Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maar moenie ’n bangbroek wees
Leopold Scholtz

AfriForum het die laaste tyd kwaai deurgeloop omdat hy “polariserend” sou wees.

Swaargewigte soos prof. Adam Habib (rektor van Wits), prof. Elmien du Plessis (regte, Noordwes-Universiteit) en – oudergewoonte – Max du Preez het die organisasie laat les opsê.

Die aanleiding was twee van die leiers, Kallie Kriel en Ernst Roets, se besoek aan Amerika om die ANC se beplande grondonteiening sonder vergoeding onder die aandag te bring.

Maar ook AfriForum se veldtog teen plaasmoorde moes deurloop.

Du Plessis het AfriForum verwyt oor hy plaasmoorde as “volksmoord” beskryf en omdat sy syfers oor die saak oordrewe is. Habib het gesê wat Afri­Forum doen, kom neer op “rassisme”, terwyl Du Preez geskryf het hy merk in die organisasie “ ’n onverdraagsaamheid wat ek laas met die verregses in die jare 80 ervaar het – ’n onverdraagsaamheid wat vandag net sy gelyke in die EFF het”.

In alle billikheid: Om AfriForum en die EFF summier oor een kam te skeer – sak, Sarel! Om die organisasie sito-sito as “rassisties” af te skryf, is só oordrewe dat dit in der waarheid op ’n onwaarheid neerkom.

Ek het nog nooit uit AfriForum se mond gehoor of gelees dat hy plaasmoorde as “volksmoord” beskryf nie.

En ek het nog nooit uit AfriForum se mond gehoor of gelees dat hy plaasmoorde as “volksmoord” beskryf nie. Trouens, Kriel self ontken dit pertinent.

Laat ek onmiddellik toegee: Afri­Forum en Solidariteit moet versigtig wees vir regse ekstremiste. Ek merk soms tendense in hul geledere (en ek druk my baie noukeurig uit) wat in daardie rigting neig.

Maar ek ken die leiding van die beweging goed. Op my pas afgelope besoek aan Suid-Afrika het ek ’n aand met Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, en Alana Bailey, AfriForum se uitvoerende adjunkhoof, gepraat, en van regse ekstremisme was daar by hulle geen sweem nie.

Inteendeel, soos Kriel vandeesweek in die openbaar verklaar het, Afri­Forum erken dat apartheid “ingedruis (het) teen mense se waardigheid op grond van ras” en dat “apartheid verkeerd” was. Wel, waarom gaan die rusie dan nou eintlik?

Suid-Afrika het ’n voorbeeldige demokratiese Grondwet – verreweg nie perfek nie, maar tog – wat veronderstel is om bepaalde regte te waarborg.

Misdaad het handuit geruk – en ja, dit sluit plaasmoorde in.

Dit sluit in die reg op lewe, om eiendom te besit, om billike behandeling van die owerheid te ontvang, om deur die owerheid beskerm te word, asook bepaalde taalregte. Dis alles regte wat in die praktyk glad nie of nouliks deur die owerheid nagekom word.

Misdaad het handuit geruk – en ja, dit sluit plaasmoorde in. Die ANC (wat die staat beheer) is so korrup soos tien en het toegelaat dat ’n stel boewe die staat kaap. Die taalregte wat die Grondwet verleen, word selfs deur die konstitusionele hof skaamteloos vertrap.

Moet dit alles dan maar lydsaam aanvaar word? Moet die breë publiek maar maak soos jong vroue in die Victoriaanse tyd aangeraai is vir ná die huwelik – “Lie back, close your eyes and think of England”? Vroeëre onreg regverdig immers nie huidige onreg nie.

Habib, Du Plessis en Du Preez se standpunt kom hiérop neer: In hemelsnaam, mense, moet asseblief tog nie staan op jul grondwetlike regte nie; julle kan die swart mense dalk kwaad maak! Watter soort begrip wys dit van die demokrasie?

Natuurlik sal dit nie help om verontwaardig op en af te hop en moord en brand te skreeu nie. Jy moet altyd beleefd bly. Maar beleefdheid sluit nie fermheid uit nie. Jy kan die waarheid soos jy dit sien reguit stel sonder om onbeskof te raak, soos die EFF en werklike regse ekstremiste dit doen.

Moenie ’n bangbroek wees nie.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Plaasmoorde  |  Volksmoord  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.