Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maar waar is die planne?

Waarom ontsê ons die jeug van Suid-Afrika hul grondwetlike reg om onderrig gedurende die grendeltydperk te ontvang? En ook die reg om kritieke vaardighede te bekom om ’n werk iewers te kry?

Foto ter illustrasie: getty images

Waar is die plan om die land se jong mense toekomsgereed te maak? Waar is die plan om ekonomiese opbloei en werksgeleenthede teweeg te bring? Of laat ons die jeug aan hul eie lot oor en hoop op een of ander wonderwerk?

Laasgenoemde gaan nié gebeur nie. Die sluiting van skole en die feit dat miljoene van die land se leerlinge vir maande geen onderrig ontvang het nie, hou volgens ’n verslag van die Internasionale Arbeidsorganisasie uiters negatiewe gevolge vir ons jeug in.

Onderwys en opleiding is op groot skaal ontwrig. Die kanse op indiensneming is skraal. ’n Verlies aan inkomste en werkloosheid het ’n negatiewe impak op hul moreel. Die verslag verwys na hulle as die “grendel-generasie”.

Dié etikettering is vir my nie aanvaarbaar nie. Nog minder die donker prentjie wat geskilder word.

Maar as daar nie daadwerklike aksies van stapel gestuur word om ons jeug te prioritiseer nie, is dit ons voorland – ’n verlore generasie van jong mense.

Dus, waar is die plan om ons jeug op ’n deurlopende grondslag toegang tot onderrig en leer te gee?

Jong mense wat private skole bywoon, se onderrig het nooit tot stilstand gekom nie. Private skole maak gebruik van tegnologie en het gevorderde aanlyn stelsels in plek om te verseker dat kinders afstandsonderrig ontvang, take voltooi en deeglik voorberei word vir eksamens.

Om private skole met staatskole te vergelyk, asook die sosio-ekonomiese konteks waarin die oorgrote meerderheid jong mense in Suid-Afrika hulle bevind, is egter nie realisties nie.

Beteken dit egter dat ons die jeug wat in armoede en wanhoop vasgevang is aan hul eie lot moet oorlaat?

Waar is die leierskap om hierdie jong mense se belange op die voorgrond te plaas om seker te maak dat hulle nie verlore gaan nie?

Waar is die empatie? Waar is die leierskap om hierdie jong mense se belange op die voorgrond te plaas om seker te maak dat hulle nie verlore gaan nie?

Leidende akademici, onderwysvakbonde, gemeenskapsorganisasies, kerke en ander belangegroepe moet koppe bymekaar sit om miljoene jeugdiges toegang tot onderrig en leer te gee.

Ja, ons het ’n pandemie op hande in die land. Onderwysers, net soos mediese en ander noodwerkers, is blootgestel. En hulle moet beskerm word. Maar onderwysers in diens van die staat ontvang nog steeds ’n maandelikse salaris.

Miljoene jeugdiges is nie so bevoorreg nie. Omstandighede tuis versleg namate werkloosheid en armoede toeneem.

Om hulle dus die reg tot onderrig en leer te ontsê omdat onderwysvakbonde nie tot ’n vergelyk kan kom nie, óf omdat daar geen aptyt is om ander maniere te vind om onderrig en leer te laat geskied nie, word ’n sosiale onreg gepleeg wat die land vorentoe duur te staan gaan kom.

Christo van der Rheede

Suid-Afrika het ’n jeugdige bevolking, met 20,6 miljoen mense tussen die ouderdom van 15 en 34.

Verder neem jeugwerkloosheid tussen die ouderdom van 15 en 24 jaarliks toe. Dit staan tans op 59%, maar volgens die uitgebreide definisie van werkloosheid staan dit op 70%. Jong mense wat nie in diens is nie of onderwys en/of opleiding ontvang nie, het van 3,3 miljoen in die vierde kwartaal van 2019 tot 3,5 miljoen in die eerste kwartaal van 2020 toegeneem.

Die staat belê jaarliks miljarde in onderwys en opleiding. Universiteitsonderrig het vanjaar R59,2 miljard ontvang en tegniese en beroepsonderwys R10,7 miljard.

Aanlyn onderrig op dié vlak gaan aan. Miljoene laer- en hoërskoolleerlinge se akademiese jaar is egter daarmee heen. En so ook die wil om ’n oplossing vir dié krisis te vind, so blyk dit my.

  • Van der Rheede is adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA.
Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Onderwys  |  Jeug  |  Onderrig  |  Koronavirus  |  Planne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.