Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maak sin in tye van angs

Die onluste en plundery in die land het te midde van die Covid-19-pandemie gevoel soos die laaste strooi wat die kameel se rug gaan breek. Vir baie mense was die afgelope twee weke moeisaam. Carla Lewis het by kenners gaan raad vra.

Talle mense het tydens die onlangse plundertogte angstig en gespanne gevoel. In krisistye is dit geldige emosies, maar as dit langdurig raak, moet jy hulp kry, waarsku kenners.Foto: ISTOCK

Dit was skuins voor 1994 en ek was ’n wit, tienjarige kind in voorstedelike Suid-Afrika.

In die klaskamers was daar plakkate met replikas van wapens teen die mure opgeplak om jou te help onderskei tussen ’n landmyn en ’n handgranaat, ingeval ’n terroris een in die kleedkamer of op die rugbyveld sou wegsteek.

In 1993 was noodplan-oefeninge ’n alledaagse gebeurtenis by ons laerskool. Daar was een vir ’n skietery (val plat op die grond onder jou lessenaar en wag op die juffrou se teken wanneer dit verby is) en een vir bomdreigemente (vorm ’n netjiese, tjoepstil ry en loop “flink en vinnig” na die paviljoen, totdat die onderwysers laat weet alles is weer dooddollies).

Ek was salig onbewus van die redes vir die noodplanne, maar dit was die jaar toe Sabelo Phama, militêre bevelvoerder van Apla (Azanian People’s Libera­tion Army), verklaar het dat hy “sy gewere op kinders sal rig om wit mense te tref waar dit die seerste maak”.

In daardie jaar is 24 mense dood in aanvalle wat met Apla verbind word. Eers later sou ek in geskiedenisboeke lees hoe na Suid-Afrika aan ’n burgeroorlog was. Tog het die lewe voortgegaan in voorstedelike Suid-Afrika.

Kinders is elke oggend klokslag by die skool afgelaai, het sonder ouertoesig met fietse in die strate kerjakker en pienk melkskommels by kitskosrestaurante geslurp.

“Was julle nie bang om ons skool toe te stuur nie?” vra ek my ma.

“Nie regtig nie. Ons het geweet daar is onluste en gevaar, maar dit het ver gevoel.”

“Waar het julle jul nuus gekry?” vra ek my pa, wat daardie jare in ’n fabriek skaars 10 km van Soweto gewerk het.

“Die koerante en sewe-uur-nuus,” antwoord hy. “Daar was nie WhatsApp-boodskappe, alarmistiese inskrywings op sosiale media en 24-uur-nuuskanale nie.”

Die ongeërgdheid en aanvaarding waarmee my ouers en hul generasie geleef het in een van Suid-Afrika se gevaarlikste tye, voel amper onverantwoordelik en onrealisties.

“Ons moes voortgaan met die lewe,” was my ma se saaklike antwoord. “Ek moes kinders grootmaak en jou pa moes kos op die tafel sit.”

Dis wanneer jy met kenners oor geestesgesondheid gesels oor mense se reaksie op die onlangse pandemie en onluste dat ’n mens begin wonder oor die waarde van daardie spreekwoord ignorance is bliss.

(Te veel) kennis is angs

Dr. Anusha Lachman, ’n kinderpsigiater wat in die raad dien van die vereniging van psigiaters (Sasop), sê talle ouers en grootouers het met die onlangse onluste terugflitse ervaar van noodtoestande en geweld in die aanloop tot 1994 se verkiesing.

Dit het gevoelens van vrees en hulpeloosheid by mense veroorsaak. Lachman sê die gebeure het mense getraumatiseer en hulle soos “hulpelose toeskouers” laat voel omdat hulle moes toekyk hoe verwoesting en geweld om hulle ontvou.

“Wanneer jy magteloos voel, probeer jy ’n sin van beheer herwin,” verduidelik sy.

“Een manier is om die heeltyd inligting te probeer inwin.”

En dit verduidelik hoekom soveel mense in dié tyd heeltyd voor hul TV of selfoon vasgenael was. Hoewel dit goed is om ingelig te wees en te weet waar gevaarpunte is, kan die deurlopende blootstelling aan slegte nuus jou traumatiseer. Dit kan ook uiteindelik ’n nadelige invloed op jou kinders en naastes hê.

Lachman praat spesifiek oor die uitwerking van “doemblaai” – die koorsagtige blaai deur sosiale media en nuuskanale op soek na die nuutste inligting.

“Mense sien hoe die chaos en geweld op hul selfoon- en rekenaarskerm afspeel, maar hulle kan niks daaraan doen nie.

“As jy byvoorbeeld in Johannesburg bly en jou geliefdes sit ver weg, midde-in die onluste, raak die gevoel van magteloosheid net soveel meer,” benadruk sy.

Verstaan jou reaksie

Dr. Kobus Roux, ’n psigiater van Benoni en ook ’n lid van die Sasop-raad, sê dit was heeltemal normaal om in die tyd van plundering en onluste spanning en kommer te ervaar.

Hy skryf die emosies toe aan ’n “evolusionêre oorlewingsdrang” en sê jou lyf en brein het ontwikkel om die gevare om jou te identifiseer sodat jy ’n plan of strategie kan beraam om dit uit te oorlê of om daarvan te ontsnap.

“Evolusie het spesifieke stelsels in ons liggame ingestel om op potensiële of onmiddellike bedreigings te reageer. Wanneer jy aan gevaar of ’n bedreiging blootgestel word, stel jou liggaam eerste adrenalien vry wat jou lyf dadelik voorberei om te veg of om te vlug.”

Jou hartklop versnel sodat daar meer bloed na jou spiere gepomp word ter voorbereiding van veg of vlug. Jou spysverteringstelsel word onderbreek (daar is nou belangriker dinge wat aandag verg) en jy stel meer glukose vry vir ekstra energie, verduidelik hy.

Saam met die adrenalien word kortisol vrygestel wat jou bloeddruk verhoog en jou immuunstelsel modereer.

“Dit is alles gesonde reaksies wanneer jy spanning ervaar, mits jou liggaam uiting aan die response kan gee totdat die besef kom die bedreiging is verby en dat dit weer normaal kan funksioneer.”

Dis wanneer jy aanhoudend na beelde en berigte van geweld en slegte nuus kyk dat jy heeltyd die veg-of-vlug-reaksie aktiveer – iets wat psigiaters ’n “kringloop van negatiewe terugvoering” noem.

“Dit beteken jou liggaam en brein is heeltyd besig om voor te berei vir ’n bedreiging en skei ’n oormaat van adrenalien en kortisol af.

Op lang termyn kan ’n oormaat van die twee hormone stresverwante toestande, soos outo-immuuntoestande en geestesiektes soos posttraumatiese stresversteuring en kliniese depressie, veroorsaak.

“Die kringloop van negatiewe terugvoering beïnvloed ook jou brein se serotonienproduksie.

“Wanneer jou liggaam dus ’n oormaat van adrenalien en kortisol produseer omdat hy dink hy’s konstant in gevaar, gaan jou serotonienvlakke uiteraard val,” verduidelik Roux.

Serotonien is ’n lewensbelangrike hormoon en reguleer onder meer jou buie en emosies en help met jou geheue en kognitiewe vaardighede.

Sit dit af! Sit dit af!

Terugskouend besef ek dat my ouers nie in die aanloop tot die 1994-verkiesing doelbewus besluit het om salig onbewus van hul omstandighede te leef nie.

Hulle het hulself deur die nuus (koerante en TV) laat bemagtig en lei, maar op die ou einde besluit dat die lewe moet voortgaan.

Met die talle inligtingsbronne wat vandag beskikbaar is, lyk dit na ’n moeilike(r) besluit. As jy jouself deurlopend blootstel aan die nuutste inligting oor elke ramp en pandemie wat die wêreld tref, is dit dalk tyd vir ’n nuusdieet.

“Beperk jou blootstelling aan nuus en sosiale media en wees lugtig vir alarmistiese Whats­App-stemboodskappe wat klakkeloos aangestuur word, sonder enige verifikasie van die inhoud,” is Lachman se raad.

“Let ook hoe jou nuus jou gesin raak. As ouer moet jy ook weet dis jou plig om die nuus aan jou kinders te verduidelik en te filter sodat hulle nie sekondêre trauma deur jou ervaar nie.”

Dit beteken nie jy moet ’n nuusverbod in jou huishouding instel nie.

Kies een of twee betroubare nuusbronne – ’n koerant, nuuswebwerf of ’n radiostasie se nuusbulletin in die oggend en dalk ’n TV-nuusbulletin in die aand.

Kies ook die tye wanneer jy nuus gaan luister, kyk of lees, maak dit deel van jou roetine en plaas ’n tydsbeperking daarop.

Rituele en strategieë

Terugskouend besef ek ook die oefen van ’n noodplan by die skool het bloot vir ons as kinders ’n sin van veiligheid gegee.

Dit was vir my ’n ritueel, iets wat ons gedoen het waarmee ons onsself kon beskerm.

Die plakkate teen die mure met die terroriste-wapens was so alledaags soos om eers links en regs en dan weer links te kyk wanneer jy die straat oorsteek. Of om ’n bruin huisslang van ’n rinkhals te kan onderskei, ter wille van oorlewing.

Ierse kennisse wat tydens die sogenaamde Troubles in Noord-Ierland grootgeword het, vertel eenderse staaltjies. Hulle het as skoolkinders byvoorbeeld geleer hoe om uit te kyk vir motorbomme.

Amerikaanse vriende se kinders leer hoe om hulself te beveilig in geval van ’n massaskietvoorval by die skool.

Kinders wat in die townships grootgeword het, het geleer om op sekere maniere te fluit om hul ouers te waarsku wanneer die ou SAP se geel vangwaens in die omgewing is.

Dis rituele en strategieë wat kinders by die skool en hul ouers leer om ’n normale kinder­lewe in abnormale tye te probeer beleef.

Lewis is ’n senior-redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Carla Lewis  |  Angs  |  Koronavirus  |  Kenners  |  Grens  |  Kinders  |  Noodtoestand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.