Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Maak beswaar teen onteiening’
Suid-Afrikaners het nog net tot 31 Januarie om kommentaar te lewer op die voorgestelde wetsontwerp om art. 25 van die Grondwet te wysig vir onteiening sonder vergoeding. Foto: Conrad Bornman

Die voorgestelde wetsontwerp om art. 25 van die Grondwet te verander vir onteiening sonder vergoeding hou ernstige gevolge in vir die land se mense, die ekonomie en voedselsekerheid.

Dit is net voor die skoolvakansie en feestyd, op 6 Desember, deur die parlement vir kommentaar gepubliseer, met ’n afsnydatum van 31 Januarie.

Hierdie tydsberekening was nie toevallig nie. Die regeerders het hul hoop geplaas op baie mense wat met vakansie sou wees en aan die begin van die nuwe jaar te besig sal wees om moeite te doen en kommentaar te lewer.

Die voorgestelde grondwetlike veranderings sal die besluit oor die omstandighede vir vergoeding aan ’n gewone meerderheid in die parlement oorlaat.

Elke Suid-Afrikaner wat die belange van die land op die hart dra, behoort beswaar te maak teen sulke wysigings.

Dié wetsontwerp is nie slegs op landbougrond van toepassing nie, maar op alle eiendom.

Dié wetsontwerp is nie slegs op landbougrond van toepassing nie, maar op alle eiendom. Selfs mense wat nie eiendom besit nie, sal die nadelige ekonomiese uitwerking daarvan voel.

In my voorlegging aan die parlement gaan ek verskeie redes vir beswaar voorhou. Mense kan hierby afkyk en leen, na gelang van hul eie omstandighede om hul besware aan die parlement te stuur:Politieke redesDie parlement behoort nie die mag te kry om met ’n gewone meerderheid te bepaal wat die omstandighede vir onteiening sonder vergoeding moet wees nie.

Die huidige art. 25 maak voorsiening vir onteiening vir openbare doeleindes en in openbare belang, met regverdige of billike vergoeding.

Die Grondwet bepaal tans dat mense of gemeenskappe wat ná 19 Junie 1913 op grond van ras en met diskriminerende wette of praktyke van hul eiendom ontneem is, geregtig is om, soos die parlement bepaal, hul eiendom terug te kry of billik daarvoor vergoed te word.

Die Grondwet maak dus reeds voorsiening vir die onteiening van eiendom en die regstelling van die historiese gevolge van rassediskriminasie voor 1994.

Na raming is tussen 1960 en 1983 ongeveer 3,5 miljoen mense as gevolg van diskriminerende wetgewing verplaas.

Historiese onregte kan egter nie reggestel word deur wetgewing wat gewone mense se eiendom weer in die gedrang bring nie.

Mense wat tussen 1913 en 1994 hul grond as gevolg van diskriminerende wetgewing verloor het, kon restitusie-eise indien. Alhoewel grondrestitusie redelik suksesvol was, het dit nie tot die herverdeling van grond (grondhervorming) bygedra nie, omdat 92% van die restitusie-eisers geldelike uitbetalings, eerder as grond, verkies het.

Met die sowat R5 miljard wat tussen 1995 en 2011 aan restitusie-eisers uitbetaal is, kon 2,6 miljoen hektaar grond gekoop word. Daarmee kon die herverdeling van landbougrond ’n hupstoot gekry het, met 30% landbougrond in swart mense se besit.

Die DA-LP Annette Steyn het in die parlement die grootskeepse mislukking met grondhervorming uitgewys: Met die R70 miljard wat reeds teen 2015 aan grondhervorming bestee is, kon ongeveer 50% van die landbougrond in die land gekoop word.

Korrupsie is een van die hoofredes vir die mislukking van grondhervorming.

Die regering moet maar eers wys hul begunstigdes kan produktief boer voordat hulle voedselproduksie op produktiewe plase in die gedrang bring. Die meeste grond wat in die grondhervormingsproses herverdeel is, is onproduktief.

Die grootste behoefte onder mense is stedelike grond vir behuising, wat stedelike eiendom – net soos landbougrond – die teiken van onteiening maak en in die gedrang bring.

Volgens opnames deur die Instituut vir Rasseverhoudinge is slegs 1% van Suid-Afrika se mense oor die herverdeling van grond bekommerd. Die meerderheid is meer bekommerd oor werkloosheid, swak dienslewering en misdaad.

Grond bly ’n politieke weerligafleier vir ander regeringsmislukkings.Die ekonomie

Sekerheid van eiendomsreg is kernbelangrik vir beleggings in enige land se ekonomie. Sonder eiendomsregsekerheid sal Suid-Afrika nie beleggings vir werkskepping kan lok nie. Die gebrek aan die grondwetlike beskerming van eiendomsreg sal nuwe beleggings stuit, wat saam met gebrekkige munispale dienslewering en die land se kragprobleme sal lei tot die groter uitvloei van kapitaal.

Die ontneming van eiendomsregte in lande soos Zimbabwe en Venezuela het rampspoedige maatskaplike en ekonomiese gevolge gehad.

Die ontneming van eiendomsregte in lande soos Zimbabwe en Venezuela het rampspoedige maatskaplike en ekonomiese gevolge gehad. In albei lande het nasionalisering gelei tot uiterste armoede onder 90% van die bevolking.

Die ANC-regering se pogings om die Reserwebank, gesondheidsorg, sport en eiendom direk onder die staat se beheer te plaas, is deel van die doelwitte van die Nasionaal Demokratiese Revolusie. Die blote onteieningsmag wat die voorgestelde grondwetlike wysigings aan die regering bied, sal die waarde van alle eiendom en titelaktes in die gedrang bring.Landbou

Die voorgestelde wysigings hou nadelige gevolge in vir beleggings in die landbou.

Politieke retoriek deur onder meer die ANC en EFF dui aan dat, indien die grondwetlike wysigings goedgekeur word, landbougrond in die spervuur sal wees.

Die voorgestelde grondwetlike wysigings sal die voorwaardes waaronder onteiening sonder vergoeding kan plaasvind in die hande van ’n gewone meerderheid van die parlement plaas. Dit word in ’n voorgestelde wetsontwerp uiteengesit. Hierdie wetsontwerp kan egter enige tyd in die toekoms gewysig word en is bloot ’n weerligafleier om mense te probeer gerusstel terwyl die Grondwet gewysig word.

Foto:

Die voorgestelde wysigings hou nadelige gevolge in vir beleggings in die landbou, wat saam met ongunstige omgewings- en veiligheidsfaktore voedselsekerheid in die gedrang sal bring.

Die Wêreldnatuurfonds SA het aangedui 69% van landbougrond in Suid-Afrika is geskik vir weiding, terwyl slegs 13% geskik is vir gewasproduksie en 3% hoogs vrugbaar is.

Dit is hoogs onwaarskynlik dat onteiening op minder produktiewe grond sal plaasvind.

Suid-Afrika se kommersiële boere produseer 95% van die kos in die land en bestaansboere 5%.

Verdere onderbesteding of onproduktiewe grondhervorming kan ernstige gevolge vir voedselsekerheid in Suid-Afrika inhou.

Landbouproduksie hang nie net van grond af nie, maar ook van kapitaal, infrastruktuur en kernbelangrike kundigheid.

Suid-Afrikaners wat nie met die wysigings saamstem nie, moet hul stemme voor 31 Januarie laat hoor en hul redes gee. Dit kan per e-pos gedoen word aan section25@parliament.gov.za, skriftelik aan Mnr. V. Ramaano, 3de vloer, Pleinstraat 90, Kaapstad, 8000 of aanlyn by www.protectpropertyrights.co.za.

Dr. Jankielsohn is die leier van die amptelike opposisie (DA) in die Vrystaatse wetgewer.

Meer oor:  Roy Jankielsohn.  |  Landbou  |  Wetsontwerp  |  Grond  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.