Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Macron se lesse vir Cyril
Die Franse president, Emmanuel Macron, wie se bewind ook deur populisme bedreig word .Foto: argief

Pres. Cyril Ramaphosa is tans ons beste hoop om die epidemie van goedkoop populisme in Suid-Afrika se politieke kultuur te stuit. Maar dit kan nét gebeur as sy party ’n klinkklare oorwinning in volgende jaar se algemene verkiesing behaal.

Ramaphosa het dalk vele tekortkominge, maar ek dink ons het genoeg rede om te aanvaar dat hy toegewyd is om die nasionale etos uit die modder te lig, politieke verantwoordbaarheid en die oppergesag van die reg te herstel, en die gehalte van lewe van burgers oor die hele spektrum te verbeter.

Dit is ’n bitter moeilike taak. Die Zuma-jare het ons staatsbestel diep gekorrupteer en die trajek van politieke en ekonomiese vordering skerp na onder gebuig.

Maar bowenal het Zuma ’n era van populisme, identiteitspolitiek en post-waarheid ingelui wat Ramaphosa se normaliseringsprojek erg kniehalter.

Soos Zuma in die politieke skadu begin verdwyn het, het sy politieke spruit, Julius Malema, sterker na vore getree en, met die hulp van die media, populisme die hoofmaaltyd op die nasionale spyskaart gemaak.

Die EFF se invloed op die ANC se politieke kultuur is daagliks al hoe duideliker.

Die EFF se invloed op die ANC se politieke kultuur is daagliks al hoe duideliker.

Die dinamiese jong Franse president, Emmanuel Macron, is een van die Westerse leiers wat deur populisme en identiteitspolitiek bedreig word. Hy het dit die naweek in ’n onderhoud met CNN erken en sy strategie verduidelik.

Hy besef sy gewildheid is tans op ’n laagtepunt, maar sê hy het vyf jaar voor die volgende verkiesing en sal dan getakseer word op wat hy bereik het. Macron sê werkloosheid en swak ekonomiese groei is ’n teelaarde vir populiste.

Hy sal ongewilde besluite moet neem om die ekonomie meer mededingend en vaartbelyn te maak.

Oordrewe regulering, teenproduktiewe arbeidswette, ’n traagheid om te moderniseer en onderwys en opleiding met ’n skewe fokus gaan sy teikens wees.

Macron sê sy uitdaging is om sy visie vir die transformasie van die ekonomiese bestel deeglik en deurentyd met sy burgers te kommunikeer en te verduidelik. Hy glo in ’n markekonomie, maar ook in maatskaplike geregtigheid.

Hy is ’n sterk voorstander van multilateralisme en internasionale samewerking, maar wil nie hê die globale markte moet Frankryk se lot bepaal nie. Die land se soewereiniteit en nasionale trots, twee van die populistiese slagkrete, is ook vir hom prioriteite.

Macron het ook in ’n toespraak met die viering van die vredesverdrag ná die Eerste Wêreldoorlog in ’n subtiele verwysing na Trump­isme gesê nasionalisme is die vyand van patriotisme.

Werkloosheid en ongelykheid voed populisme en etniese nasionalisme, maar kitsoplossings en sosialistiese drome gaan dit net erger maak.

Ek hoop Ramaphosa het na Macron geluister. Sterk en dapper leierskap is nodig om die grond vir ekonomiese groei en die doeltreffendheid van die staat voor te berei. In die proses is ongewilde besluite onafwendbaar.

Werkloosheid en ongelykheid voed populisme en etniese nasionalisme, maar kitsoplossings en sosialistiese drome gaan dit net erger maak.

Max du Preez

Onderwys en vaardigheidsopleiding is van kritieke belang. Die eindvisie vir ’n nuwe model vir Suid-Afrika moet deurentyd en intensief met die burgery gekommunikeer word.

Die ontbloting van die korrupsie en magsmisbruik van die Zumaïete deur die Zondo- en Nugent-kommissies en ander ondersoeke help Ramaphosa om te kan sê: Dít is waarvoor Zuma, die kastige kampvegter vir radikale swart ekonomiese emansipasie, werklik gestaan het.

Sy dekreet dat die geskel op sakelui oor sogenaamde witmonopoliekapitaal einde moet kry, was ’n goeie stap vorentoe.

Dit lyk of Ramaphosa ’n goeie vennoot in sy nuwe, ietwat onortodokse minister van finansies, Tito Mboweni, gevind het om ’n nuwe, realistiese scenario aan Suid-Afrikaners voor te hou.

Maar as die ANC die verkiesing verloor of selfs net-net wen, gaan die populiste se hand gesterk word.

Meer oor:  Emmanuel Macron  |  Lesse  |  Regering  |  Presidentskap  |  Populisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.