Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
LUISTER: Waldimar Pelser: Cyril se SA strook nie met realiteit

Die Suid-Afrika wat pres. Cyril Ramaphosa elke jaar in sy staatsrede beskryf, herinner aan die kamma-dorpe wat Grigori Potemkin opgerig het langs die Dnieper-rivier, wat uitmond by die Krim-skiereiland in die Swartsee.

Potemkin was nie net soldaat en staatsman nie maar ook die minnaar van Katarina die Grote, Rusland se keiserin. Toe Katarina in 1787 ’n bootreis onderneem om te gaan kyk na die grondgebied in die Krim wat Rusland pas verower het, het Potemkin – so loop die storie – “mobiele dorpies” opgerig al langs die Dnieper-rivier sodat Katarina dit uit haar trekskuit kon bewonder.

Sodra Katarina verby is, sou Potemkin se spannetjie die fasades wat hulle pas gebou het, afbreek, en oornag stroomaf herbou vir die plesier van sy vriendin die keiserin.

Hoewel historici deesdae glo dié storie is fiksie, beskryf “Potemkin-dorpie” vandag nog enige konstruk waarvan die uiterlike fasade veel beter as die werklikheid daaragter lyk.

Wat my bring by Ramaphosa.

Want hoewel hy talle van ons krisisse erken, vra hy dat ons ons nie in die aaklige werklikheid vasstaar nie, maar eerder die ANC se planne om alles reg te ruk moet sien.

Dit is egter fasades wat oornag opgerig is. Kyk deur die venster, en sien: Niemand is tuis nie. Druk teen die muur, en bwah! Dit val om.

Ramaphosa wil die hoogs suksesvolle kommersiële landboubedryf “groei en transformeer”. Rekord-oeste en goeie reëns is volgens hom die ideale geleentheid om herverdeling van grond te bespoedig in die hoop dat dit “landbouproduksie ’n hupstoot sal gee”.

Maar intussen word selfs belowende swart opkomende boere soos Ivan Cloete en Vuyani Zigana afgesmyt van staatsplase wat hulle in die eerste plek nie mag besit nie om plek vir kaders met politieke bande te maak. En te midde van werkverliese dwing Ramaphosa ’n styging van 16% in die minimum loon op die landbou af.

Ramaphosa sê “ons maak dit makliker om in Suid-Afrika sake te doen”, twee jaar nadat hy belowe het ons land sal teen 2022 van die 82ste posisie op die Wêreldbank se Ease of Doing Business-ranglys na posisie nommer 50 klim.

Maar laas jaar val ons na nommer 84 (in 2011 was ons nog nommer 35). En Donderdagaand kondig Ramaphosa ’n verdere verskerping in swartbemagtigingswetgewing aan, al waarsku beleggers al jare dit skrik hulle af.

Ramaphosa sê Suid-Afrika is “steeds ’n aantreklike bestemming vir beleggings, plaaslik en internasionaal”, terwyl kragonderbrekings byna sy eie staatsrede beduiwel het. – Netwerk24 berig dit het Eskom soveel as R10 miljoen per uur in noodkrag gekos om Donderdagaand die ligte aan te hou. Kragtekorte belemmer beleggings regdeur die ekonomie. Mynbou-eksplorasie was in 2020 op sy laagste vlak in amper twee dekades en mynbouproduksie het laas jaar met 10,7% geval.

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater, sê Vrydag aan Financial Mail R20 miljard se projekte “wag vir die regte toestande”, maar wanneer hy die direksie vir geld gaan vra, wil hulle weet: “Maar gaan ons genoeg krag hê? Is jy seker die koste van die krag gaan die projek nie nekomdraai wanneer ons halfpad daarmee is nie?”

Kragpryse styg hoeka vanjaar skerp. Dit pla beleggers. Intussen sal die onteieningswetsontwerp die staat se mag oor grond en ander bates drasties vermeerder. Net ideologies blindes sal hierin die belofte van ’n opbloei in beleggings sien.

Ramaphosa spog met die uitbreiding van maatskaplike toelaes, wat inderdaad lewens red. Sedert 2016 al kry meer Suid-Afrikaners toelaes as wat werk. Maar Ramaphosa verswyg dat soveel toelaes slegs nodig is omdat die regering nie die werkloosheidskrisis kan oplos nie. En wanneer ontvangers van toelaes te naby mekaar in rye durf staan, spuit die polisie hulle met ’n waterkanon.

Ramaphosa sê: Ons wil werk skep. Dan besluit sy regering in Januarie om nuwe reëls af te dwing op die Covid-19-sat restaurantbedryf wat die prys van arbeid opstoot, jaarlikse loonverhogings van 1,5% bo inflasie verpligtend maak, en selfs Kersbonusse afdwing. Dit kan tog net een uitkoms hê: afleggings.

Intussen maak die Ramaphosa­regering dit al hoe duurder vir die werkersklas om hul werkplekke goedkoop te bereik deur die land se trein-infrastruktuur stelselmatig tot niet te maak. Arm mense is toenemend van duurder private taxi’s afhanklik omdat die getal treinritte per dag in die enkele jaar tot Oktober 2020 met 97% gedaal het. Dít ná ’n daling van 80% in pendelaarsritte in die dekade tussen 2009 en 2019.

Die oorsaak? Vandalisme, tenderkorrupsie, swak bestuur.

Wanneer ons eendag die Suid-Afrika van slimstede, sonkrag en gelykheid wil aanskou, sal ons dit soos Katarina die Grote nie deur die vensters van ’n trein kan doen nie. En noudat Sona 2021 verby is, sal Ramaphosa sy Suid-Afrika wegpak tot dit in Februarie 2022 soos ’n Potemkin-dorp weer opgerig kan word.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.