SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Mabuza blaas homofobie aan
Amanda Gouws
Amanda Gouws.

Uganda probeer sedert 2009 om wetgewing in te stel wat mense in gay verhoudings tot tronkstraf en/of die doodstraf sal veroordeel. Dié wetgewing gaan nou weer ingedien word.

Die standpunt van ons adjunk-president, David Mabuza, oor dié menseregtevergrype in Uganda is dat Suid-Afrika hom nie by die sake van ’n ander Afrikaland kan inmeng nie. Dit is die holruggeryde beginsel van “nie-inmenging in die soewereiniteit van ander lande”.

Maar blykbaar het dieselfde regering nie ’n probleem met die inmenging deur ander lande, soos Amerika, in die sake van Uganda en Suid-Afrika nie.

Die groot dryfkrag agter die weerstand teen homoseksualiteit in Uganda is sekere fundamentalistiese kerke en die konserwatiewe pro-familie-beweging in Amerika wat ’n homofobiese veldtog in Uganda en ander Afrikalande voer.

Dieselfde inmenging van Amerika se pro-familie-beweging is nou te bespeur in Suid-Afrika waar Freedom of Religion en die Family Policy Institute met hul verbintenisse in Amerika die nuwe omvattende seksvoorligtingsleerplan van die regering met hul pro-familie-beleid teenstaan.

Hulle plaas die fokus op die kerngesin (van pa en ma in ’n heteroseksuele verhouding) en verwerp enige ander gesinsvorm, soos gay-gesinne, enkelouer- of poligamiese gesinne (wat deel van Afrikakultuur is) as onnatuurlik. Wat dit doen, is om homofobie en onverdraagsaamheid aan te vuur.

Hierdie onderrig word nou geëtiketteer as radikale seksuele en gender-ideologieë, die bevordering van losbandigheid en riskante seksuele gedrag.

Die nuwe leerplan poog om leerlinge die kennis te gee om meer ingeligte besluite te neem oor voorbehoeding, en instemming tot seksuele verhoudings, aangesien daar in 2018 altesaam 97 143 tienerswangerskappe was.

Hierdie onderrig word nou geëtiketteer as radikale seksuele en gender-ideologieë, die bevordering van losbandigheid en riskante seksuele gedrag.

Nog ’n groep, Family Watch International, het netwerke in Nigerië, Kenia en Ghana, waar homoseksualiteit as ’n aanslag op die gesin uitgebeeld word.

Die hoë voorkoms van tienerswangerskappe het ’n disproporsionele impak op die onderrig van meisies, wat skool moet verlaat en selde ná die geboorte terugkeer. Die skoolloopbane van seuns wat vir die swangerskappe verantwoordelik is, word nie onderbreek nie.

Suid-Afrika het die Konvensie oor die Eliminering van alle Vorme van Diskriminasie Teen Vroue (CEDAW) onderteken en bekragtig. Ons het ook die Afrika-menseregtehandves en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se Deklarasie oor Gender en Ontwikkeling. Ingevolge hierdie verdrae onderneem die regering om die regte van vroue en ander minderhede soos gays, lesbiese vroue, transgender en interseks mense te beskerm. Suid-Afrika het ook die doodstraf afgeskaf.

Maar volgens Mabuza kan Suid-Afrika homself nie moreel hoër as ander Afrikalande ag nie. Dit sal glo arrogant wees. Dit is dus aanvaarbaar dat Uganda se regering gay mense tot die dood veroordeel of toelaat dat hulle aan haat-spraak en -misdaad onderwerp word.

Mabuza het blykbaar vergeet dat ander lande se inmenging by Suid-Afrika se apartheidsbeleid ’n reuse-bydrae tot die val van apartheid gemaak het. Die opvatting dat Afrikalande hulle nie by mekaar se sake kan inmeng nie, dra by tot die persepsie dat Afrika ’n “basket case” is wat deur despote regeer word.

Suid-Afrika het nie Zimbabwe tot orde geroep toe daar grootskaalse menseregteskendings was nie. Noudat Zimbabwe in duie gestort het, moet ons die duisende ekonomiese vlugtelinge van daar af absorbeer.

Mabuza se uitspraak bevorder homofobie. As ons homofobie in Uganda kan goedkeur, hoekom nie hier nie?

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Onderwys  |  Homofobie  |  Seksvoorligting  |  Seksuele Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.