Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
LUISTER: Waldimar Pelser: Vra die boere werklik te veel?

Kan enigiets wat goed is spruit uit die dood van Brendin Horner (22), wat op Donderdagaand 1 Oktober op pad was na sy meisie vir ete, oorval is, sy hande rou baklei het, en toe deur sy moordenaars vasgebind is aan ’n paal?

Horner se broer, Basjan, het dié desperate hoop uitgespreek teenoor AfriForum se Alet Rademeyer: “Woorde kan dit nie beskryf nie. Niks gaan my broer terugbring nie, maar ek hoop dat hy vir sy land gesterf het, vir sy medeboere, sy medeplaasbestuurders en vir ’n beter Suid-Afrika vorentoe.”

Vir ’n rukkie het dit Dinsdagoggend wel gelyk of Horner se grusame dood gemeenskappe sou saambind in hul aandrang op optrede en hul hoop op ’n beter Suid-Afrika.

Dalk kon Horner die gesig geword het van ’n nierassige en landwye beweging teen plaasmoorde soos wat Minneapolis se George Floyd die gesig geword het van swart en wit Amerikaners se veldtog teen polisiegeweld in swart gemeenskappe.

Met die hofverskyning van Sekwetje Isaiah Mahlamba (32) en Sekola Piet Matlaletsa (44) op aanklagte van moord het swart en wit, jonk en oud Dinsdag saam opgeruk om te eis dat geregtigheid geskied.

Een plakkaat, “Remember Their Names”, het nogal herinner aan die Black Lives Matter-beweging se veldtog “Say Their Names”, waarmee aktiviste help keer dat die wêreld ooit die name van mense soos Floyd, Eric Garner en Tamir Rice vergeet.

In Suid-Afrika het die naam van Uyinene Mrwetyana insgelyks sino­niem met die veldtog teen geslagsgeweld geword wat tegelyk huldiging en ’n politieke wapen is.

Daar was Dinsdag ander plakkate ook: “All Lives Matter”, “Boer Lives Matter!!”, “Senekal teen geweld”, “Stop Killing Farmers, Women, Children”, “Wie het opdrag vir die moord gegee?” en “Cele Must Fall”.

“Ek hoop dat ons vandag bymekaar is met die regte motiewe om ons hulp by God te vra, en nie ons eie planne te maak nie,” vra dominee Riaan agterop ’n bakkie. Hy bid: “Ons roep die naam van Jesus oor hierdie boervolk van ons, en ek bedoel mensies wat U dien, en ek gee nie om of hy wit of swart is nie . . .”

Later breek iets. ’n Polisie-njala jaag deur die skare; daar’s klapgeluide; heethoofde besluit hulle wil die beskuldigdes met hul eie oë sien . . .

André Pienaar (51), wat by Marquard boer en Vrydag aangekla is van onder meer terrorisme, poging tot moord, aanhitsing tot geweld en openbare geweldpleging, het volgens die staat geskree “Ons gaan haal hulle uit!” – toe bestorm ’n klein groepie – ooggetuies raam dit op niks meer nie as 30 – die hof.

Daar is aanduidings dat die aanslag op die hof nie heeltemal spontaan was nie en dat ’n lid van die skare reeds die oggend gedreig het om so iets te doen.

Vinnig het ’n vangwa gebrand . . .

Was die bestormers van die hof gedryf deur die ideaal van die beter Suid-Afrika waarvan Brendin Horner se broer praat? Of kyk hulle net saans TV-nuus en weet daarom wat jy hier rond met geweld kan bereik?

Hulle het dalk onthou hoe EFF-lede Clicks-takke verlede maand met petrolbomme bestook het en daarvoor beloon is met Clicks se topbestuur wat kruiperig kapituleer.

Dalk het hulle onthou hoe “Fees Must Fall”-aktiviste ouditoriums afgebrand en in ruil daarvoor gratis hoër onderwys gekry het. Of dalk wou hulle wys, soos wat die regsgeleerde Frederik R. van Dyk Vrydag op Netwerk24 aangevoer het, dat oproerige protes nie noodwendig ’n “swart ding” is nie . . .

(Iemand moes die stormramme dalk herinner het aan Kanya Cekeshe (25), wat in Desember 2017 agt jaar tronkstraf opgelê is weens openbare geweld en kwaadwillige beskadiging van eiendom nadat hy in ’n Fees Must Fall-protes ’n polisievangwa probeer brand het.)

Die meeste boere het egter nie Dinsdag konfrontasie gesoek nie.

Hulle wil bloot gehoor word.

Wanneer boere in die Bethlehem-distrik in Januarie 2020 ’n lywige verslag aan die Valke stuur oor polisie-aandadigheid in veediefstal – kompleet met MAS-nommers, die name van polisielede en die datums van insidente – en niks gebeur nie, voel hulle nie gehoor nie.

Wanneer ’n boer soos Sipho Hadebe (62) in Normandien in KwaZulu-Natal aan Rapport vertel hoe Bheki Cele se besoek aan die gebied gemoedere laat opvlam het, hoe hy “die slegte mense motiveer om by goeie mense te steel en hulle te vermoor”, en Cele kies by ’n imbizo openlik teen die boere kant, voel hulle polities geïsoleer.

Die polisie is die kern van boere-pleidooie.

Dinsdag se samekoms op Senekal het enersyds plaasgevind omdat die polisie wél opgetree het – twee verdagtes is binne vier dae gevang – en andersyds omdat soveel landbouers sê die polisie is aandadig.

Toe ek ’n boer vra of enigiets wat goed is uit die dood van Brendin Horner kan spruit, het hy bloot gesê: Die polisie moet hul werk doen. Die polisieminister moet ophou om boere verdag te maak. Polisielede moet ophou om veediewe se handlangers te wees. Is dit te veel gevra?

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.