Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Ons gras is gesteel. Is dit normaal?

Studentevriende het Sondag stiptelik 12:30 by ons stilgehou vir middagete, waar nie net vleis en gebakte aartappels nie maar ook ’n paar bottels wyn uit die era voor die jongste puriteinse prohibisie met genoegdoening voorgesit sou word.

Uit die stil keisteen-doodloopstraat het ons hulle by die erf ingelei deur ’n lae houthekkie wat in Oktober vervang is nadat misdadigers dit in die nag afgebreek het op jag na die metaal in die skarnier.

Met die trappies op – een, twee, drie, vier – verby die heldergroen plastiekgrasperk van twee by twee meter wat op ons klein erf voorgee om ’n voortuin te wees.

Binne het die wyn gevloei. Buite het die Suidooster geloei.

Toe die gaste teen 17:30 vertrek, was die grasperk weg. Gesteel.

Is dít wat hulle bedoel met die “nuwe normaal”? Want oral hoor ons deesdae ons moet gewoond raak aan dit wat enige redelike mens tot raserny sal dryf. Dinge wat revolusie in regdenkende volke sou ontketen, of ten minste regerings sou laat val, het alledaags geword.

Terwyl iets soos die polisie, wat bestaan om misdadigers te vang, self moor en roof; terwyl iets soos Eskom, wat bestaan om die ligte aan te hou, die donker oor ons bring; terwyl iets soos die regering, wat ter wille van sy mense bestaan maar hulle versaak en met sinlose maatreëls terroriseer, word ons vertel dit is als normaal.

Die woorde “welkom by die nuwe normaal” het ’n meganisme geword waarmee rasionele mense kennis gegee word om hul verwagtinge drasties te verlaag.

As jy durf dink dit is abnormaal om ná drie glase shiraz op die Sabbat te ontdek jou grasperk is gesteel, dan is die probleem nie by die grasperk-mafia nie maar by jou, wat toegelaat het dat jou verwagtinge in ’n ander werklikheid vassteek.

Jy met jou idees oor wat normaal of abnormaal is, jy met jou eis vir reg en orde, jy met jou parogiale hoop om vanaand Binnelanders tydens beurtkrag te kyk, jy is ’n anachronisme. Die “nuwe normaal” is klaarblyklik eerder dat bloedlose ekonomiese misdade deur stedelinge met versekeringspolisse goedsmoeds aanvaar word. Wees dankbaar jy het ooit ’n grasperk gehad.

(Al was dit ’n fake.)

Die “nuwe normaal” is dat jy sonpanele koop vir jou dak, net soos jy ’n private skool gevind het vir jou kind, ’n sekerheidsfirma vir jou angs, en ’n skottel sodat jy nie uitgelewer is aan die SAUK nie (al moet jy steeds jou TV-lisensie betaal).

Ontspan. Asem in. Dis “normaal”.

Ook oor Covid-19 word ons bepreek om die “nuwe normaal” te omarm. Dis “hier om te bly”.

Die “nuwe normaal” is klaarblyklik eerder dat bloedlose ekonomiese misdade deur stedelinge met versekeringspolisse goedsmoeds aanvaar word.

Ek aanvaar gedweë die nare waarheid dat die virus nog vir jare of selfs onbepaald met ons sal wees – virusse word nie sommer uitgewis nie en Covid-19 kan nie “gestop” word nie. Ons kan dit hoogstens beter leer bestuur en die kwesbaarstes beter leer beskerm en versorg.

Wat ek sukkel om te aanvaar as “normaal” is die vooruitsig dat Nkosazana Dlamini-Zuma oor twee jaar steeds op ons skerms sal verskyn om Quichotagtig oorlog te verklaar teen braaihoenders of, soos dié week, teen outomatiese tellermasjiene. Ja: Skielik is die land se 26 643 OTM’s wat miljoene Suid-Afrikaners sedert die uitbreking van Covid-19 elke dag gebruik omdat dit besoeke onnodig maak aan die takke van banke waar ’n mens skouer aan skouer met ander sterflinge staan, lewensgevaarlik, het Dlamini-Zuma Dinsdag verklaar.

“Dit het onder ons aandag gekom dat daar geen sanitasie is (by OTM’s) nie. Die regulasie is nou dat elke bank of finansiële instelling wat ’n OTM het, moet verseker daar is saniteerders by die OTM. Dit is baie belangrik, want as dit nie gebeur nie, kan die OTM’s superverspreiders word.” Banke wat versuim om dag en nag sanitasie te voorsien by alle OTM’s, van Linden tot in Lusikisiki, word deur boetes in die gesig gestaar, of tronkstraf (vir wie, wonder ek), of albei.

So it goes.

Terselfdertyd is strande, die veiligste plekke in die hele republiek, gesluit. Ook om die hekke van parke, waar die wind Covid-19-kieme kafdraf, hang swaar metaalkettings.

Winkels en kerke, selfs dié sonder ventilasie, is oop.

Ons is egter geleer dat irrasionele en inkonsekwente dekrete deesdae normaal is, al is dit nie nuut nie.

In 2021 gaan ons ons moet staal vir talle besluite wat aan ons bemark sal word as “normaal”, maar wat in werklikheid diepe disfunksie en waansin verraai.

Een hiervan is die regering se aankondiging dat hy alle aankope van entstowwe alleen sal beheer, soos wat hy die verspreiding van kospakkies verlede jaar tydens die ekonomiese insinking wou beheer.

Ons word ook gevra om die president te vertrou dat 20 000 Suid-Afrikaners tussen 1 Februarie en 31 Desember elke uur van elke werksdag ingeënt sal word.

Wat kan moontlik fout gaan?

Wat ook al verkeerd loop, kan ons gerus wees in die wete: Dit is die nuwe normaal.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Misdaad  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.