Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Wanneer kry SA ook ’n nuwe naam?

ANC-ministers skarrel. Daar is oral aktiwiteit. Kyk net na Nathi Mthe­thwa, die minister van sport, kuns en kultuur.

Want terwyl Statistieke SA opgehou het om ’n kritiek belangrike oudit oor armoede te doen, druk Mthethwa deur met ’n oudit oor aanstootlike plekname. Mthethwa, die swaap wat in 2017 gesê het Jacob Zuma se kritici in die ANC is “verraaiers” wat hom uitlewer soos Judas vir Jesus, en wat in Februarie gesê het die kunste floreer terwyl teatermense verhonger, se naam-oudit het pas uitgeloop op ’n rits naamsveranderings in Suid-Afrika se armste provinsie, die Oos-Kaap.

Vyf jaar nadat die ANC die posisie van grootste party in die Nelson Mandelabaai-metroraad in Port Elizabeth afgestaan het aan die DA, en vier jaar nadat die oud-ANC-burokraat Crispian Olver in sy boek How to Steal a City verduidelik het hoe ’n ANC-misdaadsindikaat PE oorgeneem het, het die wind van naamsverandering danksy die vlytige Mthethwa uiteindelik deur die Baai gewaai, wat nou Gqeberha heet.

Ook King William’s Town is verlos van die koloniale juk en is nou Qonce, terwyl Volkswagen Polo’s voortaan uitgevoer sal word vanaf Kariega pleks van Uitenhage.

Die jammerlike feit dat die staat nie meer ’n lugdiens het wat vlieg nie, het Mthethwa ook genoop om ANC-meesterskap darem af te dwing op twee lughawens – PE Lughawe is nou Koning Dawid Stuurman (die 18de-eeuse Khoi-heerser) en Oos-Londen Koning Phalo, wat in die 1700’s Xhosa-opperhoof was.

Naamsveranderinge word oor die wêreld heen gebruik om die aanbreek van ’n nuwe orde aan te kondig. Suid-Rhodesië het in 1980 Zimbabwe geword, ’n aanvanklik belowende demokratiese eksperiment ná dekades van wit minderheidsregering wat inderdaad moes eindig.

Suidwes is Namibië, Bo-Volta sedert 1984 Burkina Faso, Zaïre sedert 1997 al die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), en Swaziland sedert 2018 Eswatini, al is koning Mswati III steeds alleenheerser en is sy onderdane steeds meestal arm.

In Suid-Afrika is die nuwe orde sedert 1994 ook met honderde pleknaamsveranderinge gedenk.

In Limpopo het Warmbad Bela-Bela geword, Ellisras Lephalale, Nylstroom Modimolle, Potgietersrus Mokopane, Naboomspruit Mookgophong, Pietersburg Polokwane en Soekmekaar Morebeng – die lys gaan aan. In die Oos-Kaap is die spelling van talle dorpe se name oor jare heen reggemaak, en in 2018 het Grahamstad Makhanda geword.

Meestal is dit ’n poging om ellende en verval weg te steek.

Maar soos in soveel ander gevalle van ANC-naamsverandering het die nuwe name nie ’n nuwe orde aangekondig nie, maar ’n nuwe wanorde.

In Januarie 2020 het die hooggeregshof in Makhanda die plaaslike munisipaliteit ontbind omdat inwoners se basiese grondwetlike regte tot dienste, eerlike bestuur en veiligheid so konsekwent misken is.

Hiermee het naamsverandering natuurlik niks gehelp nie, wat sedert 1994 gekonsentreer is in die twee armste provinsies, naamlik Limpopo en die Oos-Kaap.

Selfs in gevalle waar nuwe name met die verval van geboude infrastruktuur gepaard gegaan het, speel naamsverandering egter ’n simboliese en politieke rol, soos wat hoofregter Mogoeng Mogoeng in 2016 in die saak tussen AfriForum en die Tshwane-metroraad bevind het.

Volgens Mogoeng is een manier om uiting te gee aan die grondwetlike visie van insluiting om “van ons stede, dorpe, dorpies, strate, parke, wildreservate en instellings name te verwyder wat elemente uit ons verlede ophemel wat pyn veroorsaak vir ander rassegroepe of wonde weer oopkrap wat kwansuis besig is om te genees”. Selfs “onskuldige” plekname wat alleen erkenning gee aan die “geskiedenis, taal en kultuur van een ras” moet plek maak vir ’n nalatenskap vir “verdienstelike helde en heldinne van mense wat voorheen uitgesluit is”. Hy is nie heeltemal verkeerd nie; naamgewing kán vernuwing en vordering simboliseer en daar is ’n plek daarvoor in ons land.

Maar in die geval van Mthethwa en die ANC lui spasmas van naamgewing selde verbeterings in lewensgehalte in. Meestal is dit ’n poging om ellende en verval weg te steek.

Naamgewing is maklik. Daarteenoor is die moeisame projek om vir arm gesinne skoon drinkwater te verskaf, riool uit die strate te hou, die boeke te laat klop en gemeenskappe op kreatiewe maniere saam te snoer, in dosyne dorpe en stede oor Suid-Afrika heen laat vaar.

Wanneer die ANC besef hy het met Suid-Afrika gedoen wat hy gedoen het met Grahamstad en PE, sal ook dié naam verander word. In Junie 2017 het Mthethwa gesê “Suid-Afrika” is nie regtig die naam van die land nie, maar “bloot ’n geografiese beskrywing van waar ons is”. Die ANC het nog nooit oor die naam Suid-Afrika gedink nie. “Om die waarheid te sê, die land het nie ’n naam nie. Dit is nie daar nie.”

Kiesers in Gqeberha sal later vanjaar besluit of hulle met Mthethwa saamstem dat nuwe name die oplossings is vir ’n land wat in al hoe meer opsigte “nie daar is nie”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.