Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mag dít ons nog lank beskore bly

Die regering verdien lof vir die manier waarop hy tot dusver op die korona-pandemie reageer.

Pres. Cyril Ramaphosa het die pandemie Sondagaand verklaar tot ’n nasionale ramp (baie belangrik, nie ’n noodtoestand nie), met gepaardgaande streng stappe om die verspreiding van die virus te stuit.

Teen gistermiddag was daar 62 bevestigde gevalle van mense met die virus in Suid-Afrika, maar geen sterftes is nog aangemeld nie.

Die verklaring van ’n nasionale ramp het op ’n noodvergadering van die kabinet in Pretoria gevolg. Die situasie in Suid-Afrika is nog nie naastenby so erg soos in lande soos Italië en Spanje, of selfs Amerika, nie. Italië word algemeen as die middelpunt van die virus buite China gesien.

Die regering is duidelik bekommerd oor die impak van die virus op die ekonomie, maar konsentreer eers daarop om die verspreiding daarvan hok te slaan. Gevolglik is streng reisbeperkings op sekere buitelandse besoekers geplaas.

Intussen is wetenskaplikes wêreldwyd in ’n wedloop om ’n entstof teen die virus te ontwikkel.

Plaaslike burgers is ook gemaan om nie onnodig te reis nie. Saamtrekke van meer as 100 mense op ’n slag is verbied, terwyl skole van vandag af tot ná die Paastyd gesluit sal wees. Sportbyeenkomste is ook af- of uitgestel. Ramaphosa het dit duidelik gemaak dat dit nie nou die tyd vir halwe maatreëls is nie.

Intussen is wetenskaplikes wêreldwyd in ’n wedloop om ’n entstof teen die virus te ontwikkel. Niemand verwag dat iets op hierdie front voor binne sowat ’n jaar sal gebeur nie.

’n Verblydende kenmerk van Suid-Afrika se stryd teen die virus is dat niemand probeer om politieke munt daaruit te slaan nie. Daar is ook nog nie enige vingerwysery of blaam nie.

Vir die eerste keer in ’n lang tyd lyk dit of Suid-Afrikaners in ’n tyd van ongekende krisis verenig staan. Dit is ’n bedekte seën wat ons gerus in die geheue kan wegbêre. Onthou, daar is nog lewe ná die koronavirus wat baie van ons bestaande probleme met al hul kompleksiteite weer na vore sal bring.

Intussen is dit ook verblydend om te sien dat die regering, anders as in die verlede, nie optree asof net hy die antwoorde en hulpbronne het om die virus te beveg nie.

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het Maandag ’n beroep op alle sektore van die samelewing gedoen om saam te staan en met die stryd teen die virus te help.

Dit sluit in die private sektor, vakbonde, geloofsgemeenskappe en die breë burgerlike samelewing.

Die virus het reeds groot skade berokken op die markte, met etlike miljarde rande se waarde in aandele wat reeds uitgewis is.

Op die ekonomiese front het die minister van finansies, Tito Mboweni, Maandag die versekering gegee dat maatreëls ingestel word om te verseker dat die land die nodige hulpbronne het om die virus te beveg.

’n Moeilike ekonomiese tydperk staar nietemin die land in die gesig. Die virus het reeds groot skade berokken op die markte, met etlike miljarde rande se waarde in aandele wat reeds uitgewis is. Nog groter verliese word verwag. Ook hier moet beleggers waak teen paniek, hoe moeilik dit ook al mag wees.

Suid-Afrika se ekonomie is reeds baie broos en blootgestel aan enige negatiewe ekonomiese gevolge van die virus. Dit is ’n uitgemaakte saak dat die land swaar deur die wêreldwye ekonomiese insinking getref gaan word.

Hopelik sal die regering se pogings om die nasie verenig te hou rondom die stryd teen die virus, aanhou werk. In hierdie stadium lyk dit na ons beste antwoord om die virus die hoof te bied.

Die heersende gees van samehorigheid en samewerking is ongekend in ons jong demokrasie. Dit wys egter wat alles bereik kan word as ons nie na die strydbyle gryp elke keer wanneer ’n krisis opduik nie.

Mag dit ons nog lank beskore bly.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Planne  |  Virus  |  Minister  |  Besmettings  |  Gesondheidsplanne  |  Covid-19  |  Beskermingsplanne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.