Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lyfstraf-uitspraak nie prakties deurdink

Ouers word ná die uitspraak wat lyfstraf verbied intellektueel uitgedaag om ander vorms van dissipline toe te pas, maar sal ons polisiekantore en howe nog druk kan hanteer? vra Louise Karsten.

Louise Karsten

My kinders het nog nooit slae gekry nie. Nie één keer nie. Dit was vir my as ouer nooit die geskikte keuse vir straf nie. Ek het nog altyd ’n weersin in lyfstraf as ’n vorm van dissipline gehad. Ek vind dit vernederend en eenvoudig. Dit verg nie veel intelligensie om ’n mens wat kleiner is as jy te gryp en te slaan nie. In my beroep doen ek gereeld verslag oor hofsake van kinders wat deur hul ouers aangerand word.

Ek onthou die saak van ’n jong pa in Hartenbos wat sy seun in ’n oomblik van woede en frustrasie aangerand het – of, soos hy dit aan die hof gestel het, “pak slae” gegee het.

Die aanranding het voor die seun se kleutersussie gebeur. Die uiteinde van gereelde pakke slae wat dié pa tuis uitgedeel het, was ’n seun wat weens die erns van sy kopbeserings nooit weer normaal sal kan funksioneer nie. Dag ná dag word ons oorvol howe nog voller met soortgelyke weersinwekkende sake. Dit skets die donker prentjie van weerlose, minderjarige kinders wat deur vrees gedryf word en geleer word dat geweld die oplossing vir probleme is.

Die konstitusionele hof se uitspraak voorverlede week dat lyfstraf tuis voortaan ongrondwetlik is, vind ek teoreties fantasties.

Maar dis die praktiese aspek wat pla. Hoe maak ons nou vorentoe?

Watter maatreëls is vóór die uitspraak in plek geplaas sodat dit prakties deur ouers toegepas kan word?

’n Kind wat sy ouers by die polisie gaan verkla oor hy geslaan is, sal alleen polisiekantoor toe moet gaan. Ons het nie behoorlike en genoegsame maatskaplike dienste om so ’n kind by te staan nie. Moet die klaer nadat die saak aanhangig gemaak is, teruggaan huis toe?

En as die klaer minderjarig is, sal bemiddelaars by die hof aangestel moet word om die kind met sy of haar getuienis te help?

Watter duidelike alternatiewe metodes van tugtiging word by ouers ingeprent?

Dit kan ’n praktiese probleem word. Sommige howe het slegs een bemiddelaar. Hoe gaan die howe hierdie klaers hanteer?

Ons kan dit ook verder as die howe neem.

Watter duidelike alternatiewe metodes van tugtiging word by ouers ingeprent?

En sal die nuwe wetgewing ’n wapen van manipulasie in ons huishoudings word?

Die uitspraak herinner my aan die een wat dagga in Suid-Afrika gewettig het. Ons almal weet dit nou, maar hoe nou verder gemaak?

* Karsten is ’n joernalis en skrywer wat saam met haar twee dogters in die Tuinroete-gebied bly. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Louise Karsten  |  Hartenbos  |  Aanranding  |  Lyfstraf  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.