie.

Dit is maklik om ou simbole af te breek, maar moeiliker om nuwe simbole te vestig waarop alle Suid-Afrikaners trots kan wees en wat ’n positiewe eenheid kan bevorder.

Suid-Afrikaners verenig tans meestal in afgryse oor die aftakeling van die spoorweë (net sewe uit Metrorail se 34 lyne loop tans), Denel (wat ’n reddingsboei eis), die SAL (lankal bankrot), die Padongelukkefonds (tegnies insolvent), Eskom (jare van kragonderbrekings lê voor), openbare gesondheidsorg (dit “stort ineen”, sê die gesondheidsombud, prof. Malegapuru Makgoba), en dele van die padinfrastruktuur.

Dit is ook maklik om, soos Ramaphosa Donderdag, oor die ideale van nierassigheid en eenheid te praat nadat sy minister van polisie in KwaZulu-Natal losgelaat is om ’n voos boerderygemeenskap die afgelope week met kru beledigings en rassestereotipering te terroriseer.

Die ANC ken van aftakel en verdeel. Albei is maklik. Laasgenoemde kan selfs polities voordelig wees op kort termyn – dit wys populistiese stuiptrekkings in baie lande om ons.

Ons kan nie met aftakel tevrede wees nie. Ons sal saam iets nuut en beter tot stand moet probeer bring.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.