Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lyfstraf hoort in argief
Illustrasie: ISTOCK

As een van ses kinders het ek grootgeword in ’n gesin waar my ouers geglo het in die waarde van ’n goeie pak slae as ons “stout” was of die “huisreëls” verontagsaam het.

Soos die dag toe ek Meester Ross se motor se voorruit uitgegooi het. Ek en my broers wou kyk wie kan ’n krieketbal die verste gooi; iets wat nooit my sterk punt was nie.

My laaste ses van die bestes op skool was in matriek: Nogal by my oom, wyle Thys Adams, wat die skool se “laksman” was. En dit omdat ek skool gebunk het om te leer vir die eksamen. My studies was belangrik en ek kon nie konsentreer as die klas so raas nie.

My laaste ses van die bestes op skool was in matriek.
.

My onderwysers en my ouers, en ek is seker baie ander ouers van hul tyd, het geglo ’n pak op sy tyd is soos die spreekwoordelike brood en konfyt. Ek twyfel ook vir geen oomblik aan hul goeie bedoelings en dat hulle dit uit liefde gedoen het nie.

Maar hoe relevant is die outydse waardes – hoe heilsaam en liefdevol dit ook bedoel was – vandag nog? My seun en dogter, vandag albei jong volwassenes, het nooit pak gekry nie, maar hulle het al dikwels genoem hulle het waarskynlik grootgeword in die strengste huis wat hulle ken. Hulle het geweet wat die grense is en as ouers het ons nie geskroom om ons eie huisreëls toe te pas nie. Wat my bring by ’n onlangse hofuitspraak

Diepe verdeeldheid

Dié uitspraak van hoofregter Mogoeng Mogoeng het godsdiensgroepe in opstand. Sommige bevraagteken nou die Grondwet teenoor die Bybel. Hulle wys veral op Spreuke 19:18, waar die Skrif ouers beveel: “Tugtig jou seun terwyl daar hoop is . . .”

Dié uitspraak is deur FOR SA bestempel as ’n slag vir geloofsvryheid en maak die hof se uitspraak misdadigers van ouers wat glo dat die Skrif hulle beveel om hul kinders pak te gee.

Nie almal deel dié siening nie. Kinderregtegroepe en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) is van die groepe wat die hooggeregshof se uitspraak steun.

Op sosiale media het sommige groepe weer getwiet dat die Bybel in Suid-Afrika gereeld nadergetrek word as daar oor grondliggende kwessies gedebatteer word. Hulle verwys dan na die vorige regering, wat apartheid deur die Bybel probeer regverdig het. Jy kan enige standpunt regverdig deur ’n Bybelvers lukraak aan te haal, is hul argument.

Teoloë wys daarop dat die Bybel – soos enige ander godsdienstige boek – net riglyne is en nie altyd letterlik vertolk moet word nie.

Teoloë wys daarop dat die Bybel – soos enige ander godsdienstige boek – net riglyne is en nie altyd letterlik vertolk moet word nie. Hoe raadsaam is dit om in 2019 hierdie antieke versameling geskrifte te raadpleeg vir antwoorde? Dit sal volgens sommige teoloë net lei tot chaos en anargie. Dit is immers al eeue gelede dat Bybelse sienings, soos dat sondaars met klippe doodgegooi moet word, geldig was.

Grondwet versus Bybel

’n Vooraanstaande lid van ’n opposisieparty het sarkasties opgemerk dat dit is wat gebeur as die staat sy perke oorskry en inmeng waar hy nie hoort nie onder die dekmantel van die Grondwet.

Diegene wat nou die Grondwet bevraagteken moet daarop let dat die Grondwet die regte van kinders bo die regte van ouers en godsdiensgroepe stel. Sommige godsdienstige groepe is geneig om die samelewing net vanuit hul Christelike perspektief te beoordeel sonder inagneming dat Suid-Afrika vandag ’n sekulêre staat is met diverse godsdiensoortuigings. Dit sluit ’n groeiende getal niegelowiges in. Die staat moet ’n besluit neem in belang van alle Suid-Afrikaners, nie net een geloof nie.

Kinders se regte kom eerste

Diegene ten gunste van lyfstraf sal aanvoer dat hul pak slae altyd ten goede en in goeie gesindheid geskied. Dit mag so wees, maar diesulkes moet hulself afvra waarom dit nodig was om ’n kind gereeld pak te gee vir dieselfde oortreding as ’n pak slae dan so goed is?

As lidmaat van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) vereenselwig ek my met die NG Kerk. Dié kerk het nog nie op hierdie hofuitspraak gereageer nie, maar luidens ’n mediaverklaring van 2017 skaar dié kerk hom by die beginsel wat reeds dekades geld, naamlik: Die belange (insluitend veiligheid) van kinders word eerste gestel, selfs bo ouerlike regte. Daarom kan kinders uit ouerlike sorg verwyder word en kan ouers selfs hul ouerlike regte verbeur.

Die debat op sosiale media gaan van die veronderstelling uit dat ’n Bybels- verantwoorde opvoeding redelike en liefdevolle lyfstraf insluit. Feit is dat in die Christelike samelewing, wat sowat 80% van die bevolking is, daar byna daagliks die ergste vorme van vergrype teen kinders plaasvind – dikwels deur ouers wat daarop roem dat hulle Christene is en meen dat die gesag om só teen hul kinders op te tree Bybels gefundeer is.

Die beginsel wat nou in die debat deur sommige voorgestaan word dat die ouerlike reg om lyfstraf toe te pas belangriker is as die veiligheid van alle kinders, word nie deur die kerk ondersteun nie en klaarblyklik ook nie deur die konstitusionele hof nie.

Kinderregtegroepe voer aan kinders wat aan lyfstraf onderwerp word, ontwikkel angs en is ook geneig om dan gewelddadige gedrag as volwassenes te openbaar.

Sulke ouers kweek reeds van kindsbeen af ’n kultuur van geweld by kinders.

Christelikheid of godsdienstigheid waarborg nie redelikheid nie en talle misdade is al onder die dekmantel van liefde gepleeg. Volgens die verklaring is bewyse daarvan te kry in die kinderhof en duisende kinders wat van ouers verwyder moet word juis om hulle teen “Christelike en liefdevolle” ouers te beskerm.

Die honderde kinders wat uit hul ouers se sorg verwyder is en nou tuis is in kinderhuise wat deur die kerk opgerig is, is bewys dat nie alle ouers meer vertrou kan word om hul “kinders in liefde te tug” nie.

Sulke ouers kweek reeds van kindsbeen af ’n kultuur van geweld by kinders. Voorts versterk dit die stereotipe dat geweld probleme oplos. Dit is ook so dat talle volwassenes wat gewelddadig optree se probleme begin het toe hulle as kinders slagoffers van geweld was. Dikwels het hul ouers lyfstraf toegepas en dit Bybels geregverdig.

Dit kan dus aanvaar word dat die kwesbaarheid van kinders en hul reg op waardigheid, wat inhou dat hul beste belang in ag geneem en beskerm moet word, tesame met die vlaag van geweld teen vroue en kinders wat ons land teister, ’n rol gespeel het in die hof se uitspraak.

Tug sonder geweld, pyn

Diegene wat op die Bybel steun om lyfstraf te regverdig, lees gerieflikheidshalwe nie die tweede deel van Spr. 19:18 nie wat lui: “ . . . maar moenie dat dit jou sielsbegeerte word om hom dood te maak nie”, waar “doodmaak” verwys na pyn en leed. ’n Genuanseerder interpretasie van Spreuke 19:18 sou dus wees dat dit jou plig is om jou kind te tug sonder dat die kind enige vorm van geweld deurgaan wat pyn en lyding veroorsaak.

Dit is myns insiens presies wat Mogoeng bedoel het toe hy gesê het kinders kan doeltreffend getug word sonder om liggaamlike straf toe te pas.

Ouers moet alternatiewe metodes van dissipline ondersoek en die kerk moet ouers daarin ondersteun en leiding gee. Daar is nie meer plek in die moderne samelewing vir ouers wat onder invloed van uitgediende “heilige geskrifte” hul kinders “opvoed” deur hulle seer te maak nie.

Soos met die minderwaardigheid en ondergeskiktheid van vroue én slawerny, hoort lyfstraf in geskiedenisboeke, weggepak in argiewe.

  • Mediaverklaring deur die NG Kerk; In het Nieuws, Jean Oosthuizen, 20.9.2019; Die Burger sê, 25.9.2019; “Spanking your kid, does it help or hurt”, The Globe and Mail.
  • Le Cordeur is professor in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Tugtiging  |  Ouerskap  |  Geweld  |  Argief  |  Ouers  |  Kinders  |  Pyn  |  Lyfstraf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.