Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Hier’s my boud, ent my in!

Dit reën goeie nuus oor entstowwe teen Covid-19. By ’n ruimte-eeuse fabriek in Puurs, België, word vrieskas-tassies vol entstof-flessies tans in trokke gelaai vir verskeping na Brittanje, waar bejaardes en hospitaalpersoneel Maandag reeds die eerste ontvangers van Pfizer en BioNTech se nuwe koronavirus-entstof sal word.

800 000 dosisse word binne dae by 50 Britse hospitale verwag.

Brittanje het pas die eerste land geword om dié entstof vir gebruik goed te keur. Toetse op 43 500 vrywilligers het gewys dit is veilig én dit werk: Brittanje se mediese reguleringsowerheid sê Pfizer en BioNTech se doepa bied 95%-beskerming teen die kiem wat reeds wêreldwyd 1,5 miljoen lewens kortgeknip het.

20 miljoen Britte sal in die eerste ronde twee keer elk ingeënt word, waarvan etlike miljoene reeds teen Kersfees die lewensreddende stekie in die arm (boud?) sal kry, met die kwesbaarstes voor in die ry.

Dis als vrywillig.

Dis ongelooflik: Dit is die entstof in die wêreldgeskiedenis wat die vinnigste ontwikkel en boonop getoets is volgens presies dieselfde streng protokols wat in “normale” tye vir entstowwe geld, met een kernbelangrike verskil: Met die koms van Covid-19 het regerings (meestal) ophou kibbel oor geld en miljarde dollars, ponde, roebels en renminbi na die probleem gegooi.

Die Universiteit van Cambridge se dr. Mark Toshner, wat toesig gehou het oor die ontwikkeling van ’n ander Covid-19-entstof, ChAdOx1, verduidelik in The Spectator: “Dit is waar dat Covid-19-entstowwe vinnig ontwikkel is, veral in die lig daarvan dat entstof-ontwikkeling soms tussen sewe en tien jaar duur. Maar dit beteken nie dit is in haas gedoen of onveilig nie. Die rede waarom entstof-ontwikkeling gewoonlik lank duur, is eenvoudig en het niks te doen met veiligheid nie: Entstofontwikkeling behels ’n taai stryd om finansiering, wat oorheers word deur kommersiële besluite vol burokratiese rompslomp en simpel oponthoude soos kontrakonderhandelinge wat jare kan sloer.”

Maar terwyl dit goeie nuus reën in Brittanje, pak donderwolke saam.

Geld vir ontwikkeling was skielik volop: The New York Times berig navorsers toets reeds 58 entstowwe op mense, waarvan 13 in hul finale toetsfase is, en nog 87 op diere.

Terwyl Rusland reeds sy Spoetnik-entstof toedien en die Chinese weermag ’n ander entstof goedgekeur het deur CanSino Biologics, ding firmas soos Moderna nou mee om volgende in die mark te wees.

Die resultate van Moderna se finale veiligheidstoetse op 30 000 mense het die afgelope Maandag gewys net 11 ontvangers van twee dosisse van hul entstof het Covid-19-simptome ontwikkel nadat hulle as deel van die toetsing met die virus besmet is, teenoor 185 in die plasebogroep wat simptome ontwikkel het.

Dis ’n doeltreffendheid van 94,1%.

Moderna het boonop gespog dat nie een van die ontvangers van die entstof ’n ernstige geval van Covid-19 opgedoen het – 100%-sukses.

Hulle wag net op toestemming om die entstof te begin versprei.

Maar terwyl dit goeie nuus reën in Brittanje, pak donderwolke saam.

Die een is dat die Suid-Afrikaanse regering ondanks die beloftes van Tito Mboweni, minister van finansies, steeds nie ’n oorbetaling van R500 miljoen gedoen het sodat Suid-Afrika weldra entstowwe kan ontvang van die Covax-projek nie.

Covax is ’n massiewe samewerking tussen 187 lande wat mik om te verseker dat die 20% kwesbaarste mense in 92 arm of middelinkomstelande gesubsidieerde entstowwe sal kan ontvang, al is dit eers oor ’n jaar of twee op groot skaal.

News24 het Donderdag berig die departement van gesondheid wag steeds op goedkeuring van die tesourie, wat navrae terugverwys het na die departement van gesondheid . . . Intussen loop Suid-Afrika die een spertyd ná die ander mis en loop ons die gevaar om agter in die tou te staan, soos Rapport drie weke gelede berig het.

Die tweede donderwolk laat entstof-twyfel soos suurreën neersif.

In April het Rapport se Covid-19-peiling bevind net 72% van Suid-Afrikaners is bereid om hulle te laat inent sodra ’n Covid-19-entstof beskikbaar word. 21% het gesê “nee”.

’n Mens kan verwag en hoop dat onthullings oor die massale skaal van toetsing en die onverwags hoë sukseskoers van die rits beste entstowwe van dié skeptici sal oortuig dat die inspuiting een van die beste besluite in hul lewe sal wees en ongetwyfeld veiliger as Covid-19 self is.

Maar dis wêreldwyd ’n probleem: ’n Omvattende studie deur die Wellcome Trust in 2018 het bevind net 79% van mense stem saam dat entstowwe veilig is. In Wes-Europa is die syfer 59% en in Oos-Europa 40%. Die Franse tel onder die kwaaiste skeptici.

Twyfel oor entstowwe het in talle lande al tot dodelike hernude uitbrekings gelei van siektes soos masels, waarteen 95% van kinders ingeënt moet wees ten einde te keer dat dit versprei.

Inenting is elkeen se besluit. My bo-arm (of boud!) is beslis beskikbaar daarvoor.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie  |  Entstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.