Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
LUISTER: Waldimar Pelser: Trump en Biden se welslae is gemeng

Joe Biden en die Demokrate se strategie om Donald Trump uit te beeld as ’n “wit gevaar” het geslaag, en misluk, net soos Trump se plan om Biden en die Demokrate in te klee as ’n “rooi gevaar”.

Albei veldtogte het geslaag omdat ’n rekordaantal van sowat 160 miljoen kiesers gestem het. Maar albei het misluk omdat nóg die Demokrate se fantasie van katarsis in ’n “blou golf” nóg die Republikeine se “rooi golf” verwesenlik is.

In die geval van die Demokrate het Biden gesê Trump heul met wit radikales en heerssugtiges en dat sy steun geanker is in die griewe van wit mans sonder kollege- of universiteitsgrade. Hy was ’n “wit gevaar” – die simbool van ’n veglustige GOP wat hatig is teenoor immigrante en minderhede, Covid-19 se impak ontken, en Christelike waardes vertrap.

Dié boodskap het geslaag in dié sin dat Biden die meeste stemme van enige Amerikaanse presidentskandidaat gewen het. Die meeste van dié kiesers is boonop nie deur Biden se charisma gelok nie – sy een voet is in die graf – maar deur die drang om teen Trump te stem.

Biden het boonop die deelstate Wisconsin en Michigan teruggevat ná Trump se skokoorwinnings daar in 2016, en Arizona na blou geswaai, wat 11 uit 12 keer sedert 1972 Republikeins gestem het.

Maar hul veldtog teen Trump het ook misluk: Die Demokrate kon nie die allerbelangrike senaat terugwen nie – die hoërhuis van die kongres. Hul planne om wetgewers in Texas, Noord-Carolina, Iowa, Pennsilvanië en Michigan af te vat, is alles verydel. Hulle het die wetgewer in New Hampshire verloor. Ook die Demokrate se meerderheid in die huis van verteenwoordigers – die laerhuis – het teen druktyd gelyk of dit sou krimp pleks van groei.

Daar is baie meriete in die Demokrate se taksering van Trump as ’n reeksleuenaar, boelie en despoot. Maar pogings om Trump as die kandidaat van radikale witheid uit te beeld strook kwalik met die daling in sy steun onder wit mans sonder grade vanjaar terwyl sy steun onder Latyns-Amerikaanse en swart kiesers gestyg het, volgens sommige ontleders tot die hoogste vir ’n Republikein in 60 jaar.

Die New York Times-rubriekskrywer Charles M. Blow raai dit is omdat die “wit patriargie” ook gekleurde mense gebreinspoel het.

Dié tipe onsin werk gewoon nie vir die Demokrate nie.

Maar ook Trump se boodskap oor Biden het geslaag én misluk.

Volgens Trump is Biden ’n “Trojaanse perd vir sosialisme”. Hy is die “marionet van linkse ekstremiste wat ons grense wil uitwis, ons polisie elimineer, ons kinders indoktrineer, ons helde verguis,” het Trump op 17 Augustus in Wisconsin gesê, waar hy die verkiesing verloor het.

“ ’n Stem vir enige Demokraat in 2020 is ’n stem vir die opmars van radikale sosialisme en die vernietiging van die Amerikaanse droom,” het Trump in Junie getier.

Plek-plek herinner Trump se “rooi gevaar”-retoriek aan die heksejag deur die Republikeinse senator Joseph McCarthy teen kommies in die 1950’s – hoewel die wêreld baie sedert die 1950’s verander het.

Nie net het sosialistiese eksperimente sedertdien in rampspoed geëindig nie; jong Westerlinge met geen eie belewing van sosialisme nie vrees dit ook nie meer nie: net 51% van Amerikaners glo deesdae sosialisme is ’n “slegte ding”, het ’n Gallup-peiling bevind. 58% van jonger Amerikaners staan ’n tipe sosialisme in Amerika voor.

Tog wou Trump hê kiesers moet glo Biden, ’n gematigde pragmatis, is die handpop van radikaal linkse elemente in die Demokratiese Party, wat ’n baie breë politieke kerk is.

In konserwatiewe kringe het The Heritage Foundation in September gewaarsku oor ’n “radikale strategie vir ’n sosialistiese Amerika onder Marxistiese leiding” en vroeër vanjaar was die tema van die Conservative Political Action Conference (CPAC) “Amerika vs. sosialisme”.

Trump en die Republikeine fokus veral op vier Demokratiese lede van die Amerikaanse kongres wat bekend is as “The Squad”, waarvan twee – Alexandria Ocasio-Cortez en Rashida Tlaib – hulleself “Demokratiese sosialiste” noem.

Dié “progressiewe” Demokrate, wat ’n hele paar gek idees aanhang maar tog eerder na Sweedse sosiaal-demokrate as aanhangers van die ontslape Hugo Chávez van Venezuela klink, verteenwoordig egter allermins die hart van die party. Kiesers glo nie Biden is “een van hulle” nie.

Demokratiese leiers soos Michelle Grisham, Demokratiese goewerneur van Nieu-Mexiko, het al gewaarsku dat linkse voorstelle om private gesondheidsorg af te skaf, gematigde kiesers “bang maak” en afskrik.

Genoeg kiesers glo dat Biden so ’n Demokraat van die sentrum is.

Maar die “rooi gevaar”-boodskap het Trump wel Florida help wen.

Driekwart van Trump se nuwe stemme daar het volgens The Washington Post uit die etnies diverse Miami-Dade-distrik gekom, waar Kubaanse Amerikaners en immigrantefamilies uit sosialistiese wrakstate soos Venezuela sosialisme aan eie bas gevoel het. “Biden klink soos ’n Chavista-tipe persoon, en Miami kén van sosialisme, diktators en kommuniste,” het Maria Todd, ’n immigrant uit Panama, aan die Post gesê.

Die ironie van Trump se rooi-gevaar retoriek is dat Biden die Demokratiese sentrum verteenwoordig terwyl dit Trump is wat sy party in ’n meer radikale rigting stuur.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.