Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maalkolk van onenigheid
Faiez Jacobs, die ANC se Wes-Kaapse provinsiale sekretaris, en Ebrahim Rasool, die ANC se Wes-Kaapse verkiesingshoof, by ’n nuuskonferensie vroeër vandeesmaand. Foto: Misheck Makora | daily sun

Gegewe die nuutste woelinge in die Wes-Kaapse ANC blyk dit dié party op provinsiale vlak – net soveel as die DA op nasionale vlak – skiet homself in die voet, skryf Heindrich Wyngaard.

In een van sy opstelle in Diary of a Bad Year skryf die Nobel­prys­wenner J.M. Coetzee oor die kern van die demokrasie: Dit is veronderstel om die oordrag van mag te wees, of iets in dier voege, aan die hand van verkiesingsuitslae eerder as deur gewapende konflik.

Die afgelope algemene verkiesing was weer eens ’n voorbeeld van hoe die demokrasie in Suid-Afrika sedert die totstandkoming van die nuwe bedeling by die stembus geseëvier het – selfs al het by die 30 stuks partye (uit die 48 partye op die stembrief) oor probleme by stemlokale klagtes by die Verkiesingskommissie ingedien.

Maar almal wat behoort te weet, selfs die howe, stem saam dat selfs al sou daar in uitsonderlike gevalle dubbelstemme uitgebring gewees het, sou dit geen beduidende invloed op die verkiesingsuitslag meebring nie.

Naas die verbeterde prestasies van die EFF (44 setels in die Nasionale Vergadering teenoor 25 in 2014), asook die IVP (14 teenoor 10) en die VF Plus (10 teenoor 4), was dit die ANC se 230 setels teenoor 249 in 2014 en die DA se 84 teenoor 89 wat die tonge los het.

Oorgenoeg slaangoed

Dit is veral die DA se onvermoë om munt te slaan uit die warboel in die ANC wat vir kopkrap gesorg het.

Hulle sou nie kon vra vir ’n teenstander wat méér teen die toue was as die Zuma-voos regerende party nie, maar die DA was eerder vasgevang in sy eie interne struwelinge oor beleid en die skynbaar nimmereindigende Helen Zille-manewales op Twitter.

Dít wys in sowel die nasionale as die Wes-Kaapse uitslae, waar die DA steeds regeer, maar met ’n verminderde meerderheid van 55,58% teenoor 2014 se 59,38%.

In teenstelling hiermee het die ANC onder die leierskap van pres. Cyril Ramaphosa jou waarlikwaar alles wat sleg was van die Zuma-era – en wat hulle by die stembus moes kelder – omgesit in ’n verkiesingslagspreuk.

Indien Zuma korrup was, sou hierdie nuwe ANC korrupsie nek omdraai; indien die Msholozi-regering swak dienste gelewer het, sou dié Ramaphosa-een dienslewering prioritiseer.

En kyk maar, verklaar die party in volblad-koerantadvertensies, ons het onder meer die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping aan die werk gekry.

Maar steeds was daar genoeg slaangoed oor vir die opposisie, soos die teenwoordigheid van die politiek-almagtige Ace Magashule in die ANC se hoofkwartier by Luthuli-huis.

Genoeg is al berig oor sy beweerde betrokkenheid by ongerymdhede dat hy ongetwyfeld die teiken moes wees vir aanvalle op die ANC, tensy die charisma van Ramaphosa dalk te swaar geweeg het.

Rasool vs. Jacobs

Dit skyn nou asof Magashule uiteindelik selfvernietiging binne die ANC tot gevolg gehad het, en die “hernuwingsprojek” tot binne die Wes-Kaap gekelder het.

Of dit is die indruk wat gelaat word deur die brief wat Ebrahim Rasool, Wes-Kaapse verkiesingshoof, aan die party se top-ses-leiers geskryf het.

Nie net sou Magashule glo met uitsprake op verkiesingsbesoeke aan die Wes-Kaap die “nierassige projek” skade aandoen nie; hy het hom duidelik aan die kant van ’n bepaalde groepering in die plaaslike verkiesingslinie geskaar.

Dié groepering word gelei deur die provinsiale sekretaris, Faiez Jacobs, teenoor die Rasool-groepering.

Magashule was, afgelei van Rasool se brief, duidelik daarop ingestel om die provinsiale sekretaris se beheer bó dié van die verkiesingshoof te stel.

Dit verklaar ook sy koppestampery met die ANC se nasionale verkiesingshoof, Fikile Mbalula, oor tot hoe ’n mate Ramaphosa as individu vir die ANC verkiesingsteun gewen het vergeleke met die party se kollektiewe leierskorps.

Die uiteinde was dat die ANC weens sy voortslepende magstryd en die nadraai van die Zuma-vernietiging nie net nasionaal nie, maar ook in die Wes-Kaap verkiesingskade gely het – 28,5% teenoor 32,9% in 2014. Een dit veral onder sy tradisionele ondersteuners, soos wat Jacobs self erken het.

Die narre tree aan’

Geen einde is in dié stadium in sig vir wat ’n jare lange ANC-lid ’n “sirkus” noem nie.

“Die narre tree nou een vir een aan vir hul performances,” skerts dié eens invloedryke lid.

Pas is die provinsiale tesourier, Maurencia Gillion, geskors oor ’n omstrede verkiesingskenking aan die party van die sakeman Iqbal Survé, net om uiteindelik in haar pos herstel te word en as lid van die Nasionale Raad van Provinsies beëdig te word.

Hierna is Lionel Adendorf, lid van die provinsiale ANC-bestuur verantwoordelik vir kommunikasie, uitgeskop – ’n besluit wat hy nou beveg.

En gister kondig Rasool aan dat hy nie sy plek in die Wes-Kaapse wetgewer gaan opneem nie.

Dit sou nooit sy bedoeling wees om provinsiale wetgewer toe te gaan nie, lui ’n verklaring, net maar om die ANC met die verkiesing te help. Nou sal hy voortgaan om te help om beleggings na die land te lok uit markte waarmee hy goed vertroud is.

In hierdie warboel is die taak Cameron Dugmore opgelê om die ANC in die wetgewer as amptelike opposisie te lei en te versterk.

Enigiemand wat hom as mens en as politikus ken, weet dat hy ’n harde werker is en oor besliste leiers­eienskappe beskik.

Stryd om hart en siel

Maar fluisterstemme uit die party se strukture gee reeds aanduidings dat die stryd om die hart en siel van die ANC in die Wes-Kaap geensins verby is nie.

’n Provinsiale kongres behoort teen September plaas te vind – en die steunwerwing is glo reeds in volle gang.

Ook in dié konteks word Rasool se naam genoem, met as bondgenoot ’n ander oud-ambassadeur, Shaun Beyneveldt.

In die ander hoek sou Songezo Mjongile, voorheen provinsiale sekretaris, en Mcebisi Skwatsha, voormalige provinsiale leier en adjunkminister, glo stelling inneem.

En dit is in hierdie opsig dat die ANC in die Wes-Kaap voëls van eenderse vere is met die DA op nasionale vlak: Eerder as om voordeel uit die ander se mistastings te trek, ploeter hulle voort in ’n maalkolk van onenigheid.

Die burgery moet asem ophou dat dié wedywering om beheer binne partye sal aanhou om by wyse van betreklik regverdige stemprosesse te geskied, soos wat deur J.M. Coetzee se demokrasie-verwysing vereis word, en dat dit nie sal ontaard, soos wat ons reeds in veral KwaZulu-Natal sien, in “gewapende konflik” nie.

  • Wyngaard is ’n uitsaaier en kommentator oor aktuele sake.
Meer oor:  Demokrasie  |  Anc  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.