Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maak maar gereed vir verkiesing

Die onsekerheid en bespiegeling oor die moontlike uitstel van 27 Oktober se munisipale verkiesing is in hierdie stadium onnodig.

Jan-Jan Joubert
Jan-Jan Joubert

Die onsekerheid het ’n hupstoot gekry met die besluit van die Verkiesingskommissie (OVK) om die voormalige adjunkhoofregter, Dikgang Moseneke, aan te stel om vas te stel of ’n vrye en regverdige verkiesing te midde van die voorkoms van die Covid-19-pandemie moontlik is. Die beweegredes vir die OVK met dié aanstelling word wyd verkeerd verstaan.

Die Grondwet laat nêrens toe dat die verkiesing uitgestel word nie en daar is nie tyd vir die konsulterende proses om die Grondwet te wysig voor die verkiesing op 27 Oktober moet plaasvind nie.

Die OVK is op rekord dat hy meen ’n vrye en regverdige verkiesing is moontlik en dat hy maatreëls ingestel het om so ’n verkiesing te laat plaasvind.

Die OVK het nie veel van ’n keuse nie – daar is geen voorsiening in die Grondwet vir die uitstel van die verkiesing nie, en dis ook goed so. Met hierdie regering van ons sal munisipaliteite se termyne heel moontlik ewe voortdurend as die huidige ramptoestand verleng word. Demokrasie kan tog so steurend wees vir magshebbers.

In die proses het die kretie en die pletie – ook alle politieke kandidate of partye – die geleentheid om ’n inset te lewer en regulasies voor te stel.

Die realistiese verwagting binne die OVK-opset is dat enige partye wat swak presteer in die verkiesing gaan doen wat politieke partye doen wanneer hulle swak presteer in verkiesings – hulle gaan nie hulself blameer nie, maar eerder al die skuld op iemand anders pak. Dit sien ons ná elke stel tussenverkiesings, en dat dieselfde proses gaan volg ná 27 Oktober is so seker soos dat nag volg op dag.

In hierdie geval kan ’n mens met absolute sekerheid voorspel dat teleurgestelde kandidate en politieke partye die OVK hof toe gaan sleep om te beweer hulle het swakker presteer as wat hulle eintlik moes omdat die virus-inperkings beteken het die verkiesings was nie vry en regverdig nie.

Dit sou mos vir enige teleurgestelde party of kandidaat lekker wees om dan ’n tweede kans te kry en dan beter te vaar. Die EFF het byvoorbeeld reeds elke aanduiding denkbaar gegee dat dit sy strategie gaan wees.

Die gedagte onderliggend aan die aanstelling van Moseneke is dus om (losweg gestel) die noodwendige hofsake vooruit te loop en vir die OVK om homself in die beste moontlike posisie te stel om daardie hofsake maklik te wen.

Moseneke doen dus twee dinge. Hy bepaal of ’n vrye en regverdige verkiesing moontlik is, ja. Maar belangriker is dat hy insette van belanghebbendes vra oor hoe so ’n vrye en regverdige verkiesing deur die uitreik van verkiesingsregulasies verseker kan word.

In die proses het die kretie en die pletie – ook alle politieke kandidate of partye – die geleentheid om ’n inset te lewer en regulasies voor te stel. Waar dit binne die perke van redelikheid uitvoerbaar is, sal Moseneke dit by die voorstelle vir kiesregulasies insluit.

Enigeen wat nie ’n voorlegging maak nie, sal moeilik later in ’n hofsaak oor die regulasies kan kla, want hulle sou die kans op ’n inset gehad en versaak het. En elke voorlegging wat nie ingesluit word by die regulasies nie, sou reeds deur ’n voormalige adjunkhoofregter as onredelik bevind wees.

Boonop kom Moseneke polities nie uit een van die groot politieke partye nie. Hy kom uit die piepklein PAC, so dit sal maar sukkel om hom van bevooroordeeldheid teenoor enige party te beskuldig of so ’n vooroordeel te bewys.

Daar is dus baie dinkwerk in die OVK se besluit in. Gaan dit werk? Ons sal sien. Maar maak solank gereed om op 27 Oktober te gaan stem – masker, ontsmettingsmiddel, ID en al.

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Stem  |  Verkiesing  |  Kiesers  |  Politieke Partye  |  Uitstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.