Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maak stadiger die pas vir meer van wondertyd
Wilhelm Jordaan

Rugbykenners sê dikwels spelers moet leer om soms die spel stadiger te maak sodat die wedstrydplan afgerond en doeltreffend uitgevoer kan word.

Dít dink ek terwyl ek Maandagoggend in ’n inkopiesentrum “sake doen”. Summier vertraag ek my pas en siedaar: My “wedstrydplan” verloop glad, in stadige(r) gepensioeneerde aksie.

Wat ’n mens laat vra: Hoekom laat ons, as spelers in die lewenspel, toe dat tyd en spoed so ’n meedoënlose tiran word?

Daar is sekerlik baie redes, maar vir seker het spoed deel van ’n soort magsmotivering geword. Jy wil gereken word, die doeltreffende grootmeneer wees, en daarin speel geld (die versameling en die besteding daarvan) ’n belangrike rol. En ons taal weerspieël dit.

Handevrywend en met winsjagse oë praat ons van teikens wat bereik moet word; mense se multivaardighede en veeltaakgerigtheid; van tyd-en-bewegingsdoeltreffendheid; en ’n tipe A-persoonlikheid as die waarmerk van prestasie en produktiwiteit. Dit is die waarde van jou as mens, bereken in stygende grafieke en klinkende munt.

Dié “A”-mens (hoe sug ek nou ook “Aa mens!” á la Breyten Breytenbach) is ’n ongeduldige wese wat aangejaag word deur die brandhout van frenetiese ywer – in denke, spraak en beweging. Die A’s kan nie toustaan verduur nie, toet vir dié wat te stadig ry en wys maklik die middelvinger, voltooi mense se te stadige sinne, praat vinnig soos afslaers en TV-programaanbieders, en raak ergerlik oor onbetydsheid.

Hulle spog ook graag met hul “koronêre leefstyl” (“My dag is 30 uur, jy weet!”) en sien neer op alles wat stadig in rat kom, byvoorbeeld die “suurstofdiewe”, soos pensioenarisse en ander oumense soms neerhalend genoem word.

In die trant van Jan Rabie se weersinwekkende kortverhaal “Drie kaalkoppe eet tesame” lyk die A-mens se spoedgedrewenheid en

Dié “A”-mens is ’n ongeduldige wese wat aangejaag word deur die brandhout van frenetiese ywer.

tydvratigheid só: Drie A’s sit aan tafel. Voor elk is ’n drankie, ’n bord kos en ’n hopie elektroniese apparate. Elkeen het ook ’n slimfoon byderhand en byderoor. Onophoudelik word oproepe gemaak en boodskappe versend en ontvang, terwyl die kos koud en die drankies (en die boordjies) warm word.

So sit die drie A’s daar, aangedryf deur die gulsigheid van spoed en tyd, altyd energiek en paraat in die woelige wandelgange van die uitstrekkende kuberkoninkryk.

Maar so haastig leef is nie noodwendig ’n bate nie. Navorsing wys op ander moontlikhede. Sukses word dikwels bepaal deur mense wat nadink en stadiger en rustiger in hul doen en late is.

Dit beteken nie hulle is lui of traag nie, eerder dat hulle die deug insien van haas jou langsaam, wees tydsaam betyds, leef met oorwoë toewyding.

Dit veronderstel dat daar tyd vir wondertyd is. Sodat jy, soos TT Cloete skryf in sy gedig “Opruim”, jou ook kan besig hou met die “gelukkige, bedrywige, onbeduidende, gewone wonder van spek en bone”.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Pas  |  A-Mens  |  Tyd  |  Leefstyl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.