Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maak vrede en vind vreugde

Geluk lê nie in die goeie ou dae, die strewe om vir ewig jonk te bly of om op te tree asof jy steeds in jou twintigs is nie, skryf Johannes de Villiers. Vreugde lê eintlik reg voor ons in die alledaagse.

As hulle in China oor ’n bejaarde mens praat, fluister hulle byna uit eerbied. In die Chinese kultuur is die stereotipiese prentjie van ’n bejaarde ’n waardige ou Zen-meester met ’n lang grys baard of ’n wyse ou matriarg wat oor haar familie se sedes waak.

Vergelyk dit ’n bietjie met hoe ons in Afrikaans oor ouer mense praat. Ons sê iemand kla “soos ’n ou vrou met ’n nat broek”. Ons vertel verspotte verhale oor wat “ou bokke” als tydens die krisis van hul middeljare aanvang. Mense sal jou deesdae vinnig vertel hulle voel beledig om as “oom” of “tannie” aangespreek te word.

Ons het ’n samelewing geword waarin ouderdom as iets pateties of bespotlik gesien word. Iets wat jy vermy as jy kan.

Soms gebeur dit baie subtiel in die manier hoe ons praat. Ons sal opmerk “in my dae het ons na grunge-musiek geluister” of “in my dae was disko die in-ding”, asof “my dae” iewers in die 1980’s of 1990’s was en als sedertdien ’n onopwindende gesloer is wat ons maar verduur terwyl ons wag om dood te gaan.

As jy 40 jaar oud is, is jy statisties waarskynlik sowat halfpad deur jou lewe. Maar hoeveel 40-jariges voel regtig daar is ’n 50%-kans dat die beste liedjie wat hulle ooit gaan hoor, die beste soen wat hulle ooit gaan soen, die beste vriendskappe wat hulle ooit sal aangaan en die beste stokperdjie wat hulle ooit gaan aanleer iewers in die toekoms lê. Nee, almal neem maar aan die goeie goed het iewers in jou glinsterende tiener- of twintigerjare gebeur en die res van jou lewe is vaal in vergelyking.

Kortom, ons is ’n samelewing waarvan die heersende kultuur anti-veroudering is.

Nou raak dinge interessant. Die Israelse positiewe sielkundige Tal Ben-Shahar, een van die ghoeroes van sy vakgebied, skryf oor wat met ou mense gebeur in beskawings wat onderskeidelik anti- en pro-veroudering is. Hy het bevind in plekke soos die VSA, waar oudword vir mense ’n tragedie is, is daar onder bejaardes veel meer demensie en geheueverlies as in lande soos China, waar mense na oudword uitsien. As ’n kultuur op ouer mense neerkyk, raak die lede van daardie kultuur ook meer seniel en vergeetagtig namate hulle ouer raak.

Dié bevinding maak allerlei nuwe moontlikhede oop. Wat as jy jou kultuur pro-veroudering kan maak? Nie net sou ons ouer mense dan meer waardeer nie, maar ouer mense sou meer uit die lewe kry.

Al wat agter Vairagya se rug is, is sy twee voete – hy is nou 65 en kan albei bene agterom sy nek krul, asook ’n volledige split doen en op sy hande staan.

En indien dit nie moontlik is om die hele kultuur se benadering tot oudword te verander nie, wat as jy net jou eie ingesteldheid kon omswaai om na oudword uit te sien eerder as om dit te vrees? Die gevolg sal waarskynlik wees dat jy ook beter sal lyk en voel wanneer die onvermydelike grys hare en plooie opduik.

Verbeel jou dit. Dalk gebruik jy die geld wat jy andersins aan plastiese chirurgie sou bestee eerder vir voortgesette onderwys. Dalk pak jy op 55 mal nuwe avonture aan, soos om Engels oorsee te gaan gee. Dalk leer jy op 65 ’n nuwe taal. Dalk skryf jy op 75 in vir ’n graad.

Paul Cézanne het op 56 begin skilder. JRR Tolkien was 62 toe die eerste deel van The Lord of the Rings gepubliseer is. Een van my persoonlike helde, Vairagya Ranko, is ’n Serwiese jogameester wat op die ouderdom van 50 joga begin doen het, ’n ouderdom waar baie mense glo jou mees buigbare jare is agter jou rug. Al wat agter Vairagya se rug is, is sy twee voete – hy is nou 65 en kan albei bene agterom sy nek krul, asook ’n volledige split doen en op sy hande staan.

Is jy régtig te oud om daai ding te doen waaroor jy al moed opgegee het?

Die idee dat alle goeie dinge voor die ouderdom van 30 gebeur, lei tot ’n verwante wanopvatting: Dit laat mense glo as jy ná 30 gelukkig wil wees, moet jy aanhou optree asof jy iets in die 20 is. Jy moet op 40 soos ’n 21-jarige drink, jy moet op 50 dieselfde borste en boude as ’n 21-jarige hê, jy moet op 60 net so gereeld partytjie hou as iemand wat pas uit hul tienerjare ontsnap het.

Hoekom mense dink geluk is net moontlik as hulle die mees verwarrende, emosioneel onstabiele tydperk in hul lewe uitrek, weet nugter. Dit maak jou blind vir die voordele wat ’n gryser wysheid saambring.

Blydskap

Dit is pateties om teen oudword te stry. Dit is die een ding wat niemand kan vermy nie. As jy ophou om dit weg te wens, begin jy besef dat oudword ’n verskeidenheid voordele inhou. Jy is wyser. Jy is bes moontlik ryker. Jy is meer emosioneel stabiel. Jy gee nie meer om wat mense van jou dink nie. Jy is minder spuls.

Die legendariese sielkundige William James het dit opgesom: “Daar is min dinge so bevredigend soos die dag dat jy ophou probeer om jonger en maerder te wees.”

Onlangs is ek genooi om ’n slypskool oor meditasie by die Stellenbosse Woordfees, ’n kunstefees wat elke Maart op dié studentedorp aangebied word, aan te bied. Dit sou ’n geleentheid van drie uur wees waartydens ek vir mense die basiese tegnieke van meditasie sou wys. Mense van alle ouderdomme het opgedaag, maar soos dikwels was die gryses in die meerderheid.

Drie middeljarige dames was vanaf die begin van die oggend giggelrig; ’n mens kon sien hulle geniet die kuier op Stellenbosch. Hulle het van Kaapstad se noordelike voorstede oorgery en was vir die dag ekstra bont aangetrek. Ek was nuuskierig om te hoor wat maak hulle so vrolik. Uiteindelik het een van hulle my vertel.

Nostalgie is ’n vreemde ding. ’n Mens neig om selfs die goorste tye uit jou verlede deur ’n rooskleurige lens te onthou.

“Ons is mal daaroor om vir die Woordfees na Stellenbosch te kom,” het sy gesê. “Ons sê nou net vir mekaar dis nes jool uit ons jong dae, maar lekkerder, want ons drink beter wyn en ons kan nie swanger raak nie.”

En toe skater sy vir haar eie grappie.

Só wil ek oud word.

Nostalgie is ’n vreemde ding. ’n Mens neig om selfs die goorste tye uit jou verlede deur ’n rooskleurige lens te onthou. Die meerderheid mense sal jou vertel hul jeug was die lekkerste tyd van hul lewe, selfs al het hulle in ’n asgat grootgeword.

Maar wat sê die data?

Die antwoord is wel . . . soort van.

Johannes de Villiers

Volgens die positiewe sielkundige Catherine Sanderson volg ’n mens se blydskapvlakke deur jou lewe ’n sogenaamde U-kurwe. Dit begin hoog, val laag, en styg dan weer skerp. In mense se laat tienerjare en vroeë twintigs is hulle meestal uitgelate gelukkig, maar ná dié ouderdom val hul blydskapvlakke gaandeweg totdat dit in hul veertigs (die tyd van maksimale werk- en familiestres) ’n laagtepunt bereik. Maar dan gebeur iets onverwags. Ná 50 begin mense se blydskap weer toeneem en bo 60 is mense gemiddeld weer net so gelukkig as op 25 – ondanks hul seer gewrigte en katarakte.

Die geluk van 60-jariges verskil van jong volwassenes s’n. Jong mense se blydskap word deur piekervarings gekenmerk – om op harde musiek te dans, om op ’n motorfiets te ry, om met ’n sexy nooi of kêrel te vry, om bier te drink, om aan adrenaliensport deel te neem. Daarenteen vind ouer mense hul vreugde in meer alledaagse dinge: die gelag van kinders iewers in die buurt, die lig wat deur ’n gordyn val, die smaak van tee.

In die lewe is daar veel meer alledaagse momente as piek-ervarings. So, as jy jou vreugde in die alledaagse kan vind, gaan jy veel meer vreugde beleef. En dít is ’n kuns wat ’n mens uitermate met die ouderdom bemeester.

  • Uitgewer: Human & Rousseau. ISBN: 9780798179775
Meer oor:  Johannes De Villiers  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.