Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maak wêreld ’n vriendeliker plek vir diabete

Ná vier dekades waarin hy soveel kon eet waarvan hy wou net wanneer hy wou, is Gert van der Westhuizen nou aan diabetiese fudge van tuisnywerhede en onaptytlike broodrolletjies met moeë slaai uitgelewer. 

Gert van der Westhuizen

Maandag 14 November was in alle opsigte blou.

Behalwe vir die gewone Maandag-blues, was dit ook die internasionale dag vir diabete waarop bekende geboue wêreldwyd onder meer gewoonlik in blou lig gebaai word om mense van dié siekte bewus te maak.

Ek twyfel regtig of sulke foefies mense werklik sal oortuig om anders te lewe sodat hulle nie ook later diabetes ontwikkel nie. Sal dit nie eerder help om gereeld wyd en syd te verkondig dat diabete dikwels in ’n daaglikse stryd gewikkel is nie?

Die voortdurende gesukkel om nie te veel of te min van die verkeerde of regte kos te eet nie en net genoeg en nie te veel te oefen nie, plaas soveel druk op diabete dat van hulle depressie ontwikkel.

Dinge word nóg moeiliker vir hulle gemaak in ’n wêreld wat benewens die jaarlikse blouligfoefies diabete nie juis baie tuis laat voel nie. Dit het ek baie gou agtergekom nadat ek my lewensgewoontes moes verander ná bykans vier dekades waarin ek soveel kon eet van wat ek wou net wanneer ek wou.

Vet is allesbehalwe jou vriend

Soetgoed was skielik uit die bose. Baie winkels spog wel met “plaasvervangers” vir ordentlike soetgoed. Behalwe dat dit heelwat duurder is as die normale, is dit dikwels selfs skadeliker.

Dit mag dalk nie suiker bevat nie, maar dikwels is die vetinhoud van byvoorbeeld “diabetiese koekies” tot ses keer so hoog soos die toegelate vetinhoud van 5 g per 100 g.

Vet is, uiteraard, allesbehalwe jou vriend as jy ’n diabeet is. Die meeste van die kere is dié “plaasvervangers” bloot oneetbaar.

Ek het een keer tot my groot vreugde “diabetiese fudge” in ’n tuisnywerheid opgespoor. Maar ai, dit het soos klam saagsels geproe. (Gelukkig was ek nog nooit só honger dat ek saagsels moes eet nie en weet dus nie hoe dit proe nie, maar ek is vas oortuig saagsels proe soos daai fudge! Nes ek moeilik oortuig sal word karton smaak nié nes die diabetiese beskuit wat ’n mens soms raakloop nie.)

Die smaakkliere word ook nie eintlik geprikkel deur van die ander produkte wat glo vir diabete geskik is nie en gewoonlik onder die vaandel van light of low GI hul verskyning op die winkelrakke maak: light koeldranke wat later zero geword het, light bier, light tamatiesous, light blatjang, light mayonnaise . . .

Enigiets light of low GI wat wel eetbaar is, het boonop die nare gewoonte om vir ’n maand of drie op die rak te pryk net om dan onverklaarbaar en vir ewig te verdwyn.

Hoe vervang jy in elk geval pap, pasta, rys en brood? (’n Ete, hoor ek die Italianers sug, is tog nie ’n ete sonder brood nie. En low GI-brood sal nie sommer in ’n ware Italiaanse broodmandjie beland nie.)

Onaptytlike broodrolletjie

Kitsetes in ons gejaagde wêreld met sy ongereelde werkure is nóg ’n probleem. Wat is beskikbaar wat goedkoop, voedsaam en skadeloos vir jou gesondheid is wat jy nie oral met jou hoef saam te dra nie?

Bitter min.

Terwyl jou kollegas aan ’n porsie slaptjips kan weglê wat R12 kos, loer jy maar na die onaptytlike broodrolletjie met sy moeë blaarslaai wat teen R25 per stuk verkwansel word. (Jy kan ook ’n voorbereide gesonde ete vir tussen R30 en R40 saampiekel en in ’n mikrogolfoond druk – as een beskikbaar is.)

Kafeterias en baie restaurante sukkel ook soms om kos voor te berei wat werklik geskik vir diabete is. Die enigste voordeel as jy ’n lugredery laat weet jy is ’n diabeet, is dat jy jou kos kry voor die ander passasiers bedien word. Maar geskik vir diabete, het ek agtergekom, is dit nie juis nie.

Baie dinge in die wêreld sal dus nog moet verander om diabete meer tuis te laat voel.

Dit is darem stadig maar seker besig om te gebeur met al hoe meer mense wat al hoe meer bewus is van wat hulle, én ander, behoort te eet. Raad is ook meer alledaags met resepteboeke en pamflette wat gesonder, dog nog soms omstrede en selfs teenstrydige, eetgewoontes voorstel.

Hopelik sal dít alles help om van die wêreld gouer ’n vriendeliker plek vir diabete te maak. Want uiteindelik sal nie net hulle daarby baat vind nie; dit sal die hele mensdom ’n groot guns bewys.

* Gert van der Westhuizen is Beeld se sportredakteur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.