Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ma moes dié seuntjie vroeg al getakel het

Tussen al die storms en teëspoed deur is daar darem gelukkig ook altyd storietjies met ’n silwer randjie.

Blouwillem

’n Mooi enetjie verlede week was van die agtjarige tweelingboeties in East Lynne, Tshwanetoria, wat geld uit die Sondagskool se kollektebussie gegaps het om tjoklitmintkoekies by die kafee te gaan koop, toe deur mammie uitgevang is en daarna die aangrypende briefies vir die kerk en nog hoër op geskryf het om askies te sê.

As daar maar net meer sulke mammies in ons ou landjie was. Hoeveel minder moeilikheid sou ons nie gehad het as ’n sekere Zoeloe-seuntjie se mammie hom getakel het voordat hy 783 aanklagte teen hom gehad het, saam met sy maatjies die staat se kollektebussies amper dolleeg gesteel het en tot vandag toe nog nie ’n oomblik skaam was daaroor nie?!

Ek kan nogal verstaan as agt jaar oue seuntjies sukkel om tussen reg en verkeerd te onderskei, maar as jy darem op 75-jarige ouderdom steeds glo verkeerd is reg en reg is verkeerd, is jy regtig verkeerd. Ter versagting vir die twee seuntjies moet ek darem bieg dat ek ook in ’n vroeë stadium in my lewe geglo het dat die kerkkollekte elke Sondagoggend net so na ons huis toe gegaan het.

Ek was vyf jaar oud en het baie trots saam met my ma sit en kyk hoe my pa, wat leierdiaken daar in die Bluff in Durban was (en ook ’n sersant in die polisie), die ander diakens se kollektebordjies bymekaarmaak en dié skat dan by die konsistoriedeur uitneem en in ons kar gaan laai. Of so het ek altans daai tyd geglo en daarom kon ek nooit verstaan as pa dan vir ma sê daar’s nie geld vir dié of daai nie. Dis mos pure suinigheid, want hy’s dan skatryk! Ja, my Kroon, maar anders as u, het ek darem kort daarna die lig gesien. U, aan die ander kant, het êrens gehoor: “Gee aan die keiser wat die keiser toekom”, maar toe die groot fout gemaak om te dink ú is die keiser, pleks van die president. Eisjjj, ja!

As jy op 75-jarige ouderdom steeds glo verkeerd is reg en reg is verkeerd, is jy regtig verkeerd.

Maar daar’s ek al weer op ’n syspoor met lelike storietjies terwyl ek eintlik net mooi storietjies wou oorvertel.

Die ander mooi storietjie is natuurlik dié van Waldouw Smit van die Potch Gimnasium wat sy 80-jarige ouma, Yvonne, as sy date saamgenooi het matriekafskeid toe en in sy oumagrootjie se 1970-Mazda by die groot do opgedaag het.

Mooi, seun, vir daai oulike inisiatief behoort die departement van onderwys sommer vir jou 15% by te sit vir elke vak in die matriekeksamen!

Maar aan die ander kant, dít doen hulle mos in elk geval, of hoe?

Ons ou landjie het gelukkig darem nie ’n monopolie op snaakse nuusgebeure nie.

In Hampshire, Brittanje, word ’n troetelluislang nou ondersoek ná die nagtelike wurgdood van sy eienaar. Hulle sê ongelukkig nie hoe hulle beplan om die dikke slang te oorreed om in die geregtelike ondersoek te getuig nie.

Meer oor:  Blouwillem  |  Storms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.